05/09/2026
Spore van Hoop
5 September 2026
Watter Seun Is Jy?
Lees Matteus 21:28-32
Na die intog in Jerusalem vertel Jesus hierdie gelykenis. Daar was twee seuns. Die pa vra die eerste seun om in die wingerd te werk en kry ‘n bot “nee” as antwoord. Hierdie seun het egter later berou gekry en wel in die wingerd gaan werk. Hy vra ook die tweede seun. wat respekvol antwoord “ja”: maar dit nie gaan doen nie.
Matteus 21:31 “Wie van die twee het gedoen wat hulle pa wou hê?” Hulle sê: “Die eerste.”
Die eerste seun in die gelykenis verteenwoordig dié wat op die kantlyn gestaan het en onwelkom by die volk was – tollenaars en pr******te. Mense wat eers vir God nee sê, ek wil nie, maar dan tog later berou kry en doen wat God vra. Wanneer hulle die wil van hul vader doen, was dit met ‘n oortuigde hart.
Dit is eintlik waar ons ook tuis hoort. Ons wat besef dat verlossing nie uit ons self kom nie, maar dat ons Christus nodig het. Dit is hierdie oortuiging wat my gedrag bepaal en my afhanklikheid van God laat besef.
Die tweede seun verteenwoordig die Joodse leiers – die priesterhoofde, familiehoofde, Fariseërs en skrifgeleerdes. Dis mense wat voorgee dat hulle die Bybel lees, maar nie werklik leef nie. Die Bybel moet by hulle idees inpas. Hulle weet van God, maar laat Hom nie toe in hulle lewens nie. Hulle “eie ek” oorheers alles.
Dit is ironies dat hierdie leiers antwoord dat die eerste seun het die wil van die Vader gedoen het, maar dit het nie werklik tot hulle deur gedring om te verander nie.
Daar is baie tye wat ons ook soos die tweede seun optree. Ons weet van God, maar gebruik eerder 1001 verskonings as om Hom te eer. Ek d**k dat my lidmaatskap, outomaties die hemelpoorte sal oopmaak. Daar sal darem erens ‘n venster wees waar deur ek hemel toe sal kan klim.
Watter een is jy? Ja-broer of Ja-doener?
Amen
Ds Lammert van Rooyen
Gemeente Lichtenburg Oos
Skets met dank aan mev Thea van Rooyen