27/08/2026
ALLES VIR HOM
Daar kom ’n tyd wanneer God jou begin stroop van die groot “E” in EK.
Van die EK wat wil beheer.
Die EK wat wil verstaan.
Die EK wat wil besluit hoe dinge moet gebeur.
Die EK wat sê: “Maar wat van my?”
Want wanneer Hy jou roep,
roep Hy hard.
Hy vra nie net ’n stukkie van jou hart nie.
Hy wil alles hê.
Nie ’n bietjie vir Hom en ’n bietjie wat jy vir môre terughou nie.
Nie ’n gedeelte wat jy in ’n kissie wegsteek vir “net ingeval” nie.
ALLES.
Jou hart.
Jou drome.
Jou planne.
Jou toekoms.
Jou beheer.
Jou wil.
Jou hele lewe.
“Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my.”
Galasiërs 2:20
Dit is nie maklik om daardie groot EK weg te kry nie.
Want ons wil graag God volg, maar soms wil ons nog steeds die stuurwiel vashou.
Maar as jy wil word wat Hy vir jou gedroom het, moet jy bereid wees om jou eie ek neer te lê.
“As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, elke dag sy kruis opneem en My volg.”
Lukas 9:23
Soms vat God dinge uit jou hande uit, nie omdat Hy jou wil vernietig nie, maar omdat Hy jou wil leer om heeltemal op Hom te vertrou.
“Vertrou op die Here met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie. Ken Hom in al jou weë, dan sal Hy jou paaie gelykmaak.”
Spreuke 3:5–6
Soms voel dit asof Hy alles om jou wegvat, sodat Hy jou kan leer dat Hy alles vir jou is.
Soms word jy gestroop van mense.
Van planne.
Van sekerhede.
Van gemak.
Van dit waarop jy altyd gesteun het.
En dit maak seer.
Maar daar, in daardie plek waar jy niks meer het om aan vas te hou nie, leer jy om aan Hom vas te hou.
En wanneer jy uiteindelik sê:
“Here, nie my wil nie U wil.”
begin iets diep binne jou verander.
“Hy moet meer word, maar ek minder.”
Johannes 3:30
Die oomblik wanneer jy van JOUSELF gestroop word, kry Christus meer ruimte om in jou te leef.
Hy vorm jou.
Hy herstel jou.
Hy bou jou weer op.
“...totdat Christus in julle gestalte gekry het.”
Galasiërs 4:19
En dan, op Sy tyd, lig Hy jou op.
Hy gee jou weer vaste grond
Hy sit jou op ’n ROTS.
Nie sodat jy kan sê:
“Kyk wat het ék reggekry.”
Maar sodat jy kan sê:
“Kyk wat het MY GOD gedoen.”
“Die Here is my rots en my vesting en my redder...”
Psalm 18:3
Daarom — stick with the process.
Al maak dit seer.
Al verstaan jy nie.
Al voel dit asof jy alles verloor.
Al vra God jou om iets neer te lê wat vir jou kosbaar is.
Moenie die proses verlaat net omdat dit moeilik geword het nie.
God is besig om iets in jou te doen wat jy dalk vandag nog nie kan sien nie.
“Hy wat ’n goeie werk in julle begin het, sal dit voleindig tot op die dag van Christus Jesus.”
Filippense 1:6
Laat die EK kleiner word.
Laat CHRISTUS groter word.
Gee Hom jou alles.
Want wanneer jy ophou om jou lewe self te probeer beheer, ontdek jy dat die Een wat jou geroep het, altyd geweet het waarheen Hy jou neem.
Hy vat soms alles weg om jou te wys dat Hy genoeg is.
En wanneer daar niks van die ou EK oorbly om aan vas te hou nie sal jy ontdek dat JESUS nog altyd daar was.
Alles vir Hom.
Alles aan Hom.
Alles deur Hom.
Nie my wil nie.
Nie my plan nie.
Nie my beheer nie.
Maar U, Here.
U alleen.
-Blom-