19/03/2026
Spore van Hoop
19 Maart 2026
Matteus 4:1-11
Ons word elke dag voor eise, of as ons dit selfs so wil noem, versoekinge gestel. Ons moet baie keer ’n keuse maak. Soms is dit meer ernstig, met groter implikasies as ander kere. Daar kom ook tye van nood en lyding, noem dit beproewinge, oor ons pad. En dan is ons vraag, hoe weet ons wat die regte of verkeerde besluit is? Wat is gee ons hoop?
Tans herdenk ons die Lydenstyd van Jesus Christus. Op Sy pad hier op aarde is Hy versoek, beproef, het Hy nood en lyding ervaar. Hy moes dit deurmaak, dit deurstaan, dit te bowe kom. Hoe?
As ons die gedeelte lees, dan sien ons dat Jesus ook deur lyding en versoekinge op Sy pad oorval word. Die duiwel versoek Hom. Stel alles vir Hom so mooi in ’n prentjie dat dit nogal aanloklik lyk. Maar elke keer staan Jesus die versoeking teen, deur uit die Woord van God aan te haal en sê: “ daar staan geskrywe.” En al word die duiwel al hoe slinkser deur later selfs ook uit die Skrif aan te haal, beveg Jesus sy versoekinge met die Woord. Hy ly, beleef nood, dat Hy ly honger en dors, Hy word boonop in die woestyn deur die duiwel versoek. En te midde daarvan dat Hy al hierdie dinge moet beleef, deurstaan staan Hy vas by wat God se Woord leer. Elke keer bevestig Hy wat reg is, wat die Woord van God sê.
En dit is ons antwoord op ons vraag oor hoe om te weet of ons reg of verkeerd besluit. Wat doen ons in tye van nood en lyding? Ons antwoord is: “God se Woord sê.” In ’n tyd en omstandighede waar mense vêr van God leef en mense alles in die stryd werp om ons van koers te bring, is dit ons standvastigheid. Is dit ons waarheid. Is dit ons wysheid: “Die Woord van God sê.” In ‘n tyd waar nood en lyding rondom ons en ook in ons lewe toeneem: “Die Woord van God sê.” Want God se Woord gee lewe, bring hoop, leer die waarheid.
Ds Dirk van Rooyen