NG Kerk Florandia

NG Kerk Florandia ONS ALLERBESTE VIR DIE ALLERHOOGSTE

08/09/2026

*God se Kragtige Liefde – Dag 2 van 7*
Angus Buchan

*Lees*
1 KORINTIËRS 13:8
1 JOHANNES 4:18
2 KORINTIËRS 13:11

*Oordenking*
*’n Liefde wat vasstaan*
Is daar vandag iets waarvoor jy bang is? Dalk sê jy dinge soos: “Ek weet nie hoe gaan ek my skuld betaal nie.” “My besigheid gaan vou.” “Ek rou nog oor iemand wat onlangs oorlede is.” Tog sê die Here volmaakte liefde het nie plek vir vrees nie.
Terwyl die Skotse prediker George Matheson nog ’n student was, het sy sig al hoe slegter geword. Die dokters het vir hom gesê daar is niks wat hulle kan doen nie, en dat hy blind sou word. Toe hy dit vir sy verloofde vertel, het sy hom verlaat omdat sy nie kans gesien het vir ’n lewe saam met ’n blinde man nie. Hy was verpletter en ontnugter.
Teen die tyd dat hy sy graad gekry het, was hy bykans heeltemal blind en het hy ’n klein plattelandse gemeentetjie gaan bedien. Sy suster het hom jare lank versorg, maar later ook getrou. Op haar troudag was hy besonder hartseer omdat sy hom sou verlaat. Dit was ook ’n herinnering aan sy eie hartseer jare gelede. Toe het die Here vir George ’n lied gegee wat hy in vyf minute voltooi het. Die lied _O Love that wilt not let me go _ vertel dat God ons nooit sal verlaat nie. Ons kan by Hom rus vind en ’n voller en ryker lewe ontvang wanneer ons ons ou lewe vir Hom gee.
Toe hy sterf, was George baie bekend in Engeland en het hy talle mense bemoedig. Kyk op, want die Here is vandag jou Bron van liefde en krag.

07/09/2026

*God se Kragtige Liefde – Dag 1 van 7*
Angus Buchan

*Lees*
1 JOHANNES 4:7

*Oordenking*
*God se kragtige liefde*
God se liefde is die sterkste krag in die wêreld. Dit motiveer mense om wonderlike dinge vir Hom te doen. Dit laat my dink aan Eric Liddell, ’n Britse Olimpiese atleet en Skotse rugbyspeler. As een van sy land se beste atlete is hy gekies om deel te neem aan die 100 m-wedloop vir die Olimpiese Spele van 1924 in Frankryk.
Liddell, ’n Christen, het geweier om deel te neem omdat die finale resies op ’n Sondag sou plaasvind. Die Britse owerhede het hom probeer oorreed om ’n uitsondering te maak. Hy sou vir seker ’n goue medalje vir sy land wen. Selfs die toekomstige koning, die prins van Wallis, kon hom nie sover kry om van plan te verander nie.
In plaas daarvan het Liddell aan die 200- en 400 m-wedlope deelgeneem omdat dit in die week gehou is. Hy het derde gekom in die 200 m-wedloop en die 400 m-wedloop nie net gewen nie, maar ook die Olimpiese en wêreldrekords gebreek.
’n Jaar later is hy China toe om daar sendingwerk te gaan doen. Tydens die Tweede Wêreldoorlog is hy deur die Japannese gevange geneem en hy is later dood in ’n interneringskamp. Hy het sonder ophou die evangelie verkondig.
Die liefde van God dwing ons om groot dinge vir God te doen en om groot dinge van God te verwag. God is so lief vir ons dat Hy sy enigste Seun gegee het sodat ons die ewige lewe mag hê (Johannes 3:16). Dink vandag aan God se wonderlike liefde vir jou en gaan doen groot dinge!

*God se Kragtige Liefde*Deur: Angus Buchan *Inleiding*“God se liefde is die sterkste krag in die wêreld. Jy kan dit glo ...
07/09/2026

*God se Kragtige Liefde*

Deur: Angus Buchan


*Inleiding*
“God se liefde is die sterkste krag in die wêreld. Jy kan dit glo en elke dag onthou. Dit maak nie saak wat in jou lewe gebeur nie, God sal altyd daar wees vir jou. Hy sal jou nooit verlaat nie. Glo dit met jou hele hart!” Dit is Angus Buchan se boodskap oor God se ewigdurende liefde in hierdie 7 oordenkings uit sy dagboek ALLES WAT EK NODIG HET.
Ons wil graag Christelike Kunsuitgewers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.cumbooks.co.za/

Ook gratis beskikbaar op www.youversion.com

FLORANDIËR 6 September 2026Biddag vir Dowes 09:00 – Dr Gerrie StrydomJeuggroepe tydens die erediensKom drink gerus ‘n ko...
04/09/2026

FLORANDIËR
6 September 2026
Biddag vir Dowes
09:00 – Dr Gerrie Strydom
Jeuggroepe tydens die erediens
Kom drink gerus ‘n koffie/tee na die diens

13 September 2026
09:00 Dr Johan Wildenboer

PROGRAM VIR DIE WEEK
Sondag, 06/09 Biddag vir Dowes
09:00 Erediens (Nagmaal) & Jeuggroepe
Woensdag, 09/09 10:00 Bybelstudie en gebed by die kerk.
Reeks: Jesus, dissipelskap en die Koninkryk.
Onderwerp: Die Koninkryk van God: reeds hier, maar nog nie voltooi.
Tema: “Leef tussen belofte en vervulling.”
Sondag, 13/09 Biddag vir Landbou en die Boerdery Gemeenskappe
09:00 Erediens & Jeuggroepe

Skakel om na die eredienste te luister https://ngflorandia.buzzsprout.com

Baie geluk! (lidmate 75 en ouer)
• Joey Engelbrecht 07/09
• Mike Laubscher 07/09
• Marie Labuschagne 09/09
• Susan Liebenberg 09/09
• Ella Myburgh 10/09
• Irene van Zyl 11/09
Ons bede is dat die nuwe lewensjaar vir u seën, goeie gesondheid, vrede, vreugde en geluk sal Inhou.

Gebedsversoeke
Indien u 'n gebedsversoek het, kontak gerus vir Petrie Mouton by 083 229 9953.
Alle gebedsversoeke word streng vertroulik hanteer.

Kerk en alles en nog wat.

04/09/2026

*Oor niks Beangs – Dag 5 van 5*
Max Lucado

*Lees*
FILIPPENSE 4:8
2 KORINTIËRS 10:5

*Oordenking*
*Dink na oor Hierdie Dinge*
Paulus se laaste opdrag in sy voorskrif vir angs, is om na te dink oor die dinge van God. Met ander woorde, kies waaroor jy dink. Stel jou gedagtes voor as vliegtuie in die lug bo 'n besige lughawe. Jy is in beheer van daardie lughawe se lugverkeer. Jy kan besluit watter gedagtes land en watter vlieg weg. Wil jy môre gelukkig wees? Laat die gedagtes van geluk vandag land. Wil jy môre ellendig wees? Laat gedagtes van skuld, bekommernis en vrees vandag land.
Genesing van angs, vereis gesonde denke. Om die waarheid te sê, jou uitdaging is nie jou uitdaging nie; jou uitdaging is die manier waarop jy dink oor jou uitdaging. Net so is jou probleem nie jou probleem nie, maar die manier waarop jy na die probleem kyk — dis jou probleem. Die Satan weet dit, daarom is hy altyd besig om leuens in jou denke te plant. Hy wil die manier beïnvloed hoe jy jou stryd of onsekerhede sien. Onthou dat hy nie die meester van jou verstand is nie.
Verder het jy 'n krag wat hy nooit kan verslaan nie, want jy het God aan jou kant. Wanneer angs swaar op jou hart druk, kan jy eenvoudig na God roep. Dit boei die skuldige en marsjeer dit voor die Een wat alle gesag het. Dit verhoed dat bekommernisse en vrese 'n platform kry om jou denke te beïnvloed. Dit bewaar jou gedagtes terwyl jy op God jou Vader vertrou.
Natuurlik, om dit te sê en dit te doen is twee verskillende dinge. Jy sal dalk wil besluit dat jy vandag net sal dink aan dinge wat waar, eerbaar en reg is ... selfs al maak dit jou dood. Wie kan dit regtig doen?
Daar is 'n eenvoudiger manier: maak dit net jou doel om aan Christus vas te klou. Bly in Hom. Gaan na Hom as jou bron van krag en die Een aan wie jou gedagtes gehoorsaam moet wees. Lees die Woord van God. Luister na preke. Aanbid Hom. Sit afleidings opsy en eis tyd vir Hom op. Verstaan dat as daar iets goeds in jou lewe kom, Hy die kanaal daarvoor sal wees.
Die oorheersende plig van die dissipel is om aan Jesus vas te klou. Wanneer jy aan Jesus vashou, vul jy jou gedagtes met die waarheid van God. Jy ontwapen die vyand en hou angs op 'n afstand. Jy ontvang God se waarheid. Dis daardie waarheid wat jou vrymaak – vry van spanning, vry van depressie, en, ja, vry van angs.
Om angstig te wees, beteken net dat jy 'n mens is. Dit beteken nie dat jy emosioneel onderontwikkeld, dom, duiwelbesete of 'n mislukking is nie. Dit beteken nie jou ouers het jou in die steek gelaat of jy vir hulle nie. En — dit is belangrik — dit beteken nie dat jy nie 'n Christen is nie. Ja, selfs Christene worstel met angs. Jesus self het met angs in die tuin van Getsemane geworstel. Hy het egter nie angstig gebly nie en jy hoef ook nie.
'n Nuwe dag wag op jou. ’n Nuwe tydperk waarin jy jou minder sal bekommer en meer sal vertrou. 'n Tydperk met verminderde vrees en versterkte geloof. Kan jy jou 'n lewe voorstel waarin jy oor niks angstig is nie?
God kan — en met sy hulp sal jy dit ervaar.
*Reageer*
Hoe het jou begrip van God se opperheerskappy oor jou probleme jou gehelp om jou gedagtes op goeie dinge te hou? Hoe word dit vir jou 'n stryd?
Wat beteken dit vir jou om jou oë op Jesus te rig? Hoe help dit jou om jou gedagtes gevange en gehoorsaam aan Christus te hou?
Watter strategie kan jy gebruik vir die volgende keer wat angs jou hart en denke probeer oorneem?

03/09/2026

*Oor niks Beangs – Dag 4 van 5*
Max Lucado

*Lees*
FILIPPENSE 4:7
JOHANNES 14:27

*Oordenking*
*Die Vrede van God sal jou Hart Bewaar*
Wanneer seevaarders 'n storm beskryf wat geen matroos kan ontsnap nie, noem hulle dit 'n "perfekte storm". Nie perfek in die sin van ideaal nie, maar perfek in die sin van verskeie faktore wat saamwerk. Al die elemente, soos die krag van 'n orkaan, sterk winde, 'n koue front en stortreën, werk saam om 'n onoorkombare ramp te skep. Die wind alleen sou 'n uitdaging wees — maar die winde asook die koue asook die reën? Dis 'n perfekte resep vir 'n ramp.
Jy hoef nie 'n seevaarder te wees om 'n perfekte storm te ervaar nie. Trouens, jy het ongetwyfeld al 'n paar in jou leeftyd teëgekom. 'n Aflegging by jou werk asook 'n resessie. 'n Siekte asook 'n werksverandering. 'n Verbreekte verhouding asook om by 'n universiteit afgewys te word. 'n Skielike verlies asook 'n onvoorsiene gebeurtenis wat jou toekoms bedreig. Afsonderlik kan hierdie elemente hanteerbaar wees, maar gesamentlik is hulle absoluut ysingwekkend. Dit is genoeg om jou te laat wonder, sal ek dit ooit oorleef?
Paulus se antwoord op daardie vraag is net so diepgaande as wat dit bondig is: “En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus” ... wanneer jy jou versoeke met danksegging aan God voorlê (Filippense 4:7). Met ander woorde, terwyl jy jou deel doen en die bekommernis aan God oorgee, doen Hy sy deel deur sy volmaakte vrede aan jou te skenk. Jy behoort bekommerd te wees ... maar jy is nie. Jy behoort ontsteld te wees ... maar jy is kalm. Die vrede van God oortref alle logika, planne en pogings om dit te verduidelik.
Toe Paulus voor ’n “volmaakte storm” op see te staan gekom het, het hy vir die matrose gesê: “Verlede nag het daar 'n engel aan my verskyn van die God aan wie ek behoort en wat ek dien. Die engel het vir my gesê: ‘Moenie bang wees nie, Paulus. Jy moet nog voor die keiser verskyn. En ter wille van jou spaar God in sy goedheid die lewe van almal wat hier saam met jou op die skip is’'" (Handelinge 27:23–24). Op die dek van 'n sinkende skip het God engele gestuur om vir Paulus te bedien. Hy sal dieselfde vir jou doen. Anders as die wêreld s'n, is sy hulpbronne onbeperk en sy vrede permanent.
Miskien het jy al gebid en gebid en niks gehoor nie. Moenie moed verloor nie! Rus in die waarheid dat, net soos God engele gestuur het om diegene te beskerm waarvan jy in die Bybel lees, Hy sy engele sal stuur om jou te beskerm — selfs terwyl jou storm aanhou woed. Toe jy jou lewe aan Hom gegee het, het Hy jou as 'n dierbare kind in sy familie opgeneem. Hy het 'n doel vir jou lewe en Hy nooi jou uit om deel te neem aan die verwesenliking van sy wil in die wêreld. Hy sal die storms gebruik om jou geloof en vertroue in Hom te laat toeneem.
As jy die Here soek, sal jy Hom vind. Soek Hom dus eers. Begin met aanbidding en danksegging. Gaan eerstens na jou Vader in gebed en lofprysing. Bely jou vrese aan Hom. Sluit by sy mense aan. Rig jou aangesig na God toe. Roep om hulp. Erken jou swakheid. Dan, sodra God beweeg, gee jy ook 'n tree en beweeg saam met Hom.
Verwag om te sien hoe die ewige God vir jou veg. Hy is naby, so naby soos jou volgende asemteug. Jy mag dalk die perfekte storm in die gesig staar, maar Jesus bied die volmaakte vrede.
*Reageer*
Dink aan 'n paar "perfekte storms" waarvoor jy al in jou lewe te staan gekom het. Wat het hulle so moeilik gemaak?
In watter opsig verskil die vrede van God van die soort vrede wat die wêreld bied?
Watter beskerming moet God nou aan jou voorsien? Hoe kan jy jou vertroue uitdruk in God se vermoë om te midde van hierdie moeilike omstandighede vir jou te sorg?

02/09/2026

*Oor niks Beangs – Dag 3 van 5*
Max Lucado

*Lees*
FILIPPENSE 4:6
1 PETRUS 5:7

*Oordenking*
*Rig jou versoeke aan God*
In Lukas 18:1–8 het Jesus 'n gelykenis vertel oor 'n weduwee wat aanhoudend na 'n onregverdige regter gegaan het. Die vrou het die regter so gepla dat hy uiteindelik ingestem het tot haar versoek, net om van haar ontslae te raak. Jesus het die gelykenis afgesluit deur te sê: "Sal God dan nie aan sy uitverkorenes, wat dag en nag tot Hom roep, reg doen nie?" (vers 8).
Hoe moet jy hierdie gelykenis verstaan? Is God 'n trae regter? Is jy 'n randfiguur soos hierdie weduwee? Is gebed 'n manier om God te pla totdat Hy ingee en jou gee wat jy wil hê? Nee, hierdie is 'n gelykenis van kontrasteer, nie vergelyk nie. God is nie soos die regter in die verhaal nie. Hy is nie huiwerig om die gebede van sy mense te beantwoord nie. As kind van die Koning kan jy jou enige oomblik tot hom wend. Hy sê nooit vir jou om te wag of om later weer te probeer nie. God is lief vir die klank van jou stem. Altyd. Hy kruip nie weg as jy met Hom praat nie. Hy hoor jou gebede.
Hoekom wil jy jou versoeke aan Hom voorlê? Waarom sal jy dit doen as Hy reeds weet wat jy gaan vra? Gebed is eintlik tot jou voordeel. Dit laat jou toe om in geloof op te tree na aanleiding van wat jy van sy karakter weet. Wanneer jy bid — oor die besonderhede van jou probleme — en jy sien hoe God spesifiek reageer, groei jou geloof. Jy bereik die punt waar jy vertrou dat God altyd daar sal wees vir jou, selfs te midde van die mees angswekkende oomblikke.
Gebed is eenvoudig 'n gesprek met jou hemelse Vader. Jy plaas jou angste in sy hande en herinner Hom — en jouself — aan die beloftes wat Hy in sy Woord gemaak het. Jy soek 'n belofte wat by jou probleem pas en bou jou gebed daarom. Hierdie gebede van geloof raak die hart van God en bring die engele in die hemel in beweging. Wonderwerke word aan die gang gesit. Jy ervaar minder verslaentheid en meer aanbidding. Minder angstige gedagtes — en meer gedagtes wat met gebede gevul is.
Danksegging is waarmee God jou help om die fokus van jouself af te neem en op Hom te plaas. Dankbaarheid is 'n kragtige wapen in die arsenaal teen angs, want dit lei jou uit die wens van "as dit maar net" en in die sfeer van "alreeds". Die angstige hart sê: “Here, as ek maar net dit of dat of iets anders gehad het, was ek reg.” Die dankbare hart sê: “Here, U het alreeds vir my dit, dat, en iets anders gegee. Dankie vir u seëninge, Vader.”
Christus-gebaseerde tevredenheid sal jou in 'n sterk persoon verander. Dit help jou om te besef dat aangesien niemand Christus van jou kan wegneem nie — niemand ook jou vreugde kan steel nie. Mislukking kan nie jou vreugde steel nie, want Jesus is groter as jou sonde. Teleurstellings kan nie jou vreugde steel nie, want al werk jou planne dalk nie uit nie, sal God se planne altyd uitwerk. Nie eens die dood kan jou vreugde steel nie, want Jesus het die dood self oorwin.
Wat jy in Christus het, is groter as enigiets wat jy nie het nie. Jy het die Vader wat jou baie liefhet en oor die magte van die hemel beskik om sy oog oor jou te hou en jou te beskerm. Jy het die lewende teenwoordigheid van Jesus binne-in jou. In Christus het jy alles. Anker dus jou hart aan die karakter van God. Hanteer elke angstige gedagte met 'n dankbare een, en berei jouself voor vir 'n nuwe dag van vreugde.
*Reageer*
Voel jy ooit dat jy God lastig val wanneer jy bid? Hoe word jou begeerte om met God te praat, beïnvloed deur die wete dat Hy gretig is om van jou te hoor?
Met watter gesindheid is jy geneig om te bid? Hoe sal jou gebede verander as jy konsentreer op wat God reeds in jou lewe gedoen het?
Oor watter angstige gedagtes wil jy spesifiek vandag bid? Hoe sal jy jouself herinner aan God se getrouheid van die verlede wanneer jy spesifiek vir hierdie behoeftes bid?

01/09/2026

*Oor niks Beangs – Dag 2 van 5*
Max Lucado

*Lees*
FILIPPENSE 4:5
JOHANNES 16:33

*Oordenking*
*Laat jou sagmoedigheid vir almal duidelik wees*
Ongekontroleerde angs kan soos 'n atoombom-ontploffing van woede-uitbarstings, oorhaastige beskuldigings en vurige vergelding wees teen diegene wat waag om jou pad te kruis. Hoeveel mense is al seergemaak as gevolg van sulke onbeteuelde spanning? Aan die ander kant, hoeveel rampe is al afgeweer omdat een persoon besluit het om kalm te bly?
Dit is hierdie kalmte waarna Paulus verwys wanneer hy sê: “'Laat almal sien hoe bedagsaam julle lewe” (Filippense 4:5 NLV). Bedagsaamheid kan ook beskryf word as sagmoedigheid. Die Griekse woord wat as sagmoedigheid vertaal word, beskryf 'n temperament wat gesoute en volwasse is. Dit stel 'n gesindheid voor wat by die geleentheid pas, koelkop en getemper. Die sagte reaksie is een van bestendigheid, gelykheid en regverdigheid.
Jesus het belowe dat “in die wêreld sal julle swaarkry beleef” (Johannes 16:33 NLV). Dit is so onvermydelik soos die son wat op 'n nuwe dag opkom — soos golwe wat woes op die kus van 'n strand breek. Wat jy ook moet onthou, is dat Jesus belowe het om te midde van daardie moeilikhede by jou te wees. Voordat Jesus hierdie aarde verlaat het, het Hy vir sy dissipels gesê: “'Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels ... leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld” (Matteus 28:19–20).
Trouens, deur die hele Bybel het God herhaaldelik belowe om by sy volk teenwoordig te wees. Hy was saam met Abram toe hy na 'n nuwe land gereis het. Hy was by Hagar toe sy die woestyn in gevlug het, en by Isak toe hy gedwing is om van plek tot plek te trek. Hy was saam met Josua toe hy teen die Kanaäniete te staan gekom het, en by Dawid toe hy deur die Filistyne gekonfronteer is. Hy was saam met Petrus in die tronk, en by Paulus — wanneer en waar hy hom ook al in haglike omstandighede bevind het.
God het nooit vanaf 'n afstand af gekyk nie. Trouens, sy Naam is Immanuel, wat "God by ons" beteken. Hy het vlees geword. Hy het sonde geword. Hy het die graf oorwin. Hy is steeds by jou.
Miskien veg jy vandag om 'n gesin bymekaar te hou, 'n onderneming aan die gang te hou, of om 'n skool van ondergang te red. Hoe jy daardie stryd hanteer, sal openbaar waar jou vertroue uiteindelik lê. As jy op Jesus vertrou en glo dat Hy altyd by jou is, sal 'n aansteeklike kalmte wat jou lewe oordek, die neweproduk van jou oorgawe van beheer aan Hom wees. Hierdie kalmte sal jou toelaat om te sien hoe God in jou situasie werk — en ander sal agterkom daar is iets anders aan jou. Dit sal genesing vir jou angs bring, jou geloof volwasse maak en ander wys dat God altyd getrou is.
Om jou angs te bestuur is soos om stompe uit die grond te trek. Sommige van jou bekommernisse het diep wortelstelsels en dit is harde werk om daarvan ontslae te raak. Jy hoef dit egter nie alleen te doen nie. Gee die uitdaging aan jou Vader en vra sy hulp.
Sal Hy die probleem oplos? Ja, Hy sal. Sal Hy dit dadelik oplos? Moontlik. Of dalk is deel van die toets, 'n gevorderde kursus in geduld. Dit is wel seker: hoeveel aansteeklike kalmte jy het, sal gemeet word aan die mate wat jy jou na Hom toe wend.
*Reageer*
Wie in jou lewe word die meeste geraak deur die wyse waarop jy op spanningsvolle situasies reageer?
Hoe sou jy die woord sagmoedigheid definieer? Sou jy sê jou antwoorde aan ander in spanningsvolle situasies is geneig om sagmoedig te wees? Hoekom of hoekom nie?
Hoe kan die wete dat God altyd in jou omstandighede teenwoordig is jou help om 'n gevoel van aansteeklike kalmte te behou?

31/08/2026

*Oor niks Beangs – Dag 1 van 5*
Max Lucado

*Lees*
FILIPPENSE 4:4
PSALMS 105:3

*Oordenking*
*Wees Altyd Bly in die Here*
Angs is 'n stortreën van "wat as'e". Wat as ek nie die transaksie sluit nie? Wat as ons nie draadjies vir die kinders se tande kan bekostig nie? Wat as my kinders skewe tande kry? Wat as skewe tande hulle daarvan weerhou om vriende te hê ... 'n loopbaan ... 'n huweliksmaat? Angs is die lewe in 'n mineur toonleer met majeur bekommernisse.
Is jou hart swaar van bekommernis? Het jy 'n bietjie kalmte nodig? Indien wel, is jy nie alleen nie. Om angs en bekommernis te oorwin, verg 'n bietjie werk van jou kant af, maar dit is nie God se wil dat jy 'n lewe van voortdurende angs lei nie. God het sy kinders lief. Hy hou toesig oor jou wêreld. Hy hou jou lewe dop.
In Filippense 4:4 bied Paulus raad wat as 'n "voorskrif" teen angs en bekommernisse beskou kan word. Interessant genoeg begin hierdie voorskrif met 'n oproep: "Wees altyd bly in die Here." Paulus het elke hulpmiddel tot sy beskikking gebruik om sy lesers se aandag te trek. Eerstens gebruik hy 'n werkwoord sodat mense weet hulle moet iets doen, hulle moet "voortdurend, uit gewoonte bly wees!" Asof die werkwoord nie genoeg is nie, het hy die vervaldatum verwyder: "Wees altyd bly in die Here." Nog steeds was dit nie vir hom genoeg nie en herhaal hy die opdrag: "Ek herhaal: Wees bly!"
Hoe moet jy egter hierdie opdrag gehoorsaam? Deur die opperheerskappy van God te erken. Die mees gespanne mense is beheervrate. Hoe meer hulle probeer om die wêreld te beheer, hoe meer besef hulle dat hulle nie kan nie. Die lewe word dan 'n kringloop van angs, mislukking; angs, mislukking; angs, mislukking. Wanneer jy erken daar is reeds Iemand op die hemelse troon, laat jy toe dat die Here beheer oorneem. God kalmeer dan jou vrese — nie deur die probleem te verwyder nie — maar deur sy Goddelike krag en teenwoordigheid te openbaar. Jou angs neem af namate jou begrip van God, jou Vader, toeneem.
Volgende keer wat jy die toekoms vrees, moet jy liewer jouself verbly in die Here se opperheerskappy. Wees bly oor wat Hy bereik het. Wees bly dat Hy in staat is om te doen wat jy nie kan doen nie. Vul jou denke met gedagtes oor Hom. Waar ander die probleme van die wêreld sien en hul hande begin wring, moet jy daardie probleme sien en jou knieë buig. Verhef jou denke doelbewus met gedagtes oor jou koning. Moenie in jou probleme verstrengel raak nie. Waag dit om te glo dat goeie dinge sal gebeur. Ondersoek wat jou geloof onderhou en maak seker dat jou geloof in God gevestig is om te kan vertrou dat Hy in beheer is.
Besef ook dat God jou van die skuldgevoelens en moeras van spyt bevry het wat dalk jou angs veroorsaak. Skuldgevoelens wat nie besleg is nie, kan jou in 'n mens verander wat wegkruip, hardloop, ontken en voorgee. Skuldgevoelens kan die lewe uit jou siel suig. Genade herstel egter daardie lewe en help jou om God se vergifnis te vertrou. Die resultaat is die vermoë om ongehinderd bly te wees, met vertroue in God se opperheerskappy.
Jou Vader se hande is oop, plaas jouself dus geheel en al in sy sorg. Terwyl jy dit doen, sal jy agterkom dat dit moontlik is — ja, moontlik! — om oor niks angstig te wees nie.
*Reageer*
Hoe is vreugde 'n keuse? Hoe lyk vreugde in die Here vir jou?
Hoe sou jy beskryf hoe jy in God se beheer oor jou lewe vertrou? Noem 'n paar maniere waarop jy God se oppermagtige hand in jou lewe al sien werk het.
Hoe kan deur elke dag tyd in God se teenwoordigheid deur te bring, jou help om jou altyd in die Here te verbly?

*Oor Niks Beangs*Deur: Max Lucado *Inleiding*Topverkoper skrywer Max Lucado ondersoek God se behandelingsplan vir angs w...
31/08/2026

*Oor Niks Beangs*
Deur: Max Lucado


*Inleiding*
Topverkoper skrywer Max Lucado ondersoek God se behandelingsplan vir angs wat in Filippense 4:4–8 gevind word. Terwyl jy hierdie voorskrif volg — om God se goedheid te vier, om sy hulp te vra, jou bekommernisse by Hom te los en oor goeie dinge te peins — sal jy God se vrede ervaar. Alhoewel angs deel van die lewe is, hoef dit nie jou lewe te oorheers nie.
Ons wil graag *vir Max Lucado, HarperCollins en Thomas Nelson bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.thomasnelson.com/9780310087311/anxious-for-nothing-study-guide/

Ook gratis beskikbaar op www.youversion.com

*NOTA*
Elke dagstukkie in hierdie reeks mag dalk bietjie langer wees as die “gewone” maar moet dit nie *haastig* probeer lees nie. Doen dit liewer oor 2 dae want die inligting is regtig kosbaar.
Oordink en beantwoord die vrae aan die einde van elke dag biddend.

Address

321 Blouaalwyn Street
Akasia
0182

Opening Hours

Monday 08:00 - 16:00
Tuesday 08:00 - 16:00
Wednesday 08:00 - 16:00
Thursday 08:00 - 16:00
Friday 08:00 - 16:00
Sunday 09:00 - 10:00

Website

Alerts

Be the first to know and let us send you an email when NG Kerk Florandia posts news and promotions. Your email address will not be used for any other purpose, and you can unsubscribe at any time.

Contact The Place Of Worship

Send a message to NG Kerk Florandia:

Shortcuts

Share