14/12/2017
Die Here voorsien en my lewe word gered!
Hierdie getuienis bevestig net weer dat ons Hemelse Vader nog elke dag wonderwerke verrig, sonder dat ons eers daarvan bewus is.
Ek is in 2007 met Fibrose, ‘n longsiekte, gediagnoseer en moes vir sewe jaar met suurstof slaap. In 2013 het ek onverwags dubbelelongonsteking gekry. My vrou moes met my deurjaag na die Charlotte Maxeke-hospitaal omdat ons nie ‘n mediese fonds op daardie stadium kon bekostig nie. Met my opname was die suurstof in my bloed maar 41 persent. Volgens die dokters moes ek ‘n beroerte- of hartaanval gehad het, maar deur die Here se genade het Hy onderneem dat ek niks oorgekom het nie. Ek was toe vir ‘n maand in die hospitaal waartydens my longe so versleg het dat ek vir sewe dae ‘n week, vier en twintig ure per dag op suurstof moes wees.
Toe begin die Here werk …
Gedurende die tyd wat ek op suurstof was, het die Here met ‘n wonderwerk in my en my vrou se lewe begin. My vrou se vorige werkgewer het haar genader en gevra dat sy weer by hulle moes kom werk. Hy het haar ‘n goeie verhoging asook goeie voordele aangebied. Die verhoging was so goed dat ons selfs ‘n mediese fonds kon bekostig. Binne die eerste week kon ons deel word van die firma se groep- mediese skema wat beteken dat ons dadelik die voordele van die fonds kon benut en nie vir ‘n jaar moes wag voordat ek, as gevolg van my longtoestand, behandel kon word nie.
Ons het toe n longspesialis by Millpark-hospitaal gaan besoek wat my meegedeel het dat ek baie siek is en daarby ook nog oorgewig (113 kg.) is. As gevolg van my gewig, kon hy nie ‘n longoorplanting doen nie. Hy het my toe ook van my kortosoonbehandeling afgehaal. Met my volgende besoek het my gewig afgekom na 102 kg. Toe my gewig met my derde besoek verder afgekom het na 96 kg., het hy my meegedeel dat hy ‘n longoorplanting kan doen, maar ek moes mik vir 90 kg. en net hoop en vertrou dat ons betyds die geskikte longe sou kry. Op daardie stadium was ek nog steeds op stuurstof en so swak dat my vrou my moes help bad en aantrek.
Toe gebeur dit …
Die aand van die 4de November 2016, net nadat ek gebad en op die bed gaan sit het om suurstof in my liggaam te kry, lui my foon. Dit was die oorplantingskoördineerder wat my verwittig dat hulle moontlik longe vir my het en dat ek die aand om tienuur by die Millpark-hospitaal moet wees. Ek was oorstelp van vreugde en in trane. Saam is ek en my familie na die hospitaal toe. Ek is die volgende oggend, op 5 November, geopereer en het twee nuwe longe ontvang!.
Die operasie was ‘n reusesukses en ek is ‘n maand later ontslaan. Tot vandag toe was daar nog geen teken van verwerping of infeksie in my longe nie. Die spesialis het my meegedeel dat die longe wat ek gekry het 100 persent met my liggaam korroleer. Die longkaste, bloedgroep, lengte en gewig was perfek. Prys die Here! Voor ek ontslaan is, het die dokters my meegedeel dat die eerste oorplanting in die jaar 2000 gedoen is en dat ek die honderdste pasiënt was met ‘n soortgelyke operasie.
So, vir die hospitaal was dit ‘n mylpaal en daarom het ons ‘n onderhoud met Media 24 gehad om orgaanskenking meer bewus te maak onder die mense.