Nikos Gemeente

Nikos Gemeente Twitter -
Instagram -

29/06/2026

JESUS IS GISTER EN VANDAG DIESELFDE TOT IN ALLE EWIGHEID

Wanneer ons sê dat Jesus aan Paulus 'n ander stel instruksies gegee het as dié wat Hy aan die twaalf apostels van Israel gegee het, gebruik tradisionele Christene dikwels Hebreërs 13:8 as teenargument:

"Jesus Christus is gister en vandag dieselfde tot in ewigheid." (Heb 13:8)

Almal verstaan dat God se karakter en persoonlikheid onveranderlik is, maar ons moet nie God se onveranderlike karakter verwar met Sy handelinge met die mens deur die eeue heen nie. Sy karakter verander nooit, maar Sy administrasie en instruksies aan mense het wel deur verskillende tydperke verander. Ons sien dit duidelik deur die Skrif.
Aan die begin het God alles wat die aarde voortbring aan die mens gegee om te eet. Later is sekere diere bygevoeg, terwyl ander verbied was. Nog later lees ons dat alles wat in die slaghuis verkoop word geëet mag word.
In dieselfde sin was veelwywery in sekere tydperke toegelaat, terwyl dit later nie meer toegelaat was nie.
Regdeur die eeue het God verskillende instruksies aan verskillende mense in verskillende tye gegee. Mense is regverdig verklaar op grond van hulle geloof in dit wat God spesifiek aan hulle geopenbaar het.
• God het aan Noag geopenbaar dat daar 'n vloed sou kom en hom beveel om 'n ark te bou. Noag se geloof en gehoorsaamheid is hom tot geregtigheid gereken.
• God het aan Abraham 'n erfenis belowe en hom beveel om sy land te verlaat. Abraham se geloof in God se openbaring is hom tot geregtigheid gereken.
• God het deur Moses die wet aan Israel gegee. Israel moes die verbond onderhou wat aan hulle gegee is.
• Jesus het tydens Sy aardse bediening aan Israel verkondig dat hulle in Hom moes glo, hulle moes bekeer en laat doop.
• Daarna het die opgestane Christus Paulus geroep as apostel van die heidene en aan hom die verborgenheid geopenbaar, naamlik die evangelie van die genade van God wat fokus op Christus se dood, begrafnis en opstanding.
• Vandag word ons geregverdig deur geloof alleen in die volmaakte, afgehandelde werk van Christus aan die kruis, sonder die werke van die wet.

Dit is dus duidelik dat die inhoud van God se openbaring, en dit wat mense moes glo om geregverdig te word, deur die eeue verander het.
Niemand bring vandag offers vir genesing of vir kinders wat gebore word nie, omdat ons weet dat Christus die volmaakte offer is (Matt 8:4; Luk 2:23-24).

Ons gaan ook nie meer uitsluitlik na "die verlore skape van die huis van Israel" nie, want deur Paulus se openbaring weet ons dat daar vandag geen onderskeid tussen Jood en heiden is nie en dat die evangelie aan alle mense verkondig moet word (Matt 10:5-6; Kol 3:11; 1 Tim 2:4).

Ons onderhou ook nie meer die wet nie; ons word nie besny om geregverdig te word nie; ons volg nie meer die reinigingsvoorskrifte van Levitikus nie; ons verkoop nie al ons besittings om dit aan almal uit te deel soos in Mattheüs 19:21 en Handelinge 2:44-45 nie; en ons word ook nie gedoop om gered te word soos in Markus 16:16 en Handelinge 2:38 nie.

Die rede hiervoor is eenvoudig: God handel vandag anders met die mensdom onder die bedeling van genade as wat Hy vroeër met Israel onder die wet en die verbond gehandel het.

Wat baie mense miskyk, is dat Hebreërs 13:8 nie leer dat God se administrasie met die mensdom nooit verander nie. Die vers beklemtoon Jesus Christus se onveranderlike persoonlikheid, karakter en Sy getrouheid om Sy beloftes te vervul.

Die Hebreërskrywer bemoedig die Hebreeuse gelowiges om vas te staan by die leer wat hulle ontvang het, omdat die Here Jesus altyd getrou bly aan wat Hy belowe het. Dit is dus verkeerd om Hebreërs 13:8 te gebruik as bewys dat God se handelinge met die mens nooit verander nie.

Jesus se hemelse bediening deur Paulus aan alle nasies onder genade verskil van Sy aardse bediening aan "die verlore skape van die huis van Israel" onder die wet en die verbond. Dit verander egter geensins Sy onveranderlike persoonlikheid en karakter nie en daarom moet jy nie verbaas wees om te hoor dat God verskillende dinge aan verskillende mense in verskillende tye gesê het nie. Sy karakter en persoonlikheid verander nooit, maar Sy openbaring en Sy administrasie het deur die eeue ontwikkel volgens Sy plan en voorneme.

"Jesus Christus is gister en vandag dieselfde tot in ewigheid." (Heb 13:8)

Dieselfde Persoon, maar nie dieselfde instruksies vir elke bedeling nie.

04/04/2026

JESUS SONDER DIE KRUIS

’n Groot probleem in Christendom is nie dat mense té min oor Jesus praat nie. Inteendeel, daar word baie oor Hom gepraat - Sy liefde, Sy goedheid, Sy omgee, Sy wonderwerke en Sy leringe, veral die bergpredikasie word wyd verkondig. Die probleem is dat meeste se gesprekke en evangelie gefokus is op Jesus se aardse bediening - met ander woorde, Sy bediening voor die kruis.

Dis nogal interessant dat Paulus Jesus nooit verkondig het ooreenkomstig Sy aardse bediening voor die kruis nie. Lees hoe Paulus dit stel:

1 Kor 2:2 "want ek het my voorgeneem om niks anders onder julle te weet nie as Jesus Christus, en Hom as gekruisigde."

Ons weet Jesus is altyd dieselfde - gister, vandag en tot in ewigheid, maar wat nie gemis kan word nie is dat daar ’n wesenlike verskil is in Jesus se bediening. Die Jesus vóór die kruis was in die swakheid van die vlees, was gestuur net na die verlore skape van die huis van Israel, en het die Evangelie van die Koninkryk verkondig - 'n evangelie wat wet, werke en godsdienstige prestasies ingesluit het. Die Evangelie van die Koninkryk was ’n boodskap aan Israel om hulle gereed te maak vir hul aardse Millennium koninkryk wat, toe Jesus in hulle midde was op hande was.

Hierdie fase van Jesus se bediening was vóór die kruis, vóór Sy bloed gestort is en vóór die werk van die kruis voltooi is. Dit was ’n Jesus sonder die kruis en sonder die voltooide werk van die kruis. Nog iets ontrent hierdie fase van Jesus se bediening was dat die aardse koninkryk van Israel uitgestel is tot na die bedeling van genade. Dit is dus nie meer op hande nie en daarom is die Evangelie van die Koninkryk wat gedien het as 'n uitnodiging vir die koninkryk ook nie vandag meer geldig nie.

Maar dan is daar ook die Jesus ná die kruis. Nie meer in swakheid en vernedering nie, maar in heerlikheid. Nie meer beperk tot Israel nie, maar geopenbaar aan die wêreld. 'n Opgestane verheerlikte hemelse Christus wat sit aan die regterhand van God. Die Jesus na die kruis se boodskap is nie die Evangelie van die Koninkryk wat die wet, werke en godsdienstige prestasies nie, maar die Evangelie van die Genade van God waar redding uit genade alleen deur die geloof sonder die werke is, ’n uitnodiging nie tot ’n aardse koninkryk nie, maar ’n ewige hemelse erfenis.

Die groot verskil is: Die Jesus vóór die kruis wys vorentoe na die kruis. Die Jesus ná die kruis openbaar aan ons die voltooide werk van die kruis, en dit verander alles want nou praat ons nie net van Sy lewe nie, maar ook van Sy dood, begrafnis, opstanding en verheerliking. Nie net van Sy voorbeeld nie, maar van Sy voltooide werk. Nie net van wat Hy gedoen het op aarde nie, maar van wat Hy bewerk het vir ons in die hemel en hoe Hy vandag besig is met die bou van die liggaam van Christus.

Om net die Jesus vóór die kruis te verkondig, is om ’n onvolledige, onvoltooide evangelie te verkondig, maar om die Christus ná die kruis te verkondig, is om die krag van God tot redding bekend te maak - met al die geestelike seëninge, die rykdom van genade, en ons as die Liggaam van Christus se posisie en identiteit in Hom.

D**k mooi daaroor: Die evangelie vóór die kruis het nog binne die raamwerk van die wet, werke, volharding en verbondsverantwoordelikheid gefunksioneer. Dit was nie die Evangelie van Genade soos ons dit vandag ken nie.

Die evangelie wat ons vandag verkondig, die Evangelie van die Genade van God is nie ’n voortsetting van die Koninkryksevangelie nie. Inteendeel, dit het niks met Israel se koninkryk in gemeen nie. Dit is ’n openbaring, ’n Goddelike onthulling wat eers later aan die apostel Paulus geopenbaar is, ’n evangelie wat die fokus plaas op die voltooide werk van die kruis, geregtigheid deur die geloof sonder werke, versoening sonder verdienste en ’n hemelse identiteit in Christus

Jesus se aardse bediening was heilig, doelgerig en volmaak, maar dit was gefokus op Israel, binne ’n spesifieke tyd en doel soos Hy self gesê het in Matthéüs 15:24:
“Ek is net gestuur net na die verlore skape van die huis van Israel” en soos Paulus in Romeine 15:8 bevestig: Hy het ’n dienaar geword van die besnydenis om die beloftes aan die vaders te bevestig.
Maar nou…ná die kruis, ná die opstanding, en ná die openbaring van die verborgenheid verkondig ons nie meer ’n Jesus wat op pad is kruis toe nie. Ons verkondig ’n Christus wat klaar gekruisig is, 'n Christus wat gesê het "Dit is volbring", ’n werk wat klaar afgehandel is, en ’n redding wat nie verdien kan word nie, maar net uit genade deur die geloof ontvang kan word.

Moet dus nie vassteek en parkeer by ’n Jesus vóór die kruis nie want as jy daar bly sal jy altyd probeer werk vir wat reeds klaar gedoen is, maar wanneer jy die kruis sien vir wat dit werklik is, dan verander alles. Dan besef jy jy werk nie vir aanvaarding nie, jy werk nie vir vergifnis nie, jy werk nie vir geregtigheid nie - Jy werk vanuit dit wat reeds joune in Christus is. Moenie Jesus volg op pad na die kruis nie. Ontmoet Hom aan die ander kant daarvan.

Address

101 Rooikat Str
Akasia
0182

Alerts

Be the first to know and let us send you an email when Nikos Gemeente posts news and promotions. Your email address will not be used for any other purpose, and you can unsubscribe at any time.

Contact The Place Of Worship

Send a message to Nikos Gemeente:

Shortcuts

Share