06/09/2026
Ons gemeente het 'n splinternuwe dominee!
Ons sê baie welkom aan ds. Heinrich Niehaus, wat vanoggend as ons nuwe leraar bevestig is.
Ons sê ook hartlik welkom aan sy vrou, ds. Mareli, wat hom so pragtig in alles ondersteun.
Ds. Heinrich het die dag begin met 'n preek by Kusweg, waar hy deur die koor, onder leiding van ons orreliste, Ronelle Hoogenhout, toegesing is.
Sy amptelike bevestiging en intreepreek is by die Lofsentrum gehou, waar talle gemeentelede – en 'n paar besoekers – die kerk volgepak het om ds. Heinrich te verwelkom.
Ds. Mareli het die formulier voorgelees en ds. Heinrich het met 'n "Ja, met my hele hart" belowe om ons gemeente met woord en daad as leraar te bedien ... en om bo alles die Here te dien en Sy Woord uit te dra.
Vyf predikante het ds. Heinrich met hul handoplegging geseën, voordat hy sy preek uit Hebreërs 2:14-18 gelewer het.
Die program was vol hoogtepunte, met heerlike sang en samesyn. Die Lofsentrum se sanggroep het ds. Heinrich met 'n spesiale lied verwelkom, waarna almal kon smul aan die heerlikste eetgoed.
Daar is vandag vele dankies om te sê. Ons mag dalk iemand oorslaan, maar ons wil veral ons dank uitspreek teenoor die volgende mense:
Ons kerkraadsvoorsitter, Herman Lourens, wat ds. Heinrich verwelkom het, en saam met die kerkraad die beroep uitgebring het.
Ds. Mareli wat die bevestiging hanteer het.
Karin van der Westhuizen wat die aankondigings gedoen het. Sy was ook die voorsitter van die Pre-advies kommissie, wat die beroepingsproses so goed hanteer het.
David Herbst en sy tegniese span, asook die tegniese span van Kusweg.
Edie Henn wat met haar skitterende orkes en sangroep, die lofprysing hanteer het.
Ronelle Hoogenhout vir haar skone orrelklanke, en Kusweg se koor vir hul begeesterde sang.
Ds. Jako Visser, wat ds. Heinrich names die NG Kerk se ring verwelkom het.
'n Groot dankie aan elke persoon wat eetgoed voorberei, aangedra en bedien het.
Ons sê dankie vir ons spanne by die deure, vir die pragtige blomme, en almal wat bygedra het om die verrigtinge so geseënd te laat afloop.
'n Spesiale dankie aan Sanette Strydom en Charmaine Crous van die kerkkantoor, vir al hulle reëlings.
Ons sê ook dankie aan almal wat van dag 1 af help bid het vir die beroepingsproses, en aan elkeen wat vir ds. Heinrich en Mareli gebid het ... en steeds bly bid.
Maar bo alles dank ons ons Hemelse Vader wat vir Gordonsbaai 'n nuwe predikant uitgesoek en gestuur het.
Aan Hom veral, gee ons al die lof, eer en dank!