04/09/2026
Gedagte vir die dag.
06 September 2026
Vervolging in Nigerië
In vandag se wêreld is daar feitlik geen stukkie inligting waartoe ons nie toegang het nie. Met die druk van ʼn paar knoppies kan jy byna enigiets uitvind. Maar al het ons toegang tot al hierdie inligting kies ons dikwels om in ons eie bubble te bly en nie te vêr daarbuite te gaan nie. Daar is so baie dinge waaroor ons onkundig bly. Een van hierdie is ons bewustheid van die vervolging van ons gelowige broers en susters regoor die wêreld. Hoewel ons ons eie tipe vervolging beleef, ʼn stille afkeur van Christelike waardes en ʼn regering wat toenemend wil werk om die Christelike geloof stil te maak, is die vervolging in baie ander land nie so sag aan die werk nie. In Nigerië word daar daagliks teen ons broers en suster gediskrimineer. Hulle word as tweede klas mense gesien. En as jy na die noorde van Nigerië beweeg word die vervolging al meer en meer gewelddadig. Die militante Islamitiese groepe is jaarliks verantwoordelik vir die sterwe van meer as 4000 gelowiges. En in die laaste 14 jaar is meer as 52 250 Christene doodgemaak vir hulle geloof.
Twee hoof militante groepe Boko Haram en Islamitiese Staat Wes-Afrika se doel is om Christendom totaal uit te roei in die noordelike provinsies van Nigerië. Christus is vir hulle totaal onaanvaarbaar en enigiemand wat Hom dien leef daagliks in vrees vir hulle lewens. Christus het in Matt 10:22 belowe dat die wêreld ons sal haat ter wille van Sy Naam. Laat ons in ons gebede veral aan die vervolgde Christene regoor die wêreld dink. Nigerië is maar net 8e op die lys van lande met die ergste vervolging vir Christene. Die Here vergeet geeneen van SY kinders nie, laat ons ook nie in ons bubble vasgevang raak en van hulle vergeet nie.
Ds. AJ Wattel