NG Gemeente Onrusrivier

NG Gemeente Onrusrivier Ons almal saam in diens van Jesus Christus...oral, altyd en in alles

Vrydag refleksie - 4 SeptemberDit was 'n groot bederf om laas Donderdag, by die predikante byeenkoms in Goudini, bedien ...
04/09/2026

Vrydag refleksie - 4 September

Dit was 'n groot bederf om laas Donderdag, by die predikante byeenkoms in Goudini, bedien te word deur Neil Büchner, Deon Meiring, Jannie du Toit, Coenie de Villiers, Frieda van den Heever en Joe Black. Een van die liedjies wat met my hart gepraat het, was Coenie de Villiers se lied "Katedraal".

Hy sing oor die Karoo as 'n katedraal. Dis 'n katedraal sonder 'n dak, mure, deure, slotte, brandglas-vensters, lidmaatregisters, ens. Dit 'n katedraal waar enige iemand welkom is - hier sal jy stilte, rus en vrede kry.

Die woord katedraal kom van die Latynse "cathedra" wat stoel beteken. Dit was die plek waar die biskop se stoel was, waar hy geleer het. Metteryd het dit al hoe meer verwys na die geboue (kerkgeboue) van die Katolieke kerk en die Anglikaanse kerke. 'n Mens d**k onwillekeurig aan die groot, indrukwekkende katedrale in Europa.

Katedrale was plekke van aanbidding. Die majestieuse, indrukwekkende geboue het gelowiges uitgenooi om stil te word, God se grootheid te ervaar en in Sy teenwoordigheid te vertoef.

In Coenie de Villiers se lied vind hy so 'n ruimte in die Karoo - dis vir Hom soos 'n groot katedraal, 'n plek waar jy God kan ontmoet. Ek d**k ons elkeen het iewers al so 'n katedraal-ervaring gehad. Vir my en Tersia was die Drakensberge altyd so 'n katedraal. Ek onthou ook 'n baie spesiale ontmoeting by Cathedral Peak in die Drakensberge. Deesdae het ek dikwels so katedraal-ervaring op die bankie hier langs ons eie see.

Elkeen van ons moet iewers 'n katedraal hê - 'n plek waar jy in God se teenwoordigheid kan vertoef...en rus. Jesus se katedraal was die berge in Israel - Hy het dikwels alleen daarheen gegaan. Sommige mense verkies die Karoo; ander die berge; die see; die wildtuin. Sondae-oggende vroeg ervaar ek dit in ons mooi kerkgebou wanneer ek alleen daar sit - saam met die Here.

Ek wens sommer net vandag vir jou (en vir my) wonderlike katedraal-oomblikke: alleen, woordeloos, vol verwondering. Mag jy stilte, rus en vrede daar kry.

Mooi dag!
Coenie

Provided to YouTube by DistroKidKatedraal (feat. Randburg Hoërsko...

Ons personeelspan het Maandag ons jaarlikse spanbou-uitstappie gehad: ovontuurvolle rit op die Rooibus in Kaapstad met '...
03/09/2026

Ons personeelspan het Maandag ons jaarlikse spanbou-uitstappie gehad: ovontuurvolle rit op die Rooibus in Kaapstad met 'n heerlike ete in Houtbaai...

Die Heilige Gees as vuurOp die dag van die Pinksterfees het daar iets buitengewoon in Jerusaem gebeur. Daar was onverwag...
03/09/2026

Die Heilige Gees as vuur

Op die dag van die Pinksterfees het daar iets buitengewoon in Jerusaem gebeur. Daar was onverwags uit die hemel ‘n geluid soos dié van ‘n kragtige stormwind wat die hele huis gevul het waar die gelowiges bymekaar was. Tonge, asof van vuur, het verskyn, verdeel en op elkeen van hulle neergedaal. Almal is vervul met die Heilige Gees, en het in ander tale gepraat, die tale van die mense uit ander landstreke wat op daardie stadium in Jerusalem teenwoordig was. Petrus verduidelik aan die verbaasde mense dat dit die vervulling was van die profesie van Joël, naamlik dat God sy Gees sou uitstort op almal, jonk en oud, ook op slawe en slavinne. Hulle almal sou voortaan profete word, deur te praat oor die groot dade van God.

Waarom die tonge, asof van vuur? Vuur in die Ou Testament was ‘n simbool van God se teenwoordigheid asook die reinigende krag van God. Johannes die Doper het ook die simbool van vuur gebruik, toe hy vir die mense wat gekom het om deur hom gedoop te word, gesê het: “Ek doop julle wel met water, maar daar kom iemand wat sterker as ek is...Hy sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop” (Luk 3:16). Johannes wou daarmee sê dat die water waarmee hy gedoop het net ‘n uiterlike teken was, en dat hy nie self die innerlike reiniging kon bewerkstellig het nie. Jesus sou dit doen deur die Heilige Gees. Die Heilige Gees reinig soos wat vuur reinig.

Hoe raak dit ons? Ons as gelowiges is deel van die “almal” wat vervul is met die Heilige Gees, na die uitstorting van die Heilige Gees op daardie Pinksterfees. Behalwe al die ander werkinge van die Heilige Gees in ons, maak die Heilige Gees ons ook “profete”, naamlik om met vrymoedigheid oor Jesus te getuig.

Loof die Here daarvoor!

Gerhard

Official lyric video for the song "Prayer to the Holy Spirit (by Sa...

Vuur as toetsingVuur is in die Bybel ook ‘n simbool van toetsing.  Ons lees daarvan in 1 Pet 1:6-7: “Jubel hieroor (die ...
02/09/2026

Vuur as toetsing

Vuur is in die Bybel ook ‘n simbool van toetsing. Ons lees daarvan in 1 Pet 1:6-7: “Jubel hieroor (die erfenis in die hemel), al moes julle onlangs vir ‘n kort tydjie deur allerhande beproewings bedroef word. Die doel was dat dit duidelik sou blyk dat die egtheid van julle geloof – ‘n egtheid wat baie kosbaarder is as goud, wat verganklik is, maar nogtans met vuur getoets word – uitloop op lof en heerlikheid en eer wanneer Jesus Christus geopenbaar word”.

Petrus skryf aan gelowiges wat verspreid gewoon het in die noordelike streke van Klein-Asië. Hulle het vervolging ondervind agv hul geloof. Hulle het onbillike en onregverdige behandeling ondervind. Petrus wil hulle bemoedig in daardie situasie. Hy sê dat hulle die onverdiende lyding as ‘n toetsing van hulle geloof moet sien. Hy gebruik dan vuur as ‘n simbool. Soos vuur die egtheid van goud toets, so is hul swaarkry ‘n toetsing van die egtheid van hul geloof. Daarom moedig hy hulle aan: “Gedra julle goed onder die heidene, sodat hulle, wanneer hulle julle beswadder, asof julle misdadigers is, God kan verheerlik, omdat hulle julle goeie dade gesien het” (2:12). Hy moedig werknemers aan om getrou te wees, al word hulle ook onbillik behandel omrede hul Christelike geloof en waardes - Christus het vir hulle ‘n voorbeeld nagelaat, sodat hulle in sy voetspore kan volg (2:18-21).

Hoe reageer ons wanneer dit ons voorland is? ‘n Mens kan jou voete stamp en skel. ‘n Mens kan selfs teenoor die Here opstandig raak. Petrus sê vir ons om dit liewer as ‘n toetsing van ons geloof te sien, nie as ‘n straf van God nie.

Mag die Here ons help om die toets te slaag wanneer dit kom.

Gerhard

Provided to YouTube by The Orchard EnterprisesSend Your Holy Fire...

Die deernis van GodVuur word as metafoor in die Bybel gebruik om beide God se deernis en sy toorn te beskryf.  In Hos 11...
01/09/2026

Die deernis van God

Vuur word as metafoor in die Bybel gebruik om beide God se deernis en sy toorn te beskryf. In Hos 11:8-9 word dit in dié twee tekste tegelyk genoem: “Hoe kan Ek jou prysgee, Efraim?...My hart is diep ontroer in My, die deernis brand in My. Ek sal nie in my brandende toorn optree nie; Ek sal nie omdraai en Efraim vernietig nie...”(2020-vertaling). Die spanning tussen God se oordeel oor sonde en sy vergewende liefde word hier verwoord.

Die profeet Hosea het opgetree voor die val van die Noordryk (ook genoem Israel of Efraim) in 722 vC. Die boek Hosea is oorheersend oordeelsprofesieë, met die doel om Israel te laat terugkeer na die Here. God se toorn oor Israel brand soos ‘n vuur in Hom. Maar daar is ook ‘n ander brand in God se hart, die brand van deernis vir sy volk. Die verrassende is dat laasgenoemde brand sterker brand: “Hoe kan Ek jou prysgee, Efraim? ...Ek sal nie omdraai en Efraim vernietig nie; want Ek is God, nie ‘n mens nie...”

Die Here se liefde is sterker as sy oordeel. Dit word ook op ander plekke in die Bybel bevestig, soos onder andere Klaagl 3:22-23: “Dit is deur die troue liefde van die Here dat ons nie omgekom het nie, ja, sy ontferming ken geen einde nie. Dit is elke oggend weer nuut...” Paulus kon daarvan getuig, so ook Levi die tollenaar, Petrus die verloënaar, die Samaritaanse vrou by die put.

Ek kan ook daarvan getuig. Dalk kan jy ook.

Gerhard

Twintig jaar nadat Retief Burger die lied Sekelmaan geskryf het, si...

Die teenwoordigheid van GodVuur is vir baie dinge nuttig. Ons kan daarmee kos maak, onsself warm maak, lig maak, ontsmet...
31/08/2026

Die teenwoordigheid van God

Vuur is vir baie dinge nuttig. Ons kan daarmee kos maak, onsself warm maak, lig maak, ontsmet, metale suiwer, ens. Vuur kan egter ook verwoes – d**k maar aan die verwoestende veldbrande in die onlangse verlede in die Overstrand. Wanneer vuur as metafoor in die Bybel gebruik word, dan word dit ook in beide positiewe en negatiewe sin gebruik. Ons kyk in hierdie week se dagstukke na enkele voorbeelde. Die eerste is Moses en die brandende doringbos.

Moses was besig om die kleinvee van sy skoonvader Jetro diep die woestyn in te jaag. Hy kom uit by die berg van God, Horeb. Hy sien daar iets buitengewoon, ‘n doringbos wat brand, maar wat nie uitbrand nie. Hy gaan nader om dit te bekyk. God praat met hom en sê hy moenie nader kom nie en sy sandale van sy voete aftrek, want die grond waarop hy staan is heilige grond. God roep Moses daar om na die Farao te gaan en die Israeliete uit Egipte te lei.

Waarom ‘n brandende doringbos?

Behalwe om Moses se aandag te trek, was dit ook ‘n simbool van God se teenwoordigheid en heerlikheid. Daar is ook ander voorbeelde, bv. toe Moses die kliptafels met die Wet op Sinaiberg ontvang het: “Die heerlikheid van die Here het vir die Israeliete gelyk soos ‘n verterende vuur op die kruin van die berg” (Eks. 24:17).

Wil dit vir ons sê dat ons ontsag moet hê vir God, soos wat ons ontsag het vir vuur? Ek d**k so.

Gerhard

Enjoy the videos and music you love, upload original content, and share it all with friends, family, and the world on YouTube.

Vrydag refleksie - 28 AugEk skryf hierdie boodskappie uit Goudini. Ons ry later vanoggend terug huis toe. Ek en Anton wa...
28/08/2026

Vrydag refleksie - 28 Aug

Ek skryf hierdie boodskappie uit Goudini. Ons ry later vanoggend terug huis toe. Ek en Anton was van Maandag af in Goudini saam met 600-700 leraars en diensleraars van regoor die land.

Hierdie keer was dit nie 'n sinode nie. Hier was nie lang debatte en moeilike besluite nie - dit gebeur weer volgende jaar, en dis ook nodig. Hierdie week was net 'n toerusting en battery-laai geleentheid. Daar was talle paralelle aanbiedings en werksessies regdeur die dag - elke leraar kon self besluit watter temas en aanbiedings om by te woon.

Die verpligte stilword-sessie soggens en saans was 'n wonderlike belewenis met lof, aanbidding, stilte, getuienis, bemoediging en baie meer. Ek en Anton het deurentyd bewus geword van die Here se teenwoordigheid. Daar was talle heilige oomblikke. Dit was ook 'n goeie saamtyd vir ons as kollegas en broers (Ps. 133:1).

Ek het hierdie week weer bewus geword hoeveel verskeidenheid daar in God se kerk is: maer dominees en oorgewig dominees, langes en kortes, aantreklik en onaantreklik, mans en vrouens, jonk en oud, slim en minder slim, ekstroverte en introverte, predikers en pastors, ens. Tog roep die Here ons almal om vir Hom te werk. Iewers is daar 'n gemeente wat lief is vir elke dominee hier, en wat opkyk na hom/haar. Hierdie klompie manne en vroue bedien amper 'n miljoen mense.

Die meeste stokke in God se hand is krom stokke - mense met dorings in hulle vlees. Ons as leraars dra, net soos ons lidmate, die merke van die lewe. Baie dominees het ook seergekry langs die lewenspad: geliefdes verloor, gesondheidsprobleme, bekommernisse oor geld, depressie, vrees vir verwerping, die tekens van oud word, ens.

Maar ons is opgewonde oor God, oor die kerk en oor die bediening. Ons is lief vir die NG kerk en trots op die kerk en gemeente waarvan ons deel is. Ons het nuwe krag en nuwe drome - vir onsself maar ook vir NG Onrusrivier. Bo alles is ons lief vir die Here

Gisteraand is ons bederf met geïnspireerde sang deur o.a. Jannie du Toit, Coenie de Villiers, George Meiring, Joe Black en Frieda vd Heever. Dit was 'n ongelooflike aand. Diep boodskappe. Eerlike menswees en eerlike geloof. Ons almal is net mense en hou net vas aan God se genade.

Dankie dat ons hierdie week kon deel wees hiervan - dit het vir ons baie beteken. Ons kon leer, rus, stilword, God ontmoet, nad**k oor ons roeping en droom oor die bediening.

Mooi dag!
Coenie & Anton

Woensdag 26 AugustusAangetrek en gereed"Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die li...
26/08/2026

Woensdag 26 Augustus
Aangetrek en gereed

"Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die listighede van die Duiwel" (Efe 6:11).

Paulus skryf vir die gemeente in Efese dat hulle die volle wapenrusting moet AANTREK. Jy kan nie oorlog toe gaan as jy nie reg aangetrek is nie - dit sal jou lewe kos. Die vyand het geen genade nie.

Dit val my altyd op dat ons nie toegerus word met aanvalswapens nie. Elke stukkie van die wapenrusting is daar om ons te beskerm: die helm, borsharnas, skild, gordel en skoene (6:14-18). Dis beskermingsklere. Ons word nie aangemoedig om te gaan oorlog maak teen die duiwel nie. Ons is nie opgewasse teen hom nie. Christus veg die oorlog teen Hom. Soos die lied sê: "The battle belongs to the Lord". Maar die duiwel val ons ook aan. Daarom kry ons die klere (uniform) om ons te beskerm.

Dit lyk vir my ons kry net twee wapens: die Woord van God en gebed. Dis al wapens wat ons het, en dis genoeg. Christus veg die oorlog vir ons. Ons moet net onsself verdedig. Daarvoor gebruik ons die Woord en gebed.

Kyk weer hoe begin hierdie gedeelte: "Verder nog dit: Soek julle krag in die Here en in sy groot mag" (Efe 6:10). Ons krag lê nie in onsself of ons wapens nie. Ons krag lê in Jesus self. Hy veg die oorlog vir ons en Hy gaan dit wen (Ope 20).

Is jy aangetrek en reg Vir die dag? Gaan jy die dag in met God se verlossing (helm), Sy vryspraak (harnas), die waarheid (gordel), geloof (skild) en bereidheid (skoene)? Het jy Bybel gelees en gebid vir die dag? Dan is jy veilig teen die aanslae van die Duiwel...

Mooi dag!
Coenie

Provided to YouTube by The Orchard EnterprisesWapenrusting · Will...

25 AugustusReg aangetrekSagaria 3:4 Hierop het die engel gereageer en aan diegene wat voor hom staan, gesê: “Trek sy bes...
25/08/2026

25 Augustus
Reg aangetrek

Sagaria 3:4 Hierop het die engel gereageer en aan diegene wat voor hom staan, gesê: “Trek sy besmeerde klere uit.” Vir Josua het hy gesê: “Kyk, ek het jou sondeskuld van jou weggeneem en ek sal vir jou feesklere aantrek.”

Max Lucado vertel dat hulle lank terug by 'n funksie gekom het, maar nie kon ingaan nie, omdat hulle nie die regte klere aangehad het nie. Die vereiste was dat mans ten minste 'n sportbaadjie moes aanhê; hy het nie 'n baadjie daar gehad nie. Hulle is summier toegang geweier deur die bestuurder.

Uiteindelik het die bestuurder gesê hy gaan kyk wat hy kan doen - hy sal 'n plan maak. Hy het vir 'n paar minute verdwyn en toe kom hy terug met 'n sportbaardjie. Dieselfde bestuurder wat hom nie kon toelaat nie, gee uiteindelik vir hom die klere wat Hy moet aanhê.

Dis wat God vir ons doen. Hy vereis dat ons reg geklee moet wees; met Jesus beklee moet wees. Maar uiteindelik is dit Hy wat uit genade uit vir ons die regte klere aantrek. Hy beklee ons met Christus. Hy doen wat ons nie reggekry het om te doen nie.

In Sagaria 3:4 sê die Here dat Hy ons vuil klere uittrek en vir ons skoon feesklere aantrek. Is dit nie wat die pa van die verlore seun ook gedoen het nie? "Trek vir hom feesklere aan!" (Luk 15). Soos wat ouers vir kinders skoon klere aantrek, trek ons hemelse Vader ons skoon aan. Hy gee vir ons die klere wat nodig is om by Sy tafel te sit. Hy gee die feesklere vir die fees. Hy beklee ons met Sy Seun.

Vertrou Hom om jou mooi aan te trek. Bly naby aan Hom en Hy sal jou mooi klee met Sy Seun, met liefde en goeie dade.

Groete uit Goudini.
Coenie

Praise song.Background: Argentina and Chile

Maandag 24 AugNuwe klereRom 13:14 "Beklee julle egter met die Here Jesus Christus; en maak nie voorsiening vir julle son...
24/08/2026

Maandag 24 Aug
Nuwe klere

Rom 13:14 "Beklee julle egter met die Here Jesus Christus; en maak nie voorsiening vir julle sondige aard om sy drange te bevredig nie." (2020)

Ons almal trek elke dag aan. Klere is deel van ons lewens. Ons dra klere om onsself te bedek, om warm te kry, onsself te beskerm en om doodgewoon mooi te lyk. Dis lekker om mooi aan te trek en mooi te lyk.

Maar ons dra ook klere om iets te sê. D**k maar aan Saterdag se groot wedstryd teen die All Blacks. Die pawiljoen was lekkerlik groen en swart. Ons klere sê watter span ons ondersteun. Dit sê waarmee of met wie ons assosieer of identifiseer.

Paulus gebruik die beeld van klere wanneer Hy met die gemeente in Rome praat. Hulle moet Jesus Christus "aantrek". Hulle moet hulself "beklee" met Jesus. Hulle moet assosieer met Jesus en lyk soos Jesus.

Dit kan maklik gebeur dat ons Sondae ons Jesus-klere aantrek en so bietjie soos Jesus lyk. Maandag tot Vrydag trek mens weer jou gewone klere aan en leef soos jy wil. Paulus moedig die gemeente aan om elke dag "beklee" te wees met Jesus: by die kerk, op Ellispark, in die mall, in die verkeer, voor my rekenaar, orals.

Lank gelede het Tersia vir 'n apteker in Pretoria gewerk. Een van die vroue wat saam met Tersia gewerk het, het soms bietjie yl aangetrek. Een oggend, terwyl die dame laat was vir werk, en weer effens yl geklee by die werk kom, het sy verduidelik: ek het bietjie verslaap vanoggend, toe het ek sommer vinnig "iets aangegooi". Die apteker het rustig maar eerlik geantwoord: "Wel, dit lyk of jy dit misgegooi het!"

Ons moet maar erken dat ons ook nie elke dag "beklee" is met Christus nie. Soms lyk dit ook maar of ons dit "misgegooi" het. Paulus moedig ons opnuut aan: Beklee julle met Christus. Trek Hom aan; trek Sy verlossing aan; trek Sy voorbeeld en gesindheid aan. Dis die mooiste klere...

Mooi dag!
Coenie

Website: https://whisperingHOPERecords.comSocials: ...

Address

46 Berg Straat
Onrus
7201

Opening Hours

Monday 08:00 - 13:00
Tuesday 08:00 - 13:00
Wednesday 08:00 - 13:00
Thursday 08:00 - 13:00
Friday 08:00 - 13:00
Sunday 09:00 - 11:00

Alerts

Be the first to know and let us send you an email when NG Gemeente Onrusrivier posts news and promotions. Your email address will not be used for any other purpose, and you can unsubscribe at any time.

Contact The Place Of Worship

Send a message to NG Gemeente Onrusrivier:

Shortcuts

Share