07/06/2026
Debora het nie sommer net een oggend wakker geword as 'n vrou na wie die hele volk geluister het nie.
Daar was eers 'n verhouding met God.
Daar was tyd in Sy teenwoordigheid.
Daar was gehoorsaamheid wanneer niemand gekyk het nie.
Wanneer jy begin om 'n pad saam met God te stap, gebeur daar iets besonders.
Jy leer Hom ken, nie net deur van Hom te hoor nie, maar deur tyd saam met Hom deur te bring.
Sy Woord word vir jou lewendig. Sy stem word vir jou duideliker.
Jy begin onderskei tussen jou eie gedagtes en die leiding van die Heilige Gees.
Met tyd begin mense dit opmerk.
Hulle sien daar is iets anders aan jou.
Jy reageer anders op moeilike situasies.
Jy praat anders.
Jy dra 'n vrede wat nie deur omstandighede bepaal word nie.
Jy het wysheid wat nie uit boeke kom nie, maar uit jou verhouding met God.
Mense begin na jou toe kom vir raad.
Nie omdat jy al die antwoorde het nie, maar omdat hulle besef jy ken die Een wat die antwoorde het.
Hulle vertrou jou oordeel omdat hulle sien jy luister na God.
Hulle weet jy sal nie sommer jou eie opinie gee nie, maar sal soek na die Here se hart oor 'n saak.
Dit is wat met Debora gebeur het.
Die volk het onder haar palmboom bymekaargekom omdat hulle geweet het sy hoor God se stem.
Hulle het haar gerespekteer omdat sy in kontak met die Here was.
Haar gesag het nie uit 'n titel gekom nie.
Dit het uit haar verhouding met God gekom.
Wanneer jy naby aan God leef, begin daar 'n geestelike outoriteit oor jou lewe kom.
Daar is gewig in jou woorde omdat dit deur die Heilige Gees gedra word.
Jy begin anders lyk.
Jou gesig weerspieël die vrede van God.
Jy begin anders klink.
Jou gesprekke bou op eerder as om af te breek.
Jy begin anders praat.
Jou woorde bring hoop, rigting en lewe.
Mense respekteer nie net jou nie; hulle respekteer die God wat hulle in jou sien.
Hulle sien iemand wat nie net van God praat nie, maar saam met God wandel.
Die doel is om God te ken.
En die wêreld honger daarna.
Met tyd sal God jou gebruik soos Hy Debora gebruik het as 'n stem van wysheid, leiding en hoop vir die mense rondom jou.
-Blom-