15/04/2026
Geskryf deur ds Roelf van Niekerk:
"Die las op jou rug is onverstaanbaar deel van God se geskenk aan jou en ons !
Perspektief op die lewe en hoe ons situasies hanteer, maak dit of 'n las of 'n seën op ons lewenspad. Daaraan loop ek en d**k vanoggend op my roete deur die strate.
Sondagoggend toe die seën oor my uitgespreek is, sal ek nooit in my lewe vergeet nie ! Dit was 'n seën !
Sien, ons predikantspaar se seuntjie is gediagnoseer met outisme. 'n Moeilike en uitdagende vraggie om te dra. Hulle doen dit egter met onderskeiding en grasie!
Aanvanklik moes die gemeente ook eers leer om te verstaan, te verdra, en genadiglik, uiteindelik ook te help DRA! Die afgelope jare was daar egter op vele vlakke geestelike groei vir almal rondom hom wat besig is om fisies groter te word.
Gebreekte dinge en mense in 'n gemeente, help ons almal om heel te word. Selfs 'n stukkende orrel se gespook draai nie primêr om onderdele of koste nie, maar word 'n instrument in God se hand om ons te leer om lief te hê en eensgesind te word. Dit leer ons hoe om mooi te wees met mekaar, en op te hou kritiseer en seer te maak. Só sê my dogter altyd, en verder, as die orrel heel/herstel gaan word, gaan iets anders breek om ons te leer om met mekaar oor die weg te kom.
So was en is dit ook met die brose en onskuldige kind in ons midde. Waar daar dalk onkunde, ongeduld, oordeel, en onvanpaste reaksie was by sommige, het dit gaandeweg verander in diepe jammerte, omgee, liefde en begrip.
Daarvan spreek Sondag se seën. Tydens die wegsterf van die slotlied storm hy vorentoe en klim by sy pa op die preekstoel. Maak sy kenmerkende geluidjies, klim op die stoel, en slaan sy arms om sy pa se nek. Amper soos Saggeus se arms, eers om die boom en later om Jesus se nek ! Sonder om te blik of te bloos, gaan sy pa se arms op om die seën van die Vader oor Sy kinders uit te spreek.
Om die seën oor ander uit te spreek met 'n las op jou rug en armpies wat jou keel toedruk vra baie genade en deursettingsvermoë.
Dit herinner ons aan ons vasgespykerde Here wat Sy seën uitspreek oor 'n gebroke wêreld vol van ons eie seer en ongemak. Soveel wat Sondag die seën ontvang het, het in soortgelyke of ander gedaante, dieselfde knellinge om die nek en vrag op die rug.
Ek skryf vir sy pappa:
Liewe Pa,
Dankie vir jou profielfoto. Sal jy dit asb vir my aanstuur.
Ek wou al vroeër vir jou skryf.
Sondag se afsluiting van die diens het getuig van:
Liefde !
Aanvaarding !
Oorwinning !
Genade !
Selfbeheersing !
Verdraagsaamheid !
Die Evangelie !
Dankie !
Dit getuig van God se liefde vir ons, ons liefde vir mekaar, en vir ons kosbare kinders !
God is goed, Hy is altyd genoeg !
Die las op jou rug, is onverstaanbaar God se geskenk aan jou en ons.
Ons is almal op Jesus se rug !"
"EN mag die God van alle genade self, wat ons geroep het tot sy ewige heerlikheid in Christus Jesus, nadat ons 'n kort tyd gely het, julle volmaak, bevestig, versterk en grondves!
Aan Hom die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid! Amen". 1 Petrus 5.