12/05/2022
Wilma Nel
Teen die tyd dat die aandoffer gebring moes word, het Elia by die altaar gaan staan en gebid. “Here,” het hy gesê, “U is die God van Abraham, Isak en Jakob. Laat almal vandag besef dat U die God van Israel is en dat ek aan U behoort en dat ek al hierdie dinge doen omdat U GESÊ HET EK MOET.1 Konings 18:36 DB
n Ander vertaling sê: "...en dat ek al hierdie dinge op U WOORD gedoen het."
I KONINGS 18:36b AFR53
Sjoe, die profete van ouds moes "mannemoed" gehad het om te doen wat hulle moes doen. Of miskien het hulle maar net van kleinsaf geleer om God te vertrou. Die mense was skrikkerig vir Elia juis omdat sy teenwoordigheid en verskyning aan hulle "moeilikheid" beteken het. Veral in die lig van die koning en die volk se afgodediens.
Maar na Elia se uitdaging aan die baäl priesters, bid Hy tot God voor almal, en sê: "laat dit vandag bekend word dat U God in Israel is, en ek U kneg, en dat ek al hierdie dinge op U WOORD gedoen het."
Elia het op grond van God se Woord, dinge gedoen. Met ander woorde, in sy gemeenskap met God, het God vir hom gesê wat om te doen. Elia het nie gaan sit en planne beraam en toe na die Here gegaan met n plan hoe om die baäl priesters by te kom nie. Dis nie hoe dit werk nie. God weet presies hoe Hy wil hê ons, as sy kinders, moet optree.
Elia moes wag op die Here, maar jy en ek het die Heilige Gees binne in ons om ons te leer, te lei, en te waarsku. Daarom is dit so noodsaaklik om kosbare tyd met die Here deur te bring, deur gebed en Bybelstudie. Want dis gedurende daardie tye wat die Here ons deur Sy Heilige Gees bemoedig,
ons bekragtig,
aan ons n uitweg wys,
ons hoop gee en bevestig, en waar ons so bewus raak van Vader se liefdevolle teenwoordigheid. Glory!!
Onthou, jy en ek is kosbaar in Vader se oë, en niks sal met ons gebeur waarvan Hy nie bewus is nie. Maar as ons Hom kan vertrou met ons hele hart, dan sal alles ten goede meewerk, of ons dit verstaan of nie.
Elia was maar net n mens, net soos jy en ek, en tog was hy sterk, en swak, in God. Maar nooit het God hom verwerp nie. Maar hom "genees" en herstel. En wie weet, is hy een van die "twee getuies" wat onverskrokke tydens die groot verdrukking gaan getuig?
Kom wees bemoedig vandag en laat ons kragtig, deur die geloof, bly vasstaan op God se Woord. AMEN!!
Dierbare Hemelse Vader, baie dankie vir n man soos Elia. Vir U liefde en genade aan hom bewys, net so ook aan ons. Help ons asb om U Woord ter harte te neem, en deur geloof, in oorwinning te bly staan, ten spyte van omstandighede. Want U is God van wonderwerke, U is onse ABBA Vader, en ons is so dankbaar om die knie voor U te kan buig en soos n Samueltjie wil ons sê: "spreek, Here, u dienaar-kind luister.”
Help ons asb om nie in eie krag te wil stoomroller nie, maar alleenlik volgens U Woord te sê, te doen, en te wandel. Baie dankie Vader vir U groot liefde en genade. Met grote eerbied en totale afhanklikheid van U, bid ons in diepe ootmoed met groot dankbaarheid in die kosbare en ewige Naam van Jesus Christus onse Heer en Meester, amen