07/04/2026
Hier is 'n klein kykie na die geseënde Paasnaweek wat ons gehad het.
Ons het afgeskop met ons ons Wit-Donderdag Nagmaalsdiens. By hierdie geleentheid vier ons die instelling van die eerste Nagmaal, saam om tafels, in die donkerte wat meeste van Paasnaweek omhul.
Vrydag het ons by Jesus se kruis stilgestaan deur veral na Psalm 22 te kyk, 'n Psalm wat Jesus self aan die kruis aanhaal, en waarna Johannes in die kruis-verhaal telkens verwys: "My God, my God, waarom het U my verlaat?.." Telkens voel ons só deur God verlaat, alleen, sonder rigting en kans op uitkoms. Die wonder van Goeie Vrydag is dat Jesus self hierdie deel van ons menswees ken, en dit boonop met ons deel.
Sondag het ons Jesus se opstanding gevier, met die woorde "Die Heer het opgestaan! Die Heer het waarlik opgestaan! En ons met Hom!"
Ons het veral gekyk na Maria Magdalena se ervarings by die leë graf - hoe sy ook daar verlate gevoel het van Jesus wat skielik nie net dood is nie, maar heeltemal weg is. Die kosbare beeld wat Johannes as kant-opmerking gebruik deur na Jesus as die tuinier te verwys, help ons met 'n metafoor waarmee ons Jesus se opstanding kan verstaan: Jesus is die tuinier, die een wat selfs soos 'n saadkorrel in die grond gesterf het sodat Hy kan lewe; die een wat ook nuwe lewe vir ons moontlik maak; die een wat kom tuinmaak onder ons, wat lewe bring deur te skep en herskep!
Mag ons in hierdie nuwe koninkrykstuin van Jesus gaan leef as mense van die opstanding!
Dankie vir elkeen wat deur die loop van die naweek by ons aangesluit het. Veral dankie vir elkeen se diensbaarheid en hulp in hierdie tyd. Dit is een van ons gemeente se kern-praktyke om saam te dien, en julle beliggaam dit ten volle!