02/06/2026
Spore van Hoop
Dinsdag 2 Junie 2026
Luister en rus
Matteus 8:34
Ons as samelewing word deesdae sensories oorlaai. Die televisie is aan, radio in die kar, in die winkels dreun die musiek oor die luidsprekers, almal gesels en die kasregister peep... peep... ook nog. Ons selfone se deuntjie gaan ook kort-kort af met ‘n “Whats-app” boodskap of kennisgewings van aftrekkings deur banke ens. Selfs in jou alleenheid hoor jy steeds die waaier of die verwarmer se aan en af. Wanneer kry ons waarlik rus?
In die Bybel is rus en luister twee tema’s wat deurlopend voorkom, waar daar met Israel as volk gepraat word, waar Jesus saam met sy dissipels reis tot waar Paulus aan die eerste gemeentes skryf en bemoedig met sy briewe. Elke keer word daar verwys na eerstens moet ons Luister en tweedens moet ons ware rus vind by God.
In ‘n samelewing wat so oorweldig is met sensoriese oorlading vind ons nie meer rus, kalmte of stilte nie en sukkel ons om te luister.
Die gevolg van die sensoriese oorlading sukkel ons met onderskeidsvermoeë van luister of net eenvoudig nie kan hoor nie, want ons kan nie nog inneem nie. Alles klink, ruik en voel vir ons dieselfde.
Jesus het ‘n antwoord vir dit gebied, hy het in ‘n skuit geklim en homself afgesonder. Kan ek en jy vir 10 minute ons selfone eenkant sit, alles afsit om net stil te word voor God, om te luister wat Hy vir ons sê? Om net by Hom te rus, weg te kom van alles en net te sit en rus in God se teenwoordigheid?
Dan sal God se stem en teenwoordigheid nie net wegsmelt tussen die wêreld nie, maar ons so ingestel wees op Hom en sy teenwoordigheid ons sal nooit oorweldig raak nie, maar Rus en Luister.
Ds Chantelle Maree
Gemeente Meyerton-Suid