SDA PE Wes Gemeente

SDA PE Wes Gemeente This is the official page for the Afrikaans Seventh Day Adventist church located in Westering, Port Elizabeth.

Nagmaal 6 Junie 2026, PE Wes Gemeente. Almal Welkom đŸ™đŸ» Sien julle daar.
05/06/2026

Nagmaal 6 Junie 2026, PE Wes Gemeente. Almal Welkom đŸ™đŸ» Sien julle daar.

Onbeskryflike genadeSkriftuur:  “Toe die Here by hom verbygaan, het Hy uitgeroep: Here, Here, barmhartige en genadige Go...
04/06/2026

Onbeskryflike genade

Skriftuur: “Toe die Here by hom verbygaan, het Hy uitgeroep: Here, Here, barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou; wat die goedertierenheid bewaar vir duisende, wat ongeregtigheid en oortreding en sonde vergewe, maar nooit ongestraf laat bly nie; wat die ongeregtigheid van die vaders besoek aan die kinders en die kindskinders, aan die derde en aan die vierde geslag.” - Eksodus 34: 6,7

“Genade, onbeskryflik groot!” klink die bekende woorde van “Amazing Grace.” Die vraag vanoggend is: Het al werklik die genade van God in jou lewe ondervind? Genade wat aan jou as sondaarskind deur die bloed van Jesus van al jou sondes gewas het?

Genade is een van die primĂȘre eienskappe van God se karakter gebore uit God se oneindige liefde vir elkeen van ons – selfs die grootste sondaar. Geen sonde is te groot dat God dit nie kan vergewe nie en geen sonde is te klein dat God dit nie hoef te vergewe nie.

Ons behoort die Here om vergifnis te vra, met die wete dat “die Here... die barmhartige en genadige God, lankmoedig, vol liefde en trou [is]” (Ps. 103:8, NAB).
“Ja, Ek het jou liefgehad met ’n ewige liefde; daarom het Ek jou getrek met goedertierenheid.” — Jeremia 31:3.

Die feit dat die Here barmhartig, genadig en geduldig is, asook oorvloedig in troue liefde is, is juis die rede waarom Jesus aan die kruis gesterf het: sodat ons verhouding met God herstel kan word.
Die kruis van Christus is die grootste bewys van daardie oneindige liefde. Daar sien ons hoe ver God bereid was om te gaan om verlore mense terug te bring na Homself.

Ons moet bereid wees om ons sondes te erken en te bely. Ons moet sĂȘ: “Liewe Heer, hier is ek alweer” en dan soos die tollenaar bid: “wees my, sondaar, genadig!” (Luk. 18:13, NAB).

"Hierdie gevoel van skuld moet aan die voet van die kruis van Golgota neergelĂȘ word. Die besef van sonde het die fonteine van die lewe en ware geluk vergiftig. Nou sĂȘ Jesus: 'LĂȘ dit alles op My; Ek sal jou sonde wegneem. Ek sal jou vrede gee.'" - Lift Him Up, bl. 256.

Vandag nooi Hy elkeen weer: “Kom na My, almal wat vermoeid en belas is en Ek sal julle rus gee.” Matt 11: 28.
Openbaring 3: 20: “Kyk, Ek staan by die deur en klop

Kom ons haas ons na Jesus, en verruil ons sondes en swaarmoedigheid vir sy geregtigheid (Sag. 3:4).

“Want die loon van die sonde is die dood; maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here” (Rom. 6:23, AFR20).

“God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was” (Rom. 5:8, OAB).

“I once was lost, but now I’m saved
”

Bid saam: Vader, ons kom vanoggend na die kruis van Jesus. Ons bely ons sondes en ons diepe afhanklikheid van U genade. Vergewe ons en reinig ons van alle sondes. In Jesus se Naam. Amen.

Van as tot vreugde-olie.Skriftuur: “om te beskik oor die treurendes in Sion, om aan hulle te gee sieraad vir as, vreugde...
03/06/2026

Van as tot vreugde-olie.

Skriftuur: “om te beskik oor die treurendes in Sion, om aan hulle te gee sieraad vir as, vreugde-olie vir rou, ’n gewaad van lof vir ’n verslae gees
” — Jesaja 61:3 (AFR53)

Daar is tye in ons lewens waar alles soos as voel — drome wat verbrand het, pyn wat swaar druk, en ’n hart wat gebreek is. ⁠Maar God se hart is nie om jou in die as te los nie. Hy is ’n God van herstel, vernuwe en hoop gee.

Waar jy net verlies sien, sien Hy moontlikheid. Waar jy rou ervaar, bring Hy vreugde-olie. Waar jou gees swaar en verslae is, trek Hy vir jou ’n gewaad van lof aan.

God neem dit wat gebreek is en maak dit mooi. Hy verander nie net jou omstandighede nie — Hy verander jou hart, jou perspektief en jou toekoms. ⁠Dit wat soos die einde voel, word in Sy hande ’n nuwe begin. Jesus is die antwoord op alles wat jy nodig het. Nie mense nie. Nie omstandighede nie. Net Hy.

Liewe vriend, Hy is die ware Rots — vas, betroubaar en onveranderlik. Wanneer alles rondom jou skud, kan jy op Hom staan en weet: Hy sal jou nie los nie.

Kom bid saam: Hemelse Vader, dankie dat U my nie los in my gebrokenheid nie. Dankie dat U my as verander in iets mooi, my rou in vreugde en my swaar hart in lof. Help my om op U te vertrou as my vaste Rots, en om te glo dat U besig is om alles in my lewe nuut te maak. Amen.

Ons Grootste BehoefteSkriftuur: "Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie...
01/06/2026

Ons Grootste Behoefte

Skriftuur: "Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle nie in My bly nie." — Johannes 15:4

Ons leef in 'n tyd waarin baie mense tevrede geraak het met 'n oppervlakkige godsdiens—'n vorm van godsaligheid sonder die krag daarvan. Baie ken die waarheid, praat oor die waarheid en verdedig die waarheid, maar die hart is nie volkome aan Christus oorgegee nie. God soek egter nie bloot mense wat Hom met die lippe eer nie; Hy soek mense wie se harte geheel en al aan Hom behoort.

Die grootste behoefte van die mensdom is nie meer kennis, groter welvaart of meer sukses nie. Ons grootste behoefte is Jesus Christus. Sonder Hom kan die siel nie leef nie. Soos 'n loot nie sonder die wynstok kan bestaan nie, kan geen Christen geestelik groei sonder 'n daaglikse, lewende verbinding met sy Verlosser nie. Wanneer hierdie verbinding verswak, word gebed 'n plig eerder as 'n voorreg. Die Bybel verloor sy kosbaarheid. Die dinge van die wĂȘreld begin die plek inneem wat Christus alleen behoort te vul.

Die Here roep ons daarom tot volkome oorgawe. Nie gedeeltelike oorgawe nie. Nie 'n godsdiens van gerief nie. Nie 'n Christenskap wat slegs op een dag in die week beoefen word nie. Hy vra alles. Die hart, die wil, die planne, die begeertes en die toekoms. Ware vrede word slegs gevind wanneer die mens homself sonder voorbehoud in die hande van God plaas.

Die Heilige Gees verlang om in elke gelowige die beeld van Christus te vorm. Maar heiligheid kom nie vanself nie. Dit word nie ontvang deur bloot die naam van Christus te bely nie. Dit kom wanneer ons ernstig na God soek, wanneer ons hongers en dors na geregtigheid, wanneer ons tyd maak vir gebed, Bybelstudie en gemeenskap met Hom. Baie verlang na die seëninge van God, maar min soek die Gewer van daardie seëninge met hulle hele hart.

God laat Hom nie bespot nie. Wat 'n mens saai, dit sal hy ook maai. Geen uiterlike godsdiens kan die plek inneem van 'n hart wat deur die genade van Christus gereinig is nie. Geen kerkverbintenis, geen kennis van profesie, geen belydenis van geloof kan die werk vervang wat die Heilige Gees in die binneste moet verrig nie.

Die karakter wat geskik is vir die hemel word nie eendag daar gevorm nie; dit word vandag gevorm. Elke dag wat ons nalaat om nader aan God te leef, maak die hart harder en die stem van die Gees stiller. Daarom is vandag die dag om die knie dieper te buig. Vandag is die dag om die Woord met groter erns te ondersoek. Vandag is die dag om elke bekende sonde af te lĂȘ en nader aan Christus te wandel as ooit tevore.

Die hemel is nie bloot 'n bestemming nie; dit is 'n lewe wat reeds hier begin. As ons eendag saam met die hemelse skare die lof van God wil besing, moet ons nou reeds leer om hemelsgesind te wees. Ons gedagtes, ons begeertes, ons gesprekke en ons prioriteite moet al hoe meer die geur van die hemel dra. Slegs dié wat hier leer om in Christus te bly, sal die vreugde ervaar om vir ewig in Sy teenwoordigheid te woon.

Bid saam: Hemelse Vader, wys my vandag op my groot behoefte aan U. Bewaar my van 'n oppervlakkige godsdiens en gee my 'n hart wat volkome aan U behoort. Reinig my deur die bloed van Jesus, vervul my met die Heilige Gees en leer my om elke dag in Christus te bly. Vorm my karakter vir die hemel en maak my lewe 'n weerspieëling van U heiligheid. Help my om vandag nader aan U te leef as ooit tevore. In Jesus se Naam. Amen.

- Gebaseer op uitreksels uit Selected Messages en The Sanctified Life.

Die Heiligheid van God se NaamSkriftuur: “Jy mag die Naam van die HERE jou God nie ydellik gebruik nie, want die HERE sa...
30/05/2026

Die Heiligheid van God se Naam

Skriftuur: “Jy mag die Naam van die HERE jou God nie ydellik gebruik nie, want die HERE sal die een wat sy Naam ydellik gebruik, nie ongestraf laat bly nie.” — Eksodus 20:7

Die Naam van God is heilig. Dit is nie maar net ’n titel of ’n gewone woord nie. In die Bybel verteenwoordig God se Naam Sy karakter, Sy heiligheid, Sy mag, Sy waarheid en Sy teenwoordigheid. Wanneer ons van God praat, praat ons van die Skepper van hemel en aarde — die Ewige “EK IS”, die Een voor wie engele hulle aangesigte bedek en uitroep: “Heilig, heilig, heilig is die HERE!”

Hierdie Naam was vir Israel so heilig dat hulle dit dikwels nie eens hardop wou uitspreek nie. Hulle het diep besef: God is nie soos ’n mens nie. Hy is heilig.

Die Naam JHWH beteken die Ewige, Selfbestaande Een, Hy wat was, is, en altyd sal wees, die onveranderlike God, die VerbondsGod wat getrou bly. God is die groot “EK IS WAT EK IS.” — Eksodus 3:14. Met ander woorde: God bestaan uit Homself. Hy ontvang nie lewe van iemand anders nie. Hy is die Bron van alle lewe.

Die engele aanbid Hom met bedekte aangesigte. Die hemel eer Sy Naam. Hoe versigtig behoort Ăłns dan nie te wees wanneer ons Sy Naam gebruik nie? God se Naam word gebruik in grappies, vloekwoorde, oppervlakkige uitroepe en alledaagse praatjies. Mense spreek die Naam van Jesus uit sonder eerbied, sonder nadenke, sonder ontsag. Selfs gelowiges kan maklik so gewoond raak aan heilige dinge dat die eerbied verdwyn.

Maar Jesus het ons geleer bid: “Laat u Naam geheilig word.” — Matteus 6:9

Om Sy Naam te heilig beteken om dit apart, heilig en kosbaar te beskou. Dit beteken ons spreek Sy Naam met respek uit. Ons gebruik dit nie ligtelik of onnadenkend nie. Ons praat nie van God asof Hy gewoon of alledaags is nie. Ons lewe self behoort ook Sy Naam te eer, want ’n mens kan God nie met die lippe eer terwyl die lewe Hom verloĂ«n nie.

Die derde gebod waarsku ons ernstig teen ydellike gebruik van God se Naam. Dit sluit nie net vloektaal in nie, maar ook huigelary, ligsinnigheid en ’n gebrek aan eerbied vir heilige dinge. Hoe maklik kan ons bid sonder eerbied, sing sonder aanbidding, of van God praat sonder werklike ontsag.

Wanneer Jesaja die Here sien, roep hy uit: “Wee my, ek is verlore!” — Jesaja 6:5
Waarom? Omdat hy skielik iets van God se heiligheid gesien het.

Hoe nader ons aan God leef, hoe groter word ons eerbied vir Sy Naam. Dan verdwyn die oppervlakkigheid. Dan besef ons: ons dien nie ’n gewone god nie, maar die Koning van die heelal.

Mag ons weer leer om stil te word voor God. Om Sy Naam met liefde, ontsag en diepe eerbied te gebruik. Om nie net met ons mond te sĂȘ “Here, Here” nie, maar deur ons hele lewe Sy heilige Naam te verheerlik.

Bid saam: : Heilige Vader, vergewe my waar ek soms sonder eerbied met u Naam omgaan. Leer my om U met ontsag te aanbid en met respek van U te praat. Laat u Naam in my woorde, my denke en my lewe geheilig word. In Jesus se Naam. Amen.

We’re helping those in need, and helping us to help others is greatly appreciated. Any contributions can be delivered to...
29/05/2026

We’re helping those in need, and helping us to help others is greatly appreciated. Any contributions can be delivered to church on Sabbath (Saturday) mornings between 9:30 and 11. All contributions will be greatly appreciated and distributed where needed. Alternatively, please contact Trompie Theron on 0723332390.

Soos skape onder wolweSkriftuur:  “Ek stuur julle soos skape tussen wolwe in; wees dan versigtig soos slange en opreg so...
29/05/2026

Soos skape onder wolwe
Skriftuur: “Ek stuur julle soos skape tussen wolwe in; wees dan versigtig soos slange en opreg soos duiwe
 Want dit is nie julle wat praat nie, maar die Gees van julle Vader wat in julle praat.” Matteus 10:16–20

Jesus stuur Sy dissipels nie uit na ’n veilige wĂȘreld nie, maar na ’n werklikheid waar geloof dikwels weerstand sal ontmoet. Sy woorde is eerlik en sonder illusies: “Ek stuur julle soos skape tussen wolwe in.” Dit beteken nie dat ons bang moet leef nie, maar dat ons bewus moet wees dat die evangelie nie altyd verwelkom sal word nie.

Tog is daar onmiddellik balans in Jesus se opdrag. Hy roep ons om “soos slange wys te wees en soos duiwe opreg.” Wysheid beteken nie slinksheid of manipulasie nie, maar om met onderskeiding te leef—om te weet wanneer om te praat, wanneer om stil te bly, en hoe om jou woorde met liefde en waarheid te weeg.

Opregtheid beteken dat daar geen dubbele agenda in ons lewe mag wees nie. Ons getuienis verloor krag wanneer ons woorde en ons lewens nie ooreenstem nie. Daarom is integriteit in werk, verhoudings en selfs ons digitale voetspoor deel van ons geestelike roeping.

Jesus waarsku ook dat daar teenstand sal wees. Nie almal sal die boodskap van Christus aanvaar nie. Maar hierdie realiteit is nie bedoel om ons te ontmoedig nie—dit is bedoel om ons te vestig. Verwerping beteken nie afwesigheid van God se leiding nie.

Die bemoedigende belofte is die kern van hierdie gedeelte: jy is nie alleen in jou getuienis nie. Wanneer jy voor moeilike gesprekke, kritiek of moeilike keuses staan, is die Heilige Gees self jou Helper. Hy gee woorde, wysheid en vrede op die regte oomblik.

Ons roeping vandag is eenvoudig maar diep: leef met balans—wys, maar nie hard nie; opreg, maar nie naïef nie; moedig, maar nie selfversekerd nie. En bo alles: afhanklik van God.

Bid saam: Vader, dankie dat U my stuur, selfs in ’n wĂȘreld waar daar weerstand is. Leer my om wys en opreg te leef in alles wat ek doen en sĂȘ. Gee my moed wanneer ek bang is, en vrede wanneer ek verwerp word. Dankie dat ek nie alleen is nie, maar dat U Gees in my woon en my lei. Laat my lewe vandag ’n ware getuienis van Christus wees. In Jesus se Naam. Amen.

Vinger-eteSkriftuur: “Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan....
28/05/2026

Vinger-ete

Skriftuur: “Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan.” — Matteus 4:4

’n Vinger-ete is gerieflik en aantreklik—klein happies wat maklik geneem word, net dit wat vir jou lekker lyk. Jy kies volgens smaak, sonder om werklik versadig te word. Dit is vinnig, oppervlakkig en selektief.

Ongelukkig behandel baie mense die Woord van God op dieselfde manier.

Hulle neem net die gedeeltes wat vertroos en bemoedig—die beloftes van vrede, seĂ«n en voorspoed—maar vermy die dele wat sonde aanspreek, oproep tot bekering, of gehoorsaamheid vereis. SĂł bou mense maklik ’n geloof rondom eie voorkeure, eerder as op die volle waarheid van God se Woord.

Jesus waarsku ernstig daarteen: “Tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is.” — Matteus 15:9

Ware geloof word nie gebou op gevoelens, tradisies of populĂȘre opinies nie, maar op die waarheid van die Skrif. Die Bybel is nie bedoel om soos happies geproe te word nie—dit is die Brood van die Lewe wat die hart voed, die denke vernuwe en die lewe verander.

Ons leef in ’n tyd waar mense dikwels eerder vra: “Wat voel reg?” as “Wat sĂȘ God se Woord?” Maar waarheid verander nie saam met kultuur of menslike idees nie. God se Woord bly vas en betroubaar deur alle geslagte heen.

Daarom het elke gelowige ’n persoonlike verantwoordelikheid om self die Skrif te ondersoek. Nie ’n kerk, prediker, tradisie of familie-oortuiging kan jou verhouding met God vervang nie. Hulle kan rigting gee, maar elke mens moet self voor God staan en Sy waarheid ken.

Die Skrif verklaar homself, en dit vra van ons: tyd om te lees, nederigheid om te leer en ’n gewillige hart om gehoorsaam te wees. Wanneer ons ophou om net “gunsteling verse” te kies en begin om die volle raad van God te soek, ontdek ons dat Sy waarheid soms sny—maar altyd genees; soms teregwys—maar altyd red; soms moeilik is—maar altyd bevry.

Moenie tevrede wees met geestelike happies nie. Soek die volle maaltyd van God se Woord. Want net die waarheid kan die siel werklik versadig.

Bid saam: Hemelse Vader, dankie vir U Woord wat waarheid, lig en lewe is. Vergewe my waar ek net die gedeeltes gesoek het wat vir my gerieflik was. Gee my ’n ware honger na die volle waarheid van die Skrif. Leer my om U Woord met nederigheid te lees, met geloof te aanvaar, en met gehoorsaamheid uit te leef. Vorm my deur U waarheid sodat my lewe U kan verheerlik. In Jesus se Naam bid ek, Amen.

CHARACTER IS REVEALED BY CRISIS 🌿A tree survives storms because of roots developed long before the wind arrived.In the s...
27/05/2026

CHARACTER IS REVEALED BY CRISIS 🌿

A tree survives storms because of roots developed long before the wind arrived.

In the same way, crisis does not suddenly create character — it reveals what has already been growing inside us.

When life is easy, many things stay hidden:

* pride,
* fear,
* impatience,
* selfishness,
* faith,
* humility,
* integrity.

But pressure exposes foundations.

The Bible gives many examples:

‱ Joseph was betrayed, enslaved, and imprisoned — yet crisis revealed integrity and forgiveness.

‱ Daniel faced the lions’ den — and crisis revealed unwavering faithfulness.

‱ Peter denied Jesus when afraid — revealing weakness and fear — but later trials revealed courage after true repentance.

‱ Job lost almost everything, yet continued seeking God even in deep pain.

True faith is not pretending not to hurt.
It is continuing to seek God while hurting.

God often allows testing not to destroy us, but to reveal:

* where we still need growth,
* what needs surrender,
* and how deeply rooted we truly are.

Small daily choices build crisis character:

* private prayer,
* hidden obedience,
* honesty,
* surrender,
* consistency,
* trust in God.

The storm only reveals the roots.

đŸŒ± “Crisis does not create character overnight. It reveals the character built through daily choices.”

Die nuwe verbond: ’n nuwe hart, nie ’n nuwe wet nie.Skriftuur: “En Ek sal julle ’n nuwe hart gee en ’n nuwe gees in jul ...
26/05/2026

Die nuwe verbond: ’n nuwe hart, nie ’n nuwe wet nie.

Skriftuur: “En Ek sal julle ’n nuwe hart gee en ’n nuwe gees in jul binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle ’n hart van vlees gee. En Ek sal my Gees in jul binneste gee en sal maak dat julle in my insettinge wandel en my verordeninge onderhou en doen.” - Eseg 36:26–27

Baie mense d**k die nuwe verbond beteken dat God se wet verander het. Dit is nie waar nie.

In die Ou Testament het God Sy wet op kliptafels geskryf en dit aan Israel gegee as deel van Sy verbond (Eks 31:18; Deut 10:1–4). Hierdie wet was goed, reg en ’n openbaring van God se karakter en wil. Die probleem was nooit die wet nie—maar die mens se hart.

Die Bybel sĂȘ die volk se sonde was diep in hulle harte ingegraveer (Jer 17:1). Hulle was hardkoppig en onwillig om te gehoorsaam (Jer 13:23). Daarom kon hulle nie in ware verbonds - gehoorsaamheid leef nie, al het hulle die wet geken.

Nou kom die wonder van die nuwe verbond.

God sĂȘ nie Hy gaan ’n nuwe wet gee nie—Hy sĂȘ Hy gaan dieselfde wet op ’n nuwe plek skryf: in die hart (Jer 31:33). Hy belowe ook ’n nuwe hart en ’n nuwe gees (Eseg 36:26–27). Dit beteken die probleem van binne word opgelos.

Die doel?
“Ek sal maak dat julle in my insettinge wandel en my verordeninge onderhou.” (Eseg 36:27)

Met ander woorde: gehoorsaamheid bly steeds sentraal.

God het nog altyd gehoorsaamheid verlang as teken van die verbond—nie as ’n manier om gered te word nie, maar as ’n bewys van ’n lewende verhouding met Hom (Eks 20:1–2; Deut 6:5; Matt 22:37–40).

In die nuwe verbond is dit presies dieselfde, maar nou kom gehoorsaamheid uit ’n veranderde hart. Deur Jesus se offer (Luk 22:20) en die werking van die Heilige Gees (Rom 5:5; Gal 5:22), word God se liefde in ons harte uitgestort. En daardie liefde lei tot gehoorsaamheid.

Gehoorsaamheid is dus steeds die teken van die verbond—
maar nou is dit verbondsgehoorsaamheid wat uit liefde vloei.

Jesus self sĂȘ:
“As julle My liefhet, bewaar my gebooie.” (Joh 14:15)

Vriend, die vraag is nie of jy die wet ken nie— die vraag is: is dit in jou hart? Leef jy nog met ’n ou hart wat stry teen God? Of het jy al oorgegee sodat Hy jou van binne kan verander?

Moenie tevrede wees met kennis sonder verandering nie. Moenie praat van geloof sonder gehoorsaamheid nie.

Sluit vandag in die nuwe verbond met God — en laat Hy jou hart nuut maak sodat jy Hom werklik kan gehoorsaam.

Bid saam: Vader, U is heilig en U wet is reg. Vergewe my waar ek U wil ken, maar nie altyd wil gehoorsaam nie. Dankie dat U nie net vir my reëls gee nie, maar ook my hart wil verander.

Gee my ’n nuwe hart, o Here. Skryf U wil diep binne-in my. Vul my met U Gees, sodat ek nie uit plig nie, maar uit liefde sal leef en gehoorsaam wees.

Help my om my lewe te wys as deel van U verbond—deur gehoorsaamheid wat uit ’n opregte hart kom.

In Jesus se Naam,
Amen.

Address

9 Papenkuils Road
Port Elizabeth
6025

Alerts

Be the first to know and let us send you an email when SDA PE Wes Gemeente posts news and promotions. Your email address will not be used for any other purpose, and you can unsubscribe at any time.

Contact The Place Of Worship

Send a message to SDA PE Wes Gemeente:

Share