Nederduitsch Hervormde Kerk Groeneweide

Nederduitsch Hervormde Kerk Groeneweide Ons nooi u vriendelik uit om te kom luister na ons dienste, bring sommer almal saam.

08/09/2026

Altyd dieselfde

HEBREËRS 13:8
[8] Jesus Christus bly steeds dieselfde – gister, vandag en vir altyd!

Die Here vra konsekwentheid van ons. Dit is waarna die wêreld ook desperaat op soek is, maar wat die wêreld nie kry nie. Dit is wat meisies wil hê; dit is wat 'n werkgewer in 'n werknemer wil hê: betroubare, konsekwente mense. Dit is hoe Jesus is.

Ek wil jou vertel van my beste, betroubaarste vriend: my Bybel. Die Bybel kan nie verander word nie. Dit bestaan al van die begin van tyd af. Dit kan nie opgegradeer word nie. Dit jok verseker nie. Dit kan nie na een of ander kant van 'n saak oorgehaal word nie. Dit het al die antwoorde wat ons nodig het. Matteus 5:18 sê: "Ek verseker julle, al sou die hemel en aarde ophou bestaan, sal die wet definitief tot in sy fynste detail geldig bly totdat God se bedoeling daarmee bereik is."

Soos die Woord verander ons Here Jesus nooit. Gaan vra vandag Sy raad. Hy is gister vandag en vir altyd dieselfde, en Hy het jou lief. Soek Hom op en bring tyd saam met Hom deur.

Onse Vader, Here en Heilige Gees, dankie vir dié boodskap en leiding uit U lewende Woord. Here, U is die enigste konstante in ons lewens, die Rots waarop ons ons lewens bou. Here, lei ons deur U Heilige Gees en lewende Woord om ook konstant te wees soos U in alles wat ons doen en sê. Dankie vir al U liefde en genade in oormaat. Amen

08/09/2026
07/09/2026

Wees lief vir Jesus

MARKUS 14:9
[9] “Ek verseker julle, waar hierdie Goeie Nuus ook al oor die hele wêreld verkondig word, sal daar ook gepraat word van wat sy gedoen het, en so sal sy vir altyd onthou word!”

Die vrou het 'n albaste fles met duur olie oor Jesus uitgegiet. Dadelik het die dissipels haar berispe: Die olie kon verkoop geword het en die geld vir die a***s gegee geword het. Maar Jesus het gesê: "Die a***s sal julle altyd by julle hê, en julle kan enige tyd wanneer julle so voel, aan hulle goeddoen. Maar Ek sal nie meer lank by julle wees nie" (Markus 14:7).

Ons moet versigtig wees dat die werk van die Here nie belangriker word as die Here van die werk nie. Verstaan jy wat ek sê? Jy doen wonderlike dinge vir Jesus - voed die hongeres, sorg vir die siekes en die ou mense - maar teen watter koste? Dit mag nooit ten koste van tyd saam met Jesus en Sy plek as die belangrikste Persoon of ding in jou lewe wees nie.

Hoeveel tyd bring jy op die oomblik saam met Jesus deur, en hoeveel tyd staan jy af aan goeie dade? Ons moet oppas dat goeie dade nie belangriker word as God nie.

Onse Vader, Here en Heilige Gees, dankie vir dié boodskap en leiding uit U lewende Woord. Here, help ons om ons reg te prioritiseer, sodat ons fokus op U is ons Here en Verlosser. Laat ek meer tyd aan U voete deurbring, terwyl ek luister na U en U lewende Woord te lees. Dankie Here vir al U liefde en genade in oormaat. Amen

04/09/2026

Maak jou hart oop

PSALMS 119:105
[105] U woord is ’n lamp vir my voete en ’n lig op my pad.

Ons weet almal die almagtige Here is die Outeur van die Bybel. Maar ken jy Hom waarlik? Daar is niks in die lewe wat belangriker is as om God te leer ken nie. Die enigste manier om in die hemel te kom, is deur die Outeur van die Goeie Nuus te ken.

Die Bybel maak die Koning aan jou bekend; Hy rig jou lewe en wys jou hoe om jou lewe te lei. Dis 'n persoonlike openbaring van God wat jy nodig het - 'n liefdesbrief van Hom aan jou.

Sommige van ons moet ons kennis van en verhouding met God van ons kop na ons hart verskuif. Ek kon eers emosioneel word toe ek Jesus as my persoonlike Redder en Here aanvaar het. Soms huil ek meer as wat ek preek, oor die hart wat ek vir mense het.

Mense kan vir my kom vertel net wat hulle wil, maar ek weet dat my Redder lewe. Ek _hoop_ nie dat Hy lewe nie, ek _weet_ Hy lewe. Ons moet glo en vertrou, en vertroue neem toe soos ons Jesus leer ken deur die Woord van God.

Maak vandag jou hart oop en laat die kennis toe om van jou kop na jou hart te verskuif.

Onse Vader wat in die hemel is, ek dank U vir U enigste Seun Jesus Christus wat aan die kruis van Golgota gesterf het vir my sonde. Ek aanvaar en erken Jesus Christus as my Verlosser en Here. Here, vul my met U Heilige Gees en lewende Woord sodat ek 'n lewende getuie vir U en U Koninkryk kan wees. Here, ek en my huis sal die Here dien. Vorm en snoei ons volgens U wil sodat ons kan vrug dra vir U en U Koninkryk. Amen

03/09/2026

Sodat jy kan glo

JOHANNES 20:31
[31] Hierdie tekens is wel opgeskryf sodat julle tot die geloof kan kom dat Jesus die Messias is, die Seun van God, en sodat julle deur aan te hou glo, in sy Naam die lewe kan hê.

Die Bybel is die lewende Woord, die swaard van die Gees en die lewende water,die Goeie Nuus, die brood van die lewe. Die doel van hierdie Boek is om te bevestig dat Jesus Christus die Seun van God is.

Partykeer kom mense na my toe en sê: "Sal jy vir my bid vir meer geloof?" Ek sê altyd vir hulle dat ek nie sal bid dat God hulle meer geloof moet gee nie, maar dat God hulle 'n honger na die Bybel sal gee, want jou geloof word gebou as jy die Skrif lees.

As jy nie op die oomblik sistematies deur jou Bybel lees nie, wil ek jou aanspoor om dit te doen. Ek stel voor jy begin by Psalm 1, terwyl jy terselfdertyd ook iets uit die Nuwe Testament lees. Lees elke dag 'n deel van die Ou Testament en die Nuwe Testament en skryf neer wat God daardie dag vir jou gesê het.

Die doel van die Bybel is om die gevangenes vry te maak, die gebrokenes genees, vir ons hoop en 'n nuwe begin te gee.

Onse Vader, Here en Heilige Gees, dankie vir dié boodskap en leiding uit U lewende Woord. Here, laat ons meer tyd in U teenwoordigheid deurbring en U lewende Woord lees en bestudeer. Here, U lewende Woord is ons Gids in die lewe oor hoe ons moet lewe. Dankie vir al U liefde en genade in oormaat. Amen

Address

59 Agulhas Street
Boksburg
1459

Website

Alerts

Be the first to know and let us send you an email when Nederduitsch Hervormde Kerk Groeneweide posts news and promotions. Your email address will not be used for any other purpose, and you can unsubscribe at any time.

Contact The Place Of Worship

Send a message to Nederduitsch Hervormde Kerk Groeneweide:

Shortcuts

Share