19/01/2026
Sondag 18 Januarie 2026 Oggend erediens
Skriflesing: Openbaring 14: 1-13 (2020-vertaling)
Fokusverse: Openbaring 14: 7, 12-13
HOU AAN, RUS WAG!
1. God gee 'n ewige goeie boodskap
Ons het pas 'n nuwejaar ingegaan en mekaar 'n voorspoedige nuwejaar toegewens. Tog het ons reeds begin agterkom die jaar loop al klaar nie so goed nie.
Wat het van ons voorspoedige 2026 wense geword?
God gee nie boodskappe en wense wat soos mis voor die son verdwyn nie. In vers 6 lees ons van 'n engel wat spesiaal deur God gestuur is om 'n ewige evangelie, 'n ewige goeie boodskap, aan ons te bring. Die boodskap is vir gelowiges in elke nasie en stam en taal en volk. Dit is 'n boodskap vir gelowiges van alle eeue tot en met ons Here Jesus se wederkoms.
Die boodskap is so belangrik dat God hierdie engel en nog twee ander engele gebruik om dit aan ons oor te dra.
Ons staan nou stil by elk van die drie onderafdelings van die goeie boodskap wat die drie engele gebring het.
• Eerste deel
Die eerste engel waarsku dat die tyd van God se oordeel aangebreek het (v. 7). Die woord wat hier vir "tyd" gebruik word, sê nie die oomblik van sy oordeel het aangebreek nie. Dit sê eerder die dag of die seisoen waartydens hy gaan oordeel, het aangebreek.
Hoe pas hierdie oordeel wat aanbreek by die ewige goeie boodskap wat God gee? Oordeel en 'n goeie boodskap klink teenstrydig.
Kom ons luister weer na sy boodskap: "Julle moet ontsag hê vir God en heerlikheid bewys aan Hom, want die tyd van sy oordeel het aangebreek. Aanbid Hom wat die hemel, die aarde, die see en die fonteine geskep het".
Aan wie is die boodskap gerig? Aan die gelowiges van al die eeue. Dit is mense wat deur God uitgekies is en deur ons Here Jesus skoongewas is van hul sonde en wat deur die werk van die Heilige Gees tot geloof gekom het. Dit is ook ons.
Wanneer God se oordeel aanbreek oordeel Hy oor al sy - en ons - vyande. Hy verlos ons van die duiwel en sy magte, van die wêreld wat so op ons neersien.
Dit is mos 'n goeie boodskap!
Wanneer Hy oordeel, moet ons steeds ontsag vir Hom hê sodat ons nie ook geoordeel word nie.
Om ontsag te hê vir God, kan oor vertaal word om Hom te vrees. Dit is soos die verhouding tussen 'n goeie pa en sy kind. Solank die kind gehoorsaam is aan sy pa en hom respekteer, hoef hy nie vir hom bang te wees nie. Inteendeel, hy kan staatmaak op sy liefde en hulp en ondersteuning, maar sodra ongehoorsaam is, moet hy bang wees vir sy pa, want hy weet sy pa gaan hom straf.
As ons eerbied en respek vir God het en ons na Hom luister, het ons niks om te vrees wanneer sy oordele kom nie.
Daarmee saam moet ons heerlikheid aan Hom bewys, aan Hom die eer gee wat Hom toekom. Ons moet Hom eer en dank dat Hy ons gered het.
Daarmee saam gaan dat ons Hom sal aanbid, voor Hom sal buig en erken wie Hy is: die Skepper van die aarde en die see en die fonteine Ons stel Hom nie op gelyke voet met ander gode nie, Hy alleen is God en ons aanbid Hom alleen
Al kom God se oordeel, hoef ons nie bang te wees nie. Al wat ons moet bly doen, is om ontsag vir Hom te hê, Hom te eer en te aanbid.
Die eerste engel het gekonsentreer op wat ons as gelowiges in die tyd van God se oordeel moet doen. Die tweede engel het gekonsentreer op wat met Babilon gebeur.
• Tweede deel
Die tweede engel het gesê: "Geval, geval het Babilon, die magtige, sy wat al die nasies van die wyn van die wellus van haar hoerery laat drink" (v. 8). Die klem is op Babilon wat geval het.
Na wie verwys Babilon? Babilon was die hoofstad van die ou Babiloniese ryk waarheen die Israeliete weggevoer is toe hulle aan die Here ongehoorsaam was. Hulle verteenwoordig die wêreld met sy magslus, sy ekonomiese oorheersing, sy onderdrukking, sy uitbuiting.
Babilon het geval. Hy gaan nie vir altyd staande bly nie. Al sien en beleef ons dit nog nie, weet ons dat as God so sê dan is dit so. Ons sal dit spoedig al meer en meer sien.
Dit is mos 'n goeie, goeie boodskap!
Die derde engel bring vir ons 'n boodskap oor die mense met die merkteken van die dier.
• Derde deel
Die derde engel het aangekondig: "As iemand die dier en sy beeld aanbid, en 'n merk op sy voorkop of sy hand ontvang het, sal hy ook drink van die wyn van God se toorn... " (v. 9, 10).
Vir ons mag dit lyk of mense wat nie glo nie kan doen net wat hulle wil en daarmee wegkom. Dit lyk partykeer of juis hulle vooruitgaan en sukses behaal, mag het en geld het en mense kan vertrap soos hulle wil. Dit voel partykeer of ons magteloos teenoor hulle staan.
Die derde engel verseker ons dat hulle van God se beker van toorn gaan drink. Hy gaan hulle oordeel. Hulle sal nie kan aangaan soos hulle wil nie.
Dit is ook mos goeie nuus!
Dit is goeie nuus dat God se oordeel 'n einde gan bring aan alles en almal wat vir ons lyding en ellende veroorsaak.
Ons ervaar egter nog so min van hierdie goeie boodskap. As ons rondom ons kyk, lyk dit of die bose net erger en erger word. Wat moet ons intussen doen?
Volhard! Byt vas!
2. Volhard
In vers 12 hoor ons: "Hiervoor het die heiliges - die gelowiges - volharding nodig, hulle wat die gebooie van God nakom, en in Jesus bly glo". Ons moet gewoon aan God gehoorsaam bly en nie tou opgooi:
* al word ons afgemaak as outyds en dat moderne mense beter weet,
* al moet ons teen die stroom ingaan,
* al moet ons onsself verloën en dit wat ons graag wil hê eenkant laat,
omdat ons aan God gehoorsaam wil wees.
Om God se gebooie na te kom, beteken dat ek meer gereeld sal bid, sal vra dat sy Gees my lei, meer sal nadink oor Wie Hy is, meer Bybel sal lees om Hom beter te leer ken.
Om te volhard, moet ons aan ons Here se beloftes bly vashou. Dit is tog waaroor geloof gaan, om te glo dat dit wat God beloof waar is, ook dit wat Hy beloof oor sy oordeel en wat daarna vir ons voorlê.
Is dit die moeite werd om hierdie pad van uithou en aanhou te loop?
3. Volharding is die moeite werd.
Die laaste vers in ons teksgedeelte gee vir ons moed. Ons het gelees: "Skryf neer! Gelukkig is die dooies wat van nou af in die Here sterf. 'Ja,' sê die Gees, "sodat hulle mag rus van hulle geswoeg, want hulle dade volg hulle" (v.13)
"Skryf neer" beteken hier, skryf neer, want dit is baie, baie belangrik. Nog belangriker as die nota op jou yskasdeur.
Wie tot die einde van sy lewe volhard en in die Here sterf - as gelowige sterf - is gelukkig, geseënd. Dit is so seker waar dat die Heilige Gees self dit beaam wanneer Hy sê "ja". Dan verduidelik die Heilige Gees waarom die gelowiges wat te sterwe kom, gelukkig is: "hulle sal rus van hul arbeid", hul geswoeg en gesweet.
Hulle kry 'n verademing van die inspanning om aan God gehoorsaam te wees, van die stryd teen hul swakhede, van die aanslae van vyande en mense wat niks van God wil weet nie. Van hul seer binne waarvan niemand anders weet nie, van die dinge waarmee hulle saamleef en waaroor hulle skaam is.
Met hul dood dra hul nie meer hierdie swaar las nie.
Dan die laaste troos: "... want alles wat hulle gedoen het, volg hulle". Dit wat ons as gelowiges gedurende ons lewens op aarde gedoen het, volg ons. Daar waar jy uitgejou is, omdat jy aan die Here gehoorsaam wou wees, waar jy eenkant toe gestoor is, omdat jy nie saam oneerlik wou wees nie, waar jy jouself tenagelom het om iemand anders te help, volg dit jou.
Die Here beloon jou daarvoor. Nie dat jy dit verdien nie, maar omdat Hy wil, omdat Hy goed is.
Ons goeie wense vir 'n voorspoedige 2026 versplinter in 'n oogwink. God se ewige goeie boodskap hou nooit op nie. Hou daaraan vas! Amen.
Enjoy the videos and music you love, upload original content, and share it all with friends, family, and the world on YouTube.