13/09/2026
Teksvers: Hooglied 2:11 “Want kyk, die winter is verby, die reëntyd is oor, dit het verbygegaan.”
Toe Jesus aan die kruis gesterf het, het Hy gesê: “Dit is volbring,” en Jesus het dit bedoel. Sy reddingswerk was voltooi. Vir elke sondaar wat ná die kruisiging na Hom toe sou kom vir verlossing van sonde en om vergifnis en reiniging van die hart te vind, is die winter verby. Ja, as u waarlik Jesus lief het en Hom volg in gehoorsaamheid is u winter ook verby, want jou naam is in die Boek van die Lewe geskryf en jy kan uitsien na ’n hoopvolle toekoms. Jeremia 29:11 “Want Ék weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die HERE, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ‘n hoopvolle toekoms te gee.”
Ek wil u ook bemoedig, indien u ’n moeilike tyd in u lewe beleef of tye van teëspoed ervaar, soek die Here en neem hierdie kosbare belofte uit Sy Woord aan: (Jesaja 64:4) “Van ouds af tog het niemand dit gehoor of verneem nie, geen oog het ‘n God gesien wat werksaam is vir wie op Hom wag nie, behalwe U.”
Ek en my gesin het onlangs ’n dringende behoefte gehad aan ’n oplossing en uitkoms in ’n baie groot saak en ons het gebid en gebid en blykbaar het niks gebeur nie. Tot op ’n dag, so twee weke gelede, toe die Here uit ’n onverwagte bron ons gebede verhoor het, want God was werksaam en sekere dinge moes eers in plek val, en daar was Sy uitkoms! Ons was oorweldig in ons dankbaarheid en het al die lof en eer aan Hom gegee. Jesaja 64:4 het werklik waar geword. Prys Sy Naam!
Vertrou op Hom, Hy sal jou nooit teleurstel nie.
Seëninge.
Yvonne Slabber