08/09/2026
Gee ons nuwe drome Heer!
“U laat ons profeteer in elke dorp, oor elke hart en huis.
Wys ons wat kan gebeur deur U Gees! ...”
Só klink die koor van die lied wat 656 predikante van die NG Kerk van regoor Suid-Afrika tydens die afgelope SAAMKOMS by ATKV Goudini Spa saam gesing het.
Agtergrond
Ongeveer elke 21 jaar word so ’n groot SAAMKOMS vir predikante van regoor die land gereël. Ek het die voorreg gehad om die eerste byeenkoms in 2005 in Bloemfontein by te woon, en nou ook die tweede geleentheid.
In April 1860 is die eerste groot predikantekonferensie in Worcester gehou, waar die bekende ds. Andrew Murray ’n belangrike rol gespeel het. Die fokus was onder andere op geestelike herlewing, sending en onderwys.
Hierdie konferensie het kort ná die Groot Trek van 1835–1840 plaasgevind. Die Afrikaners in Suider-Afrika was verdeeld en daar was baie konflik in die land. Dit het ook ’n invloed op die geestelike lewe gehad. Daar was ’n tekort aan predikante en kommer oor die toestand van die kerk. Teen hierdie agtergrond is ’n groot saamtrek gereël waar predikante en ander kerkleiers saam kon besin.
In Augustus 2026 beleef ons weer ’n tyd van verdeeldheid en verval in ons land, maar ook groot uitdagings vir kerke en mense se belewenis van God.
Teen hierdie agtergrond was dit goed en nodig om predikante van regoor die land weer bymekaar te bring. Nie om sinode te hou of debatte te voer nie, maar eenvoudig om SAAM te kom, SAAM te leer, SAAM te aanbid, SAAM te kuier, SAAM te sing en SAAM te groei.
Dit was inderdaad ’n fees van geloof, roeping en menswees. Dit was ’n ontspanne en lewegewende ervaring – ’n plek waar ons saam kon bid en besin, onderskei, kuier, lag, soms huil, lekker eet en weer asemhaal. Ons kon opnuut iets beleef van die groter verhaal waarin God ons roep. Die atmosfeer was warm, lig, kreatief en eerlik, met baie ruimte vir interaksie, ontmoeting en nuwe denke.
Ek het met die dominee van Kenhardt gesels oor skaapboerdery, en met die dominee van Emahlabathini, wat elke Sondag vir ongeveer 30 mense preek, maar deur die week sendingwerk op die skepe in Richardsbaai doen. Ek het ook dominees van Tafelbaai, Oudtshoorn, Nelspruit, Kerkkenberg, Patmos en Klerksdorp ontmoet.
So kan ek nog tientalle predikante opnoem wat ek voorheen nie geken het nie – soms uit dorpe waarvan ek skaars geweet het. En tog dien ons dieselfde God, preek ons uit dieselfde Bybel en bely ons dieselfde geloofsoortuigings in ons belydenisskrifte.
Elke oggend en aand het ons met ’n groot byeenkoms in die saal begin. Daar het ons saam gesing en aanbid, saam uit die Skrif gelees en saam stil geword voor God.
Daarna kon elkeen verskillende wegbreeksessies bywoon: werkswinkels, kletskamers, TED Talks, wynproe en talle ander groeigeleenthede. Elkeen kon volgens sy of haar belangstelling, energie en behoefte uit ongeveer 48 moontlike sessies kies.
En natuurlik was daar ook genoeg tyd vir lekker kuier: in die warmwaterswembad, rondom die braaivleisvure en tydens vroeë sonsopkomsbelewenisse.
Die woorde van die lied wat ons elke dag saam gesing het, sal my nog lank bybly:
“U laat ons profeteer in elke dorp, oor elke hart en huis.
Wys ons wat kan gebeur deur U Gees!”
Gebede lui uit Langebaan
ʼn Harmonie uit Bloemfontein
ʼn Koor wat prys uit Kathlehong
ʼn Melodie uit Mitchell’s plain
ʼn Ster wat skyn uit Betlehem
ʼn Stem wat roep uit Leratong
Genesing vloei uit Kosibaai
ʼn Hart wat leer uit Humansdorp
*koor*
en ons elkeen hoor
en ons elkeen sien
daar waar U reeds werk
wil ons SAAM kom dien!
U laat ons profeteer
In elke dorp, oor elke hart en huis
Wys ons wat kan gebeur
Deur U Gees
Gee nuwe drome Heer!
ʼn Kreet wat juig uit Ermelo
ʼn Donkie loop uit Wellington
Studente werk by Canzibe
Ons hou basaar in Alberton
*koor*
Amper elke dorp en stad was verteenwoordig. Kan jy dink hoe nodig het ons land geestelike leiers wat geïnspireerd en weer passie vol oor die roeping van God is.
“In elke dorp, oor elke hart en huis
Wys ons wat kan gebeur
Deur U Gees
Gee nuwe drome Heer!”
Ds. Roelof Minnaar