07/09/2026
/ Here, maak my stil genoeg om U ritme te hoor.
Nie die ritme van ’n wêreld wat jaag om eerste te wees, reg te wees, raakgesien te word en die laaste woord te hê nie,
maar die ritme van Jesus.
Die ritme van ’n God wat sterk genoeg is om sag te wees;
wat groot genoeg is om laag te buig;
wat alles besit, maar Homself weggee.
Here, wys my waar my eie stem te hard geword het.
Waar my behoefte om reg te wees belangriker geword het as my roeping om lief te hê.
Waar ek so vasgehou het aan my plek, my planne, my regte en my vryheid dat daar nie meer plek vir iemand anders langs my was nie.
Vergewe my vir die chaos wat my selfsug soms skep.
Leer my dat vrede nie altyd beteken dat ek gewen het nie.
Dat stilte nie altyd swakheid is nie.
Dat terugstaan nie beteken ek verdwyn nie
…en dat om plek te maak vir ’n ander mens soms een van die heiligste dinge is wat ek kan doen.
Jesus, U het nie aan U posisie vasgeklou nie.
U het Uself leeggemaak.
U het laag gebuig.
U het stil geword aan ’n kruis
…en in U oorgawe
het U plek gemaak vir my.
Laat daardie genade nou deur my lewe beweeg.
Wanneer my huis chaoties raak, laat U vrede deur my begin.
Wanneer ’n gesprek warm raak, leer my wanneer om te praat en wanneer om stil te word.
Wanneer my trots erkenning soek, maak my bly wanneer iemand anders raakgesien word.
Wanneer sukses my begin jaag, herinner my aan die harte wat ek onderweg kan verloor.
Wanneer ek die reg hét om iets te doen, herinner my daaraan dat liefde dalk iets anders van my vra.
Heilige Gees, bring U ritme in die deurmekaar plekke van my menswees.
Orden my begeertes.
Versag my ego.
Vertraag my haastigheid.
Heilig my woorde.
Maak my bewus van die ruimte wat ek inneem
en van die mense wat langs my probeer asemhaal.
Laat my lewe nie net verkondig dat ek in Jesus glo nie,
maar laat die manier waarop ek luister dit wys.
Ook die manier waarop ek verskil;
die manier waarop ek konflik hanteer;
die manier waarop ek werk;
die manier waarop ek liefhet;
die manier waarop ek soms kies om stil te word.
Here, maak van my lewe ’n plek waar ander mense iets van U orde kan beleef,
iets van U vrede kan voel,
en iets van U liefde kan herken.
…en wanneer ek weer vergeet en alles oor myself begin maak, bring my terug na die kruis.
Na die plek waar Liefde nie gevra het:
“Waarop het Ek die reg?” nie,
maar:
“Vir wie kan Ek plek maak?”
Maak my meer soos Jesus.
Amen.
~ JI de Wet ~