09/09/2026
Woensdag 9 September
TEMA: Wees nie onsteld nie, die beste kom nog! (Joh.14:1-6)
As Jesus vir sy dissipels sê: *“Laat jou hart nie onsteld word nie”*,vat Hy hulle en ons aandag van alle wêreldse omstandighede, enige moontlike situasie of mag wat ons moontlik kan onstel af weg en Hy vestig dit op God met die woorde: *“glo in God, glo ook in My.”* Jesus praat van God die Vader en van Homself in dieselfde asem. Dis iets wat ons vanaf die eerste verse in die evangelie volgens Johannes kry. In al die “Ek is” uitsprake in dié evangelie, asook in al Jesus se lering in die evangelie volgens Johannes, leer Jesus ons dat Hy doen net wat Hy God sien doen (5:19; 7:16-18; 12:49) Vir wat Jesus verder gaan sê, is dit belangrik dat ons moet GLO, IN DIE GOD WAT HOM IN CHRISTUS DEUR SY WOORD EN GEES AAN ONS BEKENDMAAK. (vgl. Joh. 17:21).
Toe ons kinders was en in die huise van ons ouers gebly het, kon jy nie maatjies vir ‘n naweek oorgenooi het, sonder om jou ouers in die saak te ken nie. Jy moes jou ouers geken het in die saak. God die Vader, God die Seun en die Gees moet ook EEN wees oor wie in die Vaderhuis mag woon en wie nie. Enige onsteltenis kan net verdwyn, of word draaglik, as die Gees my hart oorweldig met die Waarheid oor wie God die Vader is en wie die Seun, Jesus Christus waarlik is. Dis altyd die oogmerk van die Heilige Gees.
Hy’t die hele Bybel laat opskryf sodat ons die VADER kan leer ken vir wie Hy waarlik is. Ook dat ons die SEUN kan leer ken as die Gestuurde Verlosser wat van God kom, dat Hy ten volle God is en dat Hy deur sy kruisiging en opstanding ALLES uit die weg uit geruim het sodat ek met vrymoedigheid na die Vaderhuis toe kan gaan. Die Gees wil nie dat ons die geringste twyfel in ons harte moet hê nie. Daarom, as Jesus sê: *“glo in God, glo ook in My.”*, dwing dit ons harte om ‘n besluit te maak... oor wie God is en wie Jesus is. Sonder hierdie geloof in ons harte, is dit onmoontlik om uit te sien na dit wat God in Christus aan ons belowe (vgl. Heb.11:6).
Die Heilige Gees het reeds baie gedoen en Hy gaan nie ophou om nog soveel meer in ons harte te doen sodat ons met ‘n kinderlike geloof in God… kan antwoord: EK GLO!
Enigste Here, enkele Wese,
ons glo in U met ons hele hart.
Heerlik bely ons, vry-uit getuig ons:
U is vir ewig God en Heer.
U, onbegryplik, U is onsienlik,
altyd dieselfde, oneindig groot.
U is almagtig, wys en regverdig,
U is die bron van alle goed.
Ons eer U, Vader, U is vol liefde;
Ons eer U, Jesus, ons Heiland, Heer;
Ons eer U, Heil`ge Gees, U maak ons lewe nuut;
Drie-enig God, aan U ons eer! (Sb.12-3:1-3)
Ds. HJ Stoltz
Gereformeerde Kerk Ontdekkers