11/02/2022
Eerskomende Sondag (13 Februarie) gaan ons voort met ons prediking om méér en méér soos Jesus te wees. In die prediking gaan ons besin oor ons bereidwilligheid om in God se hande bruikbaar te wees, tot voordeel van ons gemeenskap, maar bowenal tot eer van God.
Ons Skrifgedeelte gaan oor die Here Jesus se wondergenesing van die melaatse man. Ons lees hierdie verhaal en is dan in verwondering oor die wonderwerk wat die Here Jesus gedoen het. Met reg ook, ja, maar wat was die grootse wonderwerk? Kom ons sê jy was daardie man, waarom sou jy die Here Jesus gestop het?
Wat vir my en jou dalk vanselfsprekend en alledaags is, het daardie man hy begeer: ’n eenvoudige handdruk ... ’n omhelsing ... ’n klop op sy skouer om sy aandag te trek. Sulke teer oomblikke het uit sy lewe verdwyn. O, ek kan my net indink hoe daardie man sulke terloopse aanrakings moes begeer het. Maar vir jare lank het dit nie gebeur nie. Immers, hoe kon dit? Melaatses is uit die samelewing geban ... hulle is nie op straat toegelaat nie. Selfs die rabbi’s het ’n veilige afstand gehandhaaf ... daar was geen siekebesoek nie ... geen voorbidding nie ... geen liefdevolle troos van ’n genadige God nie.
Dit was egter nie die ergste nie! O nee, erger as ál die gemis na fisieke- en liefdevolle aanrakings van familie en vriende, was daar die afwesigheid van gemeenskap met God! Ja, melaatses was destyds nie in die tempel toegelaat nie ... hulle kon God nie aanbid nie. Probeer jouself nou indink dat jy verbied word om kerk toe te kom. Ja, ons aanvaar elke Sondag dit as vanselfsprekend dat ons hier mag wees – en jy kan jou dit ook nie anders indink nie, maar wat as jy verbied sou word om te kom aanbid omdat jy een of ander siekte het? Hoe sou jy gevoel het as daar selfs vir jou gesê word dat God van jou vergeet het en dat dit wat jou oorgekom het, sy straf is?