Gereformeerde Kerk Stellenbosch

Gereformeerde Kerk Stellenbosch Hierdie blad is vir alle lidmate van die Gereformeerde Kerk Stellenbosch.

Wees jouself, sonder om te vergelyk.Gal 6:3-5  As iemand hom verbeel hy is iets en hy is niks, bedrieg hy homself. Laat ...
26/08/2026

Wees jouself, sonder om te vergelyk.

Gal 6:3-5 As iemand hom verbeel hy is iets en hy is niks, bedrieg hy homself. Laat elkeen sy eie doen en late ondersoek: as dit goed is, kan hy daarop trots wees sonder om dit met die van 'n ander te vergelyk. Elkeen sal rekenskap moet gee oor wat hy gedoen het.

Vergelyk jy jouself met wat ander het, wat ander doen en hoe ander lyk? ....STOP DIT !!

Jy is uniek, met unieke gawes, unieke omstandighede, unieke Godgegewe roeping binne die unieke fase van jou lewe tans. Jy het unieke dinge waarin jy moet groei.

Leef jou unieke roeping en lewe met jou hele hart,…voor die Here,…en vanuit die genade van die Here... en dis nie net genoeg nie, dit is great!

Leef in BlydskapSefanja  3:17   Hy is vol vreugde oor jouFilippense 4:4  Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bl...
12/08/2026

Leef in Blydskap

Sefanja 3:17 Hy is vol vreugde oor jou
Filippense 4:4 Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly!
Nehemia 8:11 (OV) Wees dan nie bedroef nie, want die blydskap in die HERE—dit is julle beskutting.

In hierdie wêreld is daar ook hartseer en gebrokenheid, daar is siekte, pyn en dood. Maar die gebrokenheid is nie jou identiteit nie. Jy is nie wat omstandighede dikteer of ander mense van jou sê nie. Jou identiteit is in God, God wat in Sy liefde vol vreugde oor jou is. Vind daarin jou vreugde.

Moenie dat iemand, of iets, jou vreugde in die Here steel nie. Alles is minder belangrik as God wat die bron van jou vreugde is.

Alleentyd met GodGenesis 32:24  Jakob het alleen daar agtergebly, en 'n man het tot dagbreek met hom gestoei.Matteus 14:...
29/07/2026

Alleentyd met God

Genesis 32:24 Jakob het alleen daar agtergebly, en 'n man het tot dagbreek met hom gestoei.
Matteus 14:23 Nadat Hy (Jesus) die mense weggestuur het, het Hy alleen na die berg toe gegaan om te bid. Toe dit aand word, was Hy daar alleen.
Psalm 131:2-3 Ek het rus en kalmte gevind. Soos 'n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het, so het ek tevredenheid gevind. Wag op die Here, Israel, nou en vir altyd.

Alleentyd saam met God:

Dit is nie dringend nie, dit kan nie in rand en sent bereken word nie, dit kom nie voor op jou CV nie.

Dit is die plek waar jy, geborge in Sy arms, opnuut bewus raak van wat regtig belangrik is. Dit is daar waar jy weer die hartklop van die Vader duidelik hoor, die fluistering van die Gees fyner onderskei, waar die Woord in jou verstand, hart en lewe kom lê. Dit is daar waar die gedwarrel van die lewe weer tot rus kom en die gebeure in perspektief kom.

Daar, in jou alleentyd met God, verdof dit wat mense oor jou sê. Dit is vanuit jou alleentyd met God dat omstandighede dalk nog jou léwe kan indring, maar nie jou hárt nie. Dit is daar waar die dringendheid om te moet verstaan oorweldig word deur die geborgenheid in die arms van die Vader.

Alleentyd met God is nie iets wat jy moet doen nie, dit is iets wat jy nie kan bekostig om te mis nie. Dit is nie net die kompas tyd vir jou hart, vir jou denke en jou lewe nie, ... dit is “waar jy behoort”.

Klaagliedere 3:22-23 deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is ELKE MôRE nuut.

Ware ankers“Fake it till you make it” – sê hulle… Lag tot jy lag, gee ʼn tree tot jy loop, hou moed tot jy moed het, wees...
22/07/2026

Ware ankers

“Fake it till you make it” – sê hulle… Lag tot jy lag, gee ʼn tree tot jy loop, hou moed tot jy moed het, wees positief tot jy positief is.

Dalk is dit goeie raad… maar ons as Christene hoef nie dit te “fake” nie. In die donkerste nag en op moedverloor se vlakte is daar ‘n rede om die volgende tree te gee, vreugde te vind, en moed te hou. Daar is werklikhede wat groter is as die werklikhede in omstandighede:
• God is steeds in beheer (Efesiers 1:11)
• God is steeds lief vir jou (Johannes 3:16).
• Hy sal jou nooit alleen los nie (Psalm 23:4).
• Hy verstaan jou, al verstaan jy nie alles van Hom, en van die lewe nie (Romeine 11:33 ; Prediker 8:17 ; Psalm 139: 13-16).
• Jy is in verhouding met Hom wat tyd en ewigheid in Sy Hand hou (Psalm 90:2).
• Die lewe is groter as hierdie lewe (1 Petrus 1:8 ; 2 Korintiërs 4:17)

Met ons oog gefokus word op die regte dinge, ons lewe geanker in Hom wat groter as die lewe is…. is daar soms nog steeds swaar, is ons nog steeds in ‘n gebroke wêreld, … maar ons word nie daardeur gedefinieer en bepaal nie. (ons word ook nie deur positiewe omstandighede of wêreldse sukses gedefinieer of bepaal nie).

Jy is God s’n, jy word deur God bepaal, …daarom kan jy moed hou, lag, die volgende tree in die regte rigting gee.

Ons gaan saam lofprysing doen en praat oor manwees. Kontak Ds Johan  082 929 1733
15/07/2026

Ons gaan saam lofprysing doen en praat oor manwees. Kontak Ds Johan 082 929 1733

Vandag se tyd is nie bedoel om môre geleef te word nie.Ons leef in vreemde tye, vreemde sienings en uitdagings, dit lyk ...
11/06/2026

Vandag se tyd is nie bedoel om môre geleef te word nie.

Ons leef in vreemde tye, vreemde sienings en uitdagings, dit lyk oorweldigend.

Maar *hierdie is die tyd waarin God bepaal dat ek en jy leef: Prediker 3: 1 “Elke ding het sy vaste tyd, elke ding in hierdie wêreld het sy tyd” vers 11 “God het elke ding gemaak dat dit pas in 'n bepaalde tyd,...” *Hierdie tyd is ons tyd* vir lewe.

Jy is bedoel vir NOU. Jy is geroep om in hierdie tyd God te verheerlik, Sy liefde uit te dra, om ʼn verskil te maak, om nou in verhouding met God te leef. Mordegai se woord aan Ester is: “Wie weet, miskien is dit juis met die oog op 'n tyd soos hierdie dat jy koningin geword het!" (Ester 4:14)

Die doel is dalk nie om te probeer wegkom van waar jy is nie, maar om God se lig, liefde en heelmaking in te dra in die tyd en plek waarin jy nou is. Ons is nie net op pad na iewers, waar ons d**k ons moet wees nie, ons is nou en hier ligdraers en liefde-oorlopers, vir solank as wat ons hier is.

Die Here het vir Josua gesê (en ook vir ons): “Wees sterk, wees vasberade. Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan.” (Josua1:8)

Meer tyd bring nie altyd beter prioriteit nieDis eintlik so vreemd: Ons het dikwels die begeerte om meer alleentyd saam ...
03/06/2026

Meer tyd bring nie altyd beter prioriteit nie

Dis eintlik so vreemd: Ons het dikwels die begeerte om meer alleentyd saam met God te spandeer en stiltetyd te hou, maar ons is te besig. En as ons dan wel meer tyd het, dan maak ons dit vol met allerhande stuff wat nie noodwendig ons kompas kalibreer, ons lewensdoel in fokus bring, en diep energie genereer nie.

Ons sien uit na ʼn vakansie waar ons in besonder by vriende en familie wil uitkom, verhoudinge versterk en “connect”....maar soms verflou ons eintlik belangrikste verhouding en spandeer ek die minste tyd met Hom wat my Lewe is.

Die dringendheid van niksdoen steel soms ons tyd saam met die Here.

Mark 6:32 Hulle (Jesus en sy dissipels) het met 'n skuit na 'n stil plek toe vertrek waar hulle alleen kon wees.
Psalm 130:7 Wag op die Here, Israel, want by die Here is daar troue liefde

Om tyd saam met God te spandeer is nie ‘n takie op ons lysie nie, dit is ʼn verhouding.

Jou diepste uitrus, jou beste kop regpak, jou meeste nuwe moed kry, jou sterkste motivering vir jou roeping, jou duidelikste visie en drome,.... kry jy juis daar waar jy geborge in God se arms stilsit. Waar jy met die Woord en deur Sy Gees fyn luister, waar jy bewustelik net by God “is”.

Soms is die situasie so dat jy dit nie kan verander nie (en jy moet probeer), maar soms is die situasie of die seer, so ...
21/05/2026

Soms is die situasie so dat jy dit nie kan verander nie (en jy moet probeer), maar soms is die situasie of die seer, so seer en kompleks, so buite jou invloed en beheer, dat jy maar net met dit alles in God se arms inhardloop sodat Sy teenwoordigheid in jou lewe groter kan wees as daardie iets.

• Ons lewe is tussen mense, maar nie mensgerig nie.
• Ons is in omstandighede, maar ons word nie daardeur gedefinieer nie
• Ons beleef gebrokenheid, maar ons leef Genadeheelheid.

Klaagliedere 3:21-24 Maar dít sal ek ter harte neem en om dié rede bly ek hoop: deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut. U trou is groot. Ek sê vir myself: Die Here is my lewe, daarom hoop ek op Hom.

En ook: Die Here gee ook mense as boustene in ons lewe, omstandighede wat ons louter en vorm, gebrokenheid wat ons in afhanklikheid laat groei. God is met ons op pad: deur mense, daardie omstandighede en gebrokenheid heen.

Hy is met ons op pad, nie ons met Hom nie, ...en Hy weet waar ons moet uitkom. Volg Hom maar net tree vir tree.

Ef 5:15 -17  Wees baie versigtig hoe julle lewe: nie soos onverstandige mense nie, maar soos verstandiges. Maak die best...
01/05/2026

Ef 5:15 -17 Wees baie versigtig hoe julle lewe: nie soos onverstandige mense nie, maar soos verstandiges. Maak die beste gebruik van elke geleentheid, want ons lewe in 'n goddelose tyd. Moet daarom nie onverstandig optree nie, maar probeer te wete kom wat die Here wil dat julle moet doen.

Rigting is belangriker as spoed. Ons moet nie net dinge reg doen nie, maar die regte dinge reg doen, besig wees met dinge wat God op ons lewensagenda sit.

Mag ons in ʼn gejaagde, oorvol, deurmekaar wêreld.... of dalk in ʼn moedelose, rondmaal fase, ...of dalk in ‘n normale dag vir dag roetine ... opnuut weer wag op die Here en nad**k oor wat regtig belangrik is, wat betekenisvol is, wat God se wil is. Mag ons dan met moed en Goddelike deursettingsvermoë die volgende tree gee, maar ook die moed hê om goeie dinge op te hou doen, sodat ons die beste dinge kan doen.

Moenie God vra om jóú pad te seën nie, val eerder in by Sý pad vir jou, dan sal jy waarlik geseënd wees.

Gemeentekamp April 2026. Dankbaar vir rus, lag en leer in God se natuur. Kerk is nie net ‘n plek waarheen jy gaan nie, m...
27/04/2026

Gemeentekamp April 2026. Dankbaar vir rus, lag en leer in God se natuur. Kerk is nie net ‘n plek waarheen jy gaan nie, maar ‘n familie waaraan jy behoort.

Address

Maraisstraat
Stellenbosch
7600

Alerts

Be the first to know and let us send you an email when Gereformeerde Kerk Stellenbosch posts news and promotions. Your email address will not be used for any other purpose, and you can unsubscribe at any time.

Contact The Place Of Worship

Send a message to Gereformeerde Kerk Stellenbosch:

Shortcuts

Share