19/08/2026
Midweek Manna (19 Augustus 2026): Die etiket en die inhoud.
Aan die begin van Matteus 5:13 het Jesus gesê: “Julle is die sout van die aarde.” Hierdie woorde is soveel meer as net ’n etiket (of ’n “label”) wat die Here op Sy dissipels geplaas het. Dit is ’n leefwyse. Dit is ’n verantwoordelikheid. Wat my egter bekommer, is die feit dat so baie mense se etiket sê “sout”, maar die inhoud stem nie ooreen nie. Ons het verlede week gehoor dat ons uit die soutpotjie uit moet kom, en soms gebeur dit.
Soms word die potjie geskud en dit wat aan die binnekant is, kom dan uit. Dit wat egter uitkom, stem dan glad nie ooreen met die etiket nie. Ons plaas Jesus op ons statusse en ons plak Bybelverse oral op sosiale media, maar ons skinder, sê mense sleg, breek mense af, lieg en bedrieg, vloek, steel, pleeg bedrog, slaap rond, ensovoorts. Die etiket en die inhoud stem nie ooreen nie.
Dit is ’n probleem, want dit rig ernstige skade aan die beeld van Christus! Dit is ’n probleem, want die Here het self in hierdie opsig gesê: “Elke boom word aan sy eie vrug geken...” (Lukas 6:44). Ek weet hierdie vers gaan oor vrugte, maar die kruks bly dieselfde – die etiket en die inhoud moet ooreenstem. Net soos wat jy “nie druiwe van ’n doringbos af pluk nie”, net so is daar nie veronderstel om peper uit ’n houer uit te kom wat “sout” sê nie.
“Dit kan tog nie so wees nie” (sien Jakobus 3:8-12). Ek wil jou daarom vandag opreg aanspoor, my boetie en sussie in die Here – lê die ou mens eens en vir altyd af en word beklee met die nuwe mens (Efesiërs 4:21-24). Laat die etiket en die inhoud ooreenstem. Lewe volkome soos die Here wil hê jy moet en wees heilig. In die Naam van Jesus Christus, amen.
Tot volgende week, groete en baie seën.