07/06/2026
Mens hoor gereeld: “Blom, waar jy geplant is.” Ek interpreteer hierdie uitdrukking as ‘n aanmoediging om te midde van moeilike
omstandighede (storms en elektrisiteits-
probleme) draers van God se genade, liefde
en hoop te wees. Ek het hierdie foto
geneem in Kathmandu twee jaar ná ’n
vernietigende aardbewing die stad ernstig
beskadig het. Wat die foto nié duidelik wys nie, is dat hierdie blom tussen die bourommel
van ’n gebou wat ineengestort het, groei. Iets anders wat net gedeeltelik op die foto sigbaar
is, is huishoudelike rommel wat op die perseel gestort is. Ek was in die stad ’n maand voor die
Monsoon reëns moes begin, wat gewoonlik help om die stad skoon te spoel. Tydens die paar
dae wat ek in die stad was, het ek dit as een van die mees besoedelde plekke ervaar waar ek
nog nooit was. So hier, tussen die reste van ’n vernietigde gebou en die oorweldigende
gemors, staan hierdie blom. Amper uit plek en vreemd in die omgewing: ’n Teken van hoop
te midde van die chaos rondom dit...
Dit is tans ’n deurmekaar tyd vir baie huishoudings en besighede ná die storm en vloed wat soveel skade aan ons infrastruktuur en huise aangerig het. Ek wil hierdie foto dan vir julle elkeen stuur as ’n herinnering dat dit God is wat vir ons die vermoë en die geleentheid gee
om juis binne hierdie omstandighede te groei en tekens van hoop te wees. Ons lewens kan
wys na God wat saam met ons in hierdie omstandighede is en ons verseker dat ons nie alleen is nie. – AlexC