06/09/2026
WAT AS DIE KERKDEURE TOEGAAN?
Terwyl die kerkdeure nog oopstaan, leef ons soms asof hulle nooit kan toegaan nie.
Daar is vandag nog ’n plek waar jy saam met ander gelowiges kan vergader. Daar is nog ’n kans om saam te bid, die Woord te hoor, God te aanbid en in Sy teenwoordigheid stil te word.
Maar hoe maklik verruil ons hierdie geleenthede vir die begeertes en besig-wees van hierdie wêreld.
Ons het tyd vir sport.
Ons het tyd vir vermaak.
Ons het tyd vir ons telefone en sosiale media.
Ons het tyd vir ontspanning.
Ons het tyd vir werk.
Ons het tyd vir ons stokperdjies.
Ons het tyd vir ons eie planne.
Maar wanneer dit tyd word om saam met die liggaam van Christus in Sy teenwoordigheid te vergader, is ons skielik te besig, te moeg of te ongeërg.
Sport, ontspanning en ander aktiwiteite is nie noodwendig verkeerd nie. Die vraag is: Wat het eerste plek in jou lewe?
Ons leef asof daar altyd nog ’n Sondag sal wees.
Nog ’n diens.
Nog ’n uitnodiging.
Nog ’n geleentheid om terug te keer.
MAAR WAT AS DIE KERKDEURE TOEGAAN?
Wat as die dag kom wanneer jy wíl gaan, maar nie meer kan nie?
Wat as jy verlang na die prediking wat jy vandag so maklik mis?
Wat as jy verlang na die aanbidding waarvoor jy vandag nie tyd maak nie?
Wat as jy verlang om weer tussen gelowiges te sit, maar die geleentheid wat jy eens as vanselfsprekend aanvaar het, is nie meer daar nie?
Moenie wag totdat iets van jou weggeneem word voordat jy die waarde daarvan besef nie.
Hebreërs 10:25:
“en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom.”
Die kerkdeure staan vandag nog oop.
Moenie leef asof dit vir altyd so sal wees nie.
Maak tyd vir God terwyl jy die geleentheid het.