10/08/2026
*Jy hoef nie belangrik te wees om deur God gebruik te word nie*
Die jong Hebreeuse meisietjie in Naäman se huis het geen naam in die verhaal nie. Sy was nie ’n belangrike persoon nie. Sy was ’n slaaf, ver van haar huis en haar mense.
Tog gebruik God háár om die eerste skakel in Naäman se genesing te wees.
Sy kon maklik stilgebly het. Sy kon gedink het: “Hy het my lewe kom ontwrig. Waarom sou ek hom help?” Maar sy doen dit nie. Sy wys vir ons dat God nie noodwendig die mense met die grootste posisie, die meeste geld of die meeste invloed gebruik nie. *Hy gebruik dikwels die persoon wat eenvoudig bereid is om Hom te gehoorsaam.*
Jy hoef nie belangrik te wees om deur God gebruik te word nie. Jy moet net beskikbaar wees.
*Vandag se Waarheid*
God kan my gebruik, nie omdat ek belangrik is nie, maar omdat ek bereid is om Hom te gehoorsaam.
*Gebed*
Here, dankie dat U nie kyk na my status, my vermoëns of my belangrikheid nie. Maak my vandag beskikbaar vir U. Gebruik my woorde, my hande en my hart om iemand anders se lewe aan te raak. Amen.
*Week se Seën*
Mag jy hierdie week onthou dat *God jou kan gebruik presies waar Hy jou geplaas het.* Mag Hy jou hart vul met liefde, geloof en die moed om te getuig.