04/09/2026
*In Herinnering (4 Sept 2026)*
Ken jy daardie gevoel wat mens kry wat beskryf kan word dat jy na mense verlang wat jy nie dink jy ken nie? Baie mense noem dit ‘n “weird” gevoel, so ietsie tussen ‘n gemis hier binne in jou en amper hartseer, maar duidellik ‘n tiepe gevoel van soeke. My geestelike vader het my geleer dat dit is wanneer Heilige Gees aan my roer. En Heilige Gees bring ook sommer hier Johannes 14:26 (Afr ‘53) vir my: *“maar die Trooster, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.”* Met hierdie teks nog vars in my gedagtes, bring Heilige Gees ook in herinnering dat Hy die Eerstehandse Getuie hier binne-in my is aangaande mý gees en mý kindskap van Abba Vader. Hy is op presies die regte ‘plek’ om aan my te kan roer - ja Hy roer my hartsnare want dis mos daar waar ek die Waarheid van die Woord plant.
Ek onthou hoe ek as klein kindjie deur Ouma geleer is om op my kniee te staan, gekniel langs my bedjie, en sy gaan my voor in gebed tot ek dit later self kan sê. Ek onthou die Sondagskool en die dominee en die pastoor, elke onderwyser wat van Jesus geleer het. Ek onthou my eie intieme oomblikke toe ek gekies het om Hom my ALLES te maak op daai CSV kamp. Ek onthou die trane wat ek gehuil het in diepe berou en die vergifnis-ervarings wat Hy in deernis en volmaakte LIEFDE oor my gespoel het. Hy wys weer vir my die wreedheid van die gebroke wêreld wat nie rerig verstaan van NUUT gemaak wees nie, wat eerder HAAT en hulself wil red, hulle eie god wil wees en ook god oor ander. Hy herinner my aan Jesus se woorde aan die kruis - die Woord self het hierdie Woorde gespreek: Vader vergewe hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie. In my gees voel ek swaar, daar is ‘n gewigtigheid wat my omring, maar dan wys Hy my dadellik die sagte juk, die ligte las, die waters van vrede en die groen weivelde en GEREGTIGHEID. Ek dank Hom en ek vra: Heilige Gees wat leer U my, wat is dit wat ek sien en onthou, wat maak ek hiermee?
ALLES wat oor die jare in my hart ingesit is, kan Hy en sal Hy in herinnering roep tot my groei in volwassenheid in God. Hy herinner my dat Hy my nêrens herinner het aan my ou lewe nie, die sondes van my vlees nie - want daar was ‘n besluit, ‘n oorgawe, ‘n wedergeboorte - alles is nuut! Dan wys Hy my: sien die versnelling in jou groei in Goddelike statuur en geestelike volwassenheid toe jy meer en meer van die Woord in jou hart begin plant het. Heilige Gees wys my hoe ek die deur tot groter herinnerings moontlikhede oopgemaak het, toe ek meer en meer gefokusde ure IN die Woord en MET die Woord spandeer het. Ek het die Woord, die on-korrupbare saad geplant en Heilige Gees roep dit in my in herinnering. Hy laat dit groeie en veel vrug dra! Hy het my in die oorwinning - soos deur Jesus betaal en volbring - gebring en Hy hou my in die oorwinning. Deur die herinneringe wat Heilige Gees gedurig bring - soms bewustelik en ander kere weer onbewustelik - laat Hy my wandel in die spore van geregtigheid. Lei Hy my in die werke wat God vir my berei het want ek is in Sy herinnering.
Laat die Trooster toe om jou hartsnare te roer. Sorg dat Hy genoeg Woord het om mee te werk. En geniet dit om in die oorwinnings lewe die oorvloed van God in hierdie lewe reeds te geniet!
Goedheid en guns!
*LLF Bedieninge*