Die Kerk stel hom die volgende ten doel:
- Om die Drie-Enige God te verheerlik en Sy koninkryk uit te brei
- Om die suiwere, vrymakende evangelie, wat in staat is om te red en lewens te verander, met ywer in die krag van die Heilige Gees te verkondig. Ons doel is dus om die evangelie tot sy reg te laat kom, naamlik om mense eers vertikaal met God te versoen en dus hulle verhouding met God reg te
stel. 'n Veranderde hart en nuwe lewe lei dan noodwendig tot 'n horisontale versoening en 'n gepaardgaande beter verhouding tussen mense.
- Om die oorspronklike Protestantse beginsels te beskerm en met nuwe krag te verkondig en uit te lewe. Om nie net in naam Protestants te wees nie, maar in wese, deur voortdurende protes teen die gees van die tyd, sonde, vervalsing, afvalligheid en dwaalleringe aan te teken soos die Protestantse Hervormers teen die misbruike van hulle tyd.
- Om voortdurend te streef na vernuwing, asook varsheid van getuienis, ondervinding en boodskap om daardeur te waak teen verval in dooie formaliteit. Dat leersuiwerheid gepaard moet gaan met egte lewensvroomheid.
- Om hom te beywer in die kragtige uitbreiding van die Kerk van Christus en dit word vermag deur die kinders van God op te roep tot ware Bybelse heiligmaking en vervulling met die Heilige Gees en so toe te rus vir hulle dienswerk.
- Om as Kerk dinamies te wees vir ons tyd en om in die geestelike behoeftes en nood van mense te voorsien.
- Om 'n ware tuiste te wees vir evangeliesgesinde gelowiges wie se erns dit is om geestelik te groei en die Here te dien in 'n evangelies-gereformeerde atmosfeer, waarin die Heilige Gees werksaam is.
- Om elke gelowige binne die Kerk ruimte te gee om met sy of haar besonderde gawes te werk vir die uitbreiding van die koninkryk van God, d.w.s. 'n egte belewenis vir aktiewe deurleefde Christenskap.
- Om die gemeente in die algemeen en elke lidmaat afsonderlik effektief te versorg deur middel van persoonlike belangstelling in toegespitste ampsbediening van leraar en kerkraad in getroue huisbesoek en voorbidding.
- Om die getroue toepassing van norme van die Woord van God te handhaaf. Altyd, met hierdie in gedagte:
Jesus Christus, aan die regterhand van God die Vader, waar Hy nou vir sy kinders voorspraak doen, is die enigste Hoof van die Kerk.