28/08/2026
“Ek onthou dit goed. Ek was in standerd 6. Ons het in die nag uitgestap op die stoep om Halley se komeet te sien. Dit was 1986. Die komeet se vorige verskyning was in 1910.
Dit is nou 2026. En nadat ek Vyfde Evangelie van Riaan Steyn gelees het, is ek weer die getuie van ’n rare verskyning in Suid-Afrika. Dit is nie elke generasie wat die publikasie van ’n boek oor kerkmusiek – in Afrikaans – kan beleef nie.
Vyfde Evangelie kom uit die pen van iemand wat himnologie op ’n praktiese én teoretiese vlak ken. Riaan is akademies goed opgelei in teologie sowel as musiek. Hy het onder meer ’n PhD in himnologie behaal. In hierdie boek bring hy op betekenisvolle manier teorie en praktyk saam. Die kerk is bevoorreg om iemand met hierdie bevoegdheid te hê wat juis nou vir ons hierdie broodnodige boek oor himnologie gee.
Halley se komeet kom weer in 2061. Ons hoef nie te wag op die koms van ‘n volgende kerkmusiek-komeet nie. Dit wat in Vyfde Evangelie geskryf staan, kan dadelik inslag vind in liturgiese sang en musiekkurrikula, en sodoende ook in die bediening.
Soos die subtitel van die boek tereg sê: Wat hier geskryf staan, sal die kerk help om te beweeg van kerkmusiek na Godsontmoeting.
Dankie, Riaan!
Jy as leser wonder dalk waarom die titel Vyfde Evangelie. Om uit te vind moet jy omblaai …
https://www.bybelmedia.org.za/product/vyfde-evangelie/