19/03/2024
Jou tuin van Getsémané - Pastoor Jan Labuschagne
(Sondag 17 Maart se boodskap)
Ons skrif leesing is uit Lukas 22:39-46
Getsemane is nie regtig ‘n tuin nie, maar ‘n boord. Dit was omring deur ’n muur sodat dit amper soos ’n park was en geleë op die Olyfberg. Die Kidron spruit loop daar verby. Het jy dalk al gewonder wat die woord ‘Getsemane’ beteken?
Gedurende Jesus se tyd was dit ook ‘n plek van besigheid, ‘n Olyfpers daar het die plaaslike gebiede van olyfolie voorsien. Dit is dan ook waar die woord ‘Getsemane’ vandaan kom ‘n ‘Geth’ in Hebreeus is ‘n pers – ’n groot 1,5m hoë vierkantige klip pilaar, en ‘shemen’ is olie – Get-semane is dus ‘n ‘drukpers vir olie’. Die olywe word in ‘n geweefde net (amper soos ’n visnet) op die blad van ‘n groot klip tafel te plaas. Die spesiaal ontwerpte tafel was rond en het gekurf na ‘n trog waar ‘n pot was wat die olie opgevang het.
Die swaar vierkantige klippilaar is bo-op die sak met olywe laat sak en is vir ‘n paar uur daar gelaat sodat sy geweldige gewig die olie uit die olywe te druk. Hoekom fokus op Getsemane?
Getsemane bring fokus in jou lewe. Soms voel mens alleen in jou swaarkry. Jy wens iemand wil net ’n entjie in jou skoene stap sodat hulle ’n idee kan kry waardeur jy moet gaan. Swaarkry en lyding is egter deel van hierdie wêreld.
Oswald Chambers het gesê dat Lyding die erfdeel is van die slegte, die berouvolle, en selfs van die Seun van God. Elkeen van hulle eindig op die kruis. Die slegte dief is gekruisig, die berouvolle dief is gekruisig, en die Seun van God is gekruisig. Deur hierdie tekens leer ons dat lyding van ons almal deel is. Nou is jou eerste vraag, ‘hoekom?’ Die doel van vandag se woord is nie om die sondeval te bespreek, waardeur sonde en lyding in die wêreld ingekom het nie. Helen Keller het gesê, “Although the world is full of suffering, it is also full of the overcoming of it.” Nou is die vraag weer, ‘hoekom?’. Ek glo dat ons ’n deel van daardie antwoord kan vind in 2 Pet 1:6. Petrus skryf hier “en by die kennis die selfbeheersing, en by die selfbeheersing die lydsaamheid, en by die lydsaamheid die godsvrug.”
Die Griekse woord vir lydsaamheid wat Petrus hier gebruik, is ‘hupomonè’, wat vertaal kan word as ‘geduldige lyding met ’n hoopvolle verwagting’. Hierdie lydsaamheid, hierdie ‘geduldige lyding met ’n hoopvolle verwagting’ lei tot die godsvrug. Om dit beter te verstaan, is dit ook nodig om te kyk na die betekenis van die woord ‘godsvrug’ – wat vertaal kan word as ‘vroomheid, goddelikheid en heiligheid’. Petrus leer ons dat ‘n geduldige lyding met ’n hoopvolle verwagting, lei tot goddelikheid en heiligheid. Uit Petrus se vermaning kry ons dus ’n belangrike leidraad oor lydsaamheid en swaarkry: dit help ons om elke las af te lê en ook die sonde wat ons so maklik omring, sodat ons met volharding die wedloop kan loop wat voor ons lê (Heb. 12:1) – m.a.w. lyding bring fokus.
Die meeste van die Psalms is in tye van lyding geskrywe. Die meeste van die sendbriewe in die Nuwe Testament is uit gevangenisse geskryf. Die meeste van die grootste gedagtes van die grootste denkers van alle tye het in die Olyfpers van lyding begin.
Bunyan het ‘The Piglrim’s Progess’ in ’n tronk geskryf. Florence Nagingale, te siek om te beweeg uit haar bed, het die hospitale van Engeland herorganiseer. Half verlam en onder die konstante bedreiging van bloeding op die brein, het Pasteur onvermoeid voort gegaan met sy aanval op kieme en bakterieë. Soms lyk dit dat wanneer God iemand voortreflik wil gebruik, dan sit Hy hom eers deur ‘n Olyfpers.
In Getsemane het Jesus gefokus om die beste te word wat Hy kon wees. God wou Hom voortreflik gebruik; en Hy moes deur die Olyfpers gaan sodat die wêreld daarbuite gered kon word.
Getsemane leer ons bid. Toe Jesus na die tuin van Getsemane gegaan het, het hy vir een rede gegaan – om te bid. (Luk. 22:46 “En Hy sê vir hulle: Wat slaap julle? Staan op en bid, dat julle nie in versoeking kom nie.”) Gebed berei die siel voor vir lyding. Jesus het verstaan wat voorlê en Hy het geweet dat gebed die enigste manier was om Hom en Sy dissipels voor te berei.
Gebed doen twee dinge vir ons. Dit help ons eerstens om swaarkry te hanteer, hier is die tweede ding: Dit lei ons weg van versoeking. Let daarop dat Jesus Sy dissipels in Getsemane beveel het: “Staan op en bid, dat julle nie in versoeking kom nie”. Dit is vreemd. ‘n Mens sou verwag dat Jesus sou sê, ‘Bid dat jy in staat is om die swaarkry wat kom te verduur’. Swaarkry bring egter versoeking: versoeking om ons beginsels te kompromiteer, versoeking om gemak bo teenspoed te stel, versoeking om ons geloof in God te verloën. Petrus het hierdie les vinnig geleer toe hy ontken het dat hy Jesus geken het. Hy het daarna die toneel vinnig verlaat, bang vir sy eie lewe. Hy het nie verstaan wat Jesus bedoel het toe Hy gesê het dat hulle moet bid sodat hulle nie in die versoeking moet kom nie.
Gebed help ons om die lewe se swaarkry te hanteer en dit hou ons weg van versoeking. Dit bring ons ook nader aan God.
Toe Jesus in Sy Getsemane was, het Hy gegaan om te bid, sodat Hy staande kon bly en nie in die versoeking kom nie. Wanneer ons deur swaarkry, lyding of tragedie oorval, dan is ons eie tuin van Getsemane die plek om na God vir krag te draai, sodat ons kan bly staan en nie in die versoeking kom nie.
Lukas 22:32-33 “32 en gesê: Vader, as U tog maar hierdie beker van My wil wegneem! Laat nogtans nie my wil nie, maar U wil geskied! 33 En ‘n engel uit die hemel het aan Hom verskyn en Hom versterk.”
God laat ons nie alleen as ons in ons “parskuip” is nie. God het wel nie die beker weggevat nie, maar Hy het ‘n engel gestuur om Jesus te bedien in Sy uur van nood.
Net so stuur God mense op ons pad om ons te ondersteun en te bemoedig en te help.
Lyding is gewoonlik gemeenskaplik. Die kerk is nie bedoel om ‘n ‘Vereniging van Lone Rangers’ te wees nie. Dit is waarom Paulus in Gal 6:2 geskrywe het, “dra mekaar se laste, en vervul so die Wet van Christus”. Die kerk is veronderstel om ‘n toevlug vir lydendes te wees. Wanneer ‘n lid seer het, gee die kerk die verbande; wanneer ‘n lid af voel, bemoedig die kerk; wanneer ‘n lid in nood is, kom die kerk saam om te help. Nou is die vraag wie is die kerk? Die antwoord is eenvoudig. Die kerk is ek en jy.
Daarom lees ons in 1 Kor 12:26 “…as een lid ly, ly al die lede saam; en as een lid geëer word, is al die lede saam bly.”
Die hand en die voet staan natuurlik in hulle afhanklikheid van mekaar; maar dieselfde interafhanklikheid dui ook op die meer swakker en nederiger dele van ons liggaam. Inderdaad, dit wil voorkom asof ons meer oorvloedige eer skenk aan ons minder goeie dele deur hulle te bedek met klere of ornamente – d**k maar aan oorbelle, neusringe, die selluliet op jou bobene of daai boep op jou magie. Op hierdie manier word die minder belangrike dele van liggame gelykgestel aan ons mooier dele. Paulus se doel met hierdie gedeelte is om die interafhanklikheid van gelowiges aan ons te verduidelik. Een gee aan ’n ander waar hulle ‘n tekort het, en so help elkeen die ander een op sy b***t.
Wat moet ons doen? Ons kan so vasgevang word in ons eie lyding, dat ons begin om die lyding van die mense rondom ons, te vergeet. Getsemane het vir Jesus nie net oor Homself gegaan nie, maar ook oor diegene wat God aan Hom toevertrou het. In ons eie tuin van Getsemane moet ons ook onthou dat dit nie net oor ons gaan nie, maar ook oor ons mede broeders en susters in verdrukking. Bid vir die families van almal wat onder die hande van terroriste en moordenaars die afgelope paar jaar gely het. Geweld gaan voort om ons wêreld te verskeur. Ek sal graag wil sien dat die kerk in elke land opstaan en ‘n leërmag van ‘prayer warriors’ begin om te bid vir die nederlaag van die heersers van die duisternis van hierdie eeu. Ook in jou eie tuin van Getsemane. Hoe doen ons dit? Hebreers 12:1&2 gee ons die antwoord: “1 Daarom dan, terwyl ons so ‘n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê,
2 die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het.”
Onthou ook Psalm 23:4 “Al gaan ek ook in ‘n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my.”
Onthou – God het die Rooisee gekloof vir Israel, Hy het Sy engel gestuur om Jesus te versterk. Hierdie selfde God is steeds in beheer van die heelal, My God is magtig en Sy troon vir ewig. Sagaria 14:3 en 4 “3 En die HERE sal uittrek en stryd voer teen dié nasies soos op die dag van sy stryd, die dag van oorlog. 4 En in dié dag sal Sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê, aan die oostekant; en die Olyfberg sal middeldeur gesplyt word van oos na wes tot ‘n baie groot dal; en die een helfte van die berg sal wegwyk na die noorde en die ander helfte na die suide.”
Vertrou op God om jou deur te dra in alle situasies.