07/09/2026
Spore van Hoop
7 September 2026
Ons paaie het ‘n invloed
Ter nagedagtenis aan Wendell Berry (1934-2026)
Levitikus 25:1-7
Een van my heel gunsteling skrywers, Wendell Berry, is op 31 Augustus 2026 op 92-jarige ouderdom oorlede. Berry was bekend vir sy produktiewe skryfwerk, sy besonderse Sabbatsgedigte en sy diep nadenke oor rus, die skepping en ons verhouding daarmee. Berry was oorspronklik ’n joernalis in die besige New York, maar het uiteindelik die gejaag van die stad verruil vir die platteland van Kentucky. Elke Sondag het hy op sy plaas gaan stap. Daar, in die stilte van die natuur, het hy naged**k oor die betekenis van rus en die manier waarop ons met die skepping omgaan.
Een van sy treffendste beelde is dié van ’n teerpad en ’n voetpad. ’n Teerpad is ’n kunsmatige pad. Dit word bo-oor die skepping gelê. Heuwels word platgeslaan en landskappe verander om die pad so reguit en vinnig moontlik te maak. Op ’n teerpad gaan dit immers oor spoed – om so vinnig as moontlik by die bestemming uit te kom. ’n Voetpad is anders. ’n Voetpad respekteer die landskap. Dit beweeg oor die heuwel eerder as om die heuwel af te breek. Jy kry ook die kans om die skepping raak te sien en te waardeur, aangesien jy stadig deur die lewe beweeg op ʼn voetpad.
Iets hiervan hoor ons reeds in Levitikus 25:1–7. Israel word beveel om elke sewende jaar die land te laat rus. Nie net die land nie, maar ook die mense en diere wat daarvan afhanklik is. Waarom? Omdat hulle telkens daaraan herinner moes word dat hulle waarde nie lê in wat hulle produseer nie. Hulle waarde lê ook nie in hulle vermoë om te produseer nie. Hulle waarde lê in die Skepper wat hulle gemaak het en hulle liefhet.
Miskien is dit die vraag wat vandag voor ons lê: Is ek ’n teerpad-mens of ’n voetpad-mens? Sien ek die skepping bloot as iets waaruit ek kan voordeel trek? Of sien ek dit as iets wat aan my toevertrou is deur die Skepper? Mag ons leer om stadiger te leef. Mag ons elke tree met groter respek gee. Mag ons onthou: wanneer ons deur God se skepping beweeg, is ons nie op ’n teerpad waar alles vir ons moet wyk nie. Ons loop op ’n voetpad – ’n pad waarop ons met verwondering, respek en liefde behoort te wandel.
Ds Steve Oxton