Wanneer jy by ons gemeente in stap, betree jy ‘n ruimte waar ons aan jou immuniteit, anonimiteit en eenheid belowe. Mag jy hier aanvaarding, liefde en rede ervaar.
‘n Plek van Immuniteit
Indien jy hier verby gekom het en geïntimideerd of kwaad voel oor wat godsdiens aan jou gedoen het, weet asseblief dat ons immuniteit aan jou skenk. Hoe put ons dan tog uit die inspirasie wat religie ook oor j
are na ons gebring het? Hoe vind ons inspirasie eerder as oorrompeling en die wil om te domineer? By Rondebosch Gemeente is daar onvoorwaardelike oorgawe aan die vryheid wat God bied om vrylik te mag praat met wie jy wil. In hierdie spasie kan jy die labirint van die lewe betree en in die ritme van die Gees stap, daardie ritme wat jy uniek hoor. Ons bied ‘n “heilige ruimte” aan almal en beloof die wonderlike vryheid wat daar in God is. Mag hierdie ruimte die klimaat wees wat godsdiens jou bied en waarin jy kan floreer.
‘n Plek van Anonimiteit
Indien jy hier verby gekom het en twyfel of jy by ‘n spesifiek denominasie moet aansluit en moet “inkoop” in die belydenis van dié denominasie, wees gerus. Hier is baie mense wat geen vaste geloofsdissipline beoefen nie. Die lewensreël by Rondebosch Gemeente is; laat die vreemdeling tuis voel! Almal se name is heilig, maar niemand hoef hulle name op ‘n lidmaatskapvorm in te vul om ernstig opgeneem te word nie. Moontlik wil jy net weer jou verhouding met God kom optel. Dalk kom jy om jou skuldgevoel te bely. Of om ‘n las af te laai. Of vir ‘n geliefde te bid. Of om net in die skoonheid van heiligheid te kom rus. Of om oor ‘n persoonlike uitdaging te mediteer. Of om net vir ‘n oomblik te kom rus. Ons kerk het ‘n hoë dak in die vorm van ‘n skip sodat jou gees in die verskeie rigtings kan vaar sonder gedwonge gemeenskap met ander. Rondebosch Gemeente is ‘n spirituele spasie waar anonieme individue op pelgrimstog tuis mag wees.
‘n Plek van Eenheid
Indien jy hier verby gekom het en beleef dat die lewe gefragmenteer is in ‘n magdom onversoenbare gebroke stukke, weet dan dat daar in Rondebosch Gemeente hoop is. Hierdie hoop waaraan ons vashou is in God geleë omdat hy die oënskynlike teenstrydighede vashou. Ons glo God is die Alfa. Van die begin af was alles in eenheid met Hom gewees. God is die Omega. Aan die einde sal alles weer met God verenig wees. Nou, intussen, vind ons hierdie eenheid in die hoop van hulle wat God hier aanbid. Ons streef daarna om hierdie hoop op die volmaakte eenheid hier lewendig te hou. Daarom word ons geroep om oordadige gasvryheid te betoon – aan almal en in alle omstandighede. Hier sal jy hartlik welkom geheet word! Ja, ons is deel van ‘n spesifieke godsdienstige tradisie (NG Kerk van Suid Afrika). Ons is nie deel van die tradisie omdat ons meen óns tradisie het die eksklusiewe reg op die waarheid nie. Wanneer jy op ‘n pelgrimstog na eenheid vertrek, vertrek jy van ‘n spesifieke punt. Rondebosch Gemeente, as deel van die NG Kerk in Suid Afrika, is ons laaste vertrekpunt. Ons reisgenoot bly egter Jesus Christus. Ons glo dat Hy die uitdrukking van God se liefde vir die wêreld is. In Hom is die eenheid wat verby die finaliteit van die dood strek. In hierdie gefragmenteerde samelewing bied Rondebosch Gemeente jou ‘n Huis van gebed vir almal, ‘n blywende hoop dat daar Eenheid in die sentrum van die lewe is. Jy is meer as welkom!