NHK Sasolburg

NHK Sasolburg Nederduitsch Hervormde Kerk Gemeente Sasolburg

Gesamentlike Kerssangdiens vanoggend, 20 November om 11:00 by NHK Sasolburg ⭐️ Nederduitsch Hervormde Kerk Vaalpark Nede...
20/11/2022

Gesamentlike Kerssangdiens vanoggend, 20 November om 11:00 by NHK Sasolburg ⭐️ Nederduitsch Hervormde Kerk Vaalpark Nederduitsch Hervormde Gemeente Sasolburg-Suid

Bestellings kan nog tot Woensdag geplaas word.
24/10/2021

Bestellings kan nog tot Woensdag geplaas word.

07/07/2021

OORDENKING: 7 JULIE 2021

HABAKUK 3: 16-19

TEKS: Al sou die vyeboom nie bot nie...op hoë plekke laat u my veilig loop.

Geloof onderskei haarself van ongeloof en bygeloof in die oog van die storm...om in stilte te vertrou wanneer alles rondom jou skeefloop en selfs uitmekaar geskeur word.

Ja, met goeie mense gebeur daar óók slegte goed! Ons is ín, déél van hierdie wêreld met ál die vreugdes en ellendes wat daaraan verbonde is. Dit is onontkombaar!

Maar juis hiérin, dat ons ín die wêreld is en alles ván hierdie wêreld onverdund ervaar en beleef, lê die goue geleentheid. Tussen dít wat gebeur (stimulus) en dít wat ons reaksie (respons) daarop is, is daar 'n ruimte, 'n geleentheid om te kies hoe om te reageer: soos ongelowiges of bygelowiges...of soos opregte kinders van God. Dít is waarin die verskil lê van egte soutwees of van lawwe soutwees; van egte ligwees of van skynglans wees.

Dus, hoe reageer ons op Covid (stimulus)? Wat máák ons daarmee? Of, liewer, wat maak dit met óns?

Habakuk moes omstandighede, wat baie pynlik was, hanteer. Hy vra vir God: "Hoe lank nog?" Hy wag gespanne in die aangesig van lyding op die ingryping van God. Dit word vir hom 'n geloofskrisis. En dán, die godsopenbaring. God se versekering van sy nabyheid en trou reg in die oog van die storm. God wat ons vashou en liefderyk versorg. Nie deur alle lyding eensklaps te verwyder nie, maar juis in die teenwoordigheid daarvan! God se liefderyke versorging ten spýte van die teenwoordigheid van Covid 19 in ons en ons geliefdes se lewens.

Habakuk leer om stil te wag in die oog van die storm. Hy wag geduldig, in stil vertroue, op God. Ten spyte van leed en lyding om hom heen: "Hy laat my op hoë plekke veilig loop!"

Dít is egte geloof wat haar onderskei van ongeloof en bygeloof.

Maar dít, gelóóf, beteken júis ook uiterste verantwoordelikheid voor God: Inentings, higiëne, sosiale afstand en die nakoming van alle veiligheidsmaatreëls.

Ek hoor mense sê deesdae nogal dikwels dat al bogenoemde maatreëls eintlik onnodig, oorbodig en selfs 'n teken van ongeloof is. Hulle sê: "Die bloed van Christus beskerm ons tog teen alle onheile."

Ja, natuurlik doen dit. Dit bevry ons selfs van die mag van die bose! Máár dit sluit nié ons menslike verantwoordelikheid uit nie. Dis so goed asof ons sê: "Ons ís mos nou verlos, daarom kan ons nou voortaan lewe presies soos ons lekkerkry!"

As ons só redeneer en só doen, maak ons die bloed van Christus goedkoop, maak ons 'n bespotting van die verlossing, gebruik ons Jesus se bloed soos "magic potion", en is dit 'n vorm van uiterste bygeloof en selfs ongeloof. Dis soos die mense van die middeleeue wat wysgemaak is dat as hulle (ten duurste) 'n splinter van die kruis aankoop, en dit by hulle hou, dit soos 'n "lucky charm" hulle van die pes sou bewaar!

Dit is Godsonterend. Dit getuig juis nié van 'n lewe waarin God se Naam verheerlik word nie, maar eintlik presies die teenoorgestelde: Dat die bose ons kan verlei om selfs die bloed van Jesus te misbruik en te laat ontheilig!

Kom ons streef met alles binne-in ons om God se Naam, ook en veral in hierdie tyd, met oorgawe te eer.

Vrede vir u van God ons Vader, van Jesus Christus ons Heer en van die Heilige Gees, ons Trooster en Megesel.

Amen
Ds Frans

03/07/2021

Oordenking 3 Julie 2021.

Teks: God se Wet

Hê lief: God bó alles en jou naastemens nét soos jou selwers!

Liewe gemeente.

Ek het vandag 'n innige behoefte om my besorgdheid oor u almal, ook ons familie en vriende uit te spreek. Pas het ons gehoor van nóg drie sterftes in ons direkte familie- en vriendekring. Mense van 40/50. Die hartseer en rou hieroor lê vir ons almal baie diep. Die sterftes kom dikwels ná 'n lang en uitmergelende hellestryd van siekwees.

Verder is daar diegene wat oorleef, maar vir maande nog sukkel met aaklige nagevolge.

Hierdie pandemie-pes is, anders as alle voriges, as gevolg van die feit dat ons wêreld 'n gobal village (tegnologie, soomlose verbindings, vliegtuie, ens.) geword het, 'n virus wat "vlerke" gekry het. Daar is géén keer daaraan nie. Ál wat jy kan doen, is om jouself, jou gesin en ander óm jou so goed moontlik te beskerm. Dit is immers tog wat verantwoordelike Christenmense uit liefde vir God, hul naaste, hulself en die wêreld móét en sál doen!

Jy wíl nie hierdie virus hê nie!

Die Swart Dood van die 14de eeu het 7 jaar geduur en 200 miljoen mense geëis. Die Spaanse (Groot) griep van 1918 tot 1920, het 500 miljoen mense siek gemaak ('n derde van die destydse wêreldbevolking), met ongeveer 50 miljoen sterftes. Daar was 4 golwe daarvan.

Nou, met die Covid virus wat aangehelp word deur baie digter bevolkings, erge, onhigiëniese opeenstapeling van woongebiede en tegnologie (vlerke) as drywers, wat op aarde laat ons d**k dat ons dit nié gaan kry nie?

Die enigste oplossing, wat dit ánders as ander pandemies in die verlede maak is (ironies), juis die tegnologiese ontwikkelings. Daar ís inentings! Soos teen polio, pokke en masels. Natuurlik was dit ook destyds 'n nuwe ding. Maar is jy nie vandag maar alte dankbaar dat jy destyds as kind ingeênt is nie?

Ja, daar ís horror stories van duiwels en bose agendas, donkerte en 666 wat versprei word.

Maar rêgtig?

Asseblief! Laat jou inent as jy kán. Bo-sestigers kan tans enige tyd by sentrums instap. Een van die dae ook bo-vyftigers.

Moenie sit en wag vir 'n uitnoding of sms nie. Jy sál gehelp word as jy geregistreer het en jou ID by jou het. Ook diegene sonder mediese fonds dekking.

Ons is almal al só rou en hartseer oor almal wat siek is en oor diegene wat gesterf het. My bidlys is al ellelank. Spaar jouself en jou geliefdes nóg hartseer en pyn. Wees konsekwent met sosiale afstandhouding, maskerdra en handewas. Laat jou inent as jy kan. Beperk kuiers tot die noodsaaklikste. Lós die "parties" vir eers!

Dán eers kan ons sê ons het alles gedoen wat God van ons verwag!

Die vrede van ons Here Jesus Christus, die liefde van God die Vader en die gemeenskap met die Heilige Gees bly met ons almal tot in ewigheid.

Amen
Ds Frans

Ons het gereelde klein projekkies om ons fondse aan te vul. Covid 19 was verwoestend in terme van gemeentelike deelname ...
21/03/2021

Ons het gereelde klein projekkies om ons fondse aan te vul. Covid 19 was verwoestend in terme van gemeentelike deelname en offergawes. Ons vra ons gemeentelede en wyer publiek om ons te ondersteun in hierdie projekte. Hierdie naweek is pasteie gebak en verkoop (sien foto). Volgende naweek is dit jaffels teen R15.00 Bestel by Rina Fourie 0724474327.

31/01/2021

‘N GEBED VAN THOMAS Á KEMPIS (THOMAS VAN KEMPEN, 1441).
Vertaal uit die Latyn deur dr A S Geyser (1952)
Soos geplaas in: “De Imitatione Christi” (Die navolging van Christus)

Naas die Bybel is “De Imitatione Christi” die mees gelese boek ter wêreld. Dit is deur die afgelope vyf eeue letterlik in duisende uitgawes vertaal en beskouinge en studies daaroor gepubliseer. Dit wys net hoeveel waarde aan hierdie werk geheg is, en steeds word, en tot watter ongelooflike dieptes van geestelike insig dit kan lei.

Thomas is gebore in 1379 of 1380 te Kempen. Hy ondergaan aanvanklik skoling te Deventer, maar word in 1399 ‘n inwoner van die Agnietenberg-klooster digby Zwolle, waar hy tot met sy dood in 1471sou vertoef.

DAT DIE GODVRUGTIGE SIEL HOM HEELHARTIG MET CHRISTUS MOET VERENIG IN DIE SAKRAMENT (NAGMAAL): BOEK 4 XIII (1)

DIE STEM VAN DIE DISSIPEL:
(‘n Tweegesprek tussen God en mens)

Wie sal my gee, o Heer,
dat ek U alleen mag vind,
en my hele hart aan U bloot mag lê,
en U mag geniet soos my siel begeer,
en dat niemand my meer sal verag,
en geen skepsel my sal verontrus of raaksien nie,
maar dat U alleen met my sal spreek
en ek met U, soos geliefde tot geliefde spreek,
en ‘n vriend met sy vriend aan tafel gaan?
Dit is my bede, my begeerte is dit,
dat ek geheel met U verenig mag word,
en my hart van alle geskape dinge af mag trek,
en meer mag leer om die hemelse en ewige dinge te smaak,
deur die heilige Kommunie (nagmaal) en die lees van die mis.
Ag, Here my God, wanneer sal ek heeltemal één met U en opgeneem deur U kan wees,
en myself volkome vergeet?
U in my en ek in U,
en gee dat ons so tesame één mag bly.
Waarlik, U is my Geliefde, uit duisend uitgekies
by wie dit my siel behaag om al die dae van sy lewe te woon.
Waarlik, my Vredegewer is U,
in wie die volste vrede en ware rus bestaan,
en buiten wie net moeite en smart en oneindige ellendes is.
Waarlik, U is die verborge God,
en U raad is nie met goddeloses nie,
maar U spreek met nederiges en eenvoudiges.

Amen

31/01/2021

OORDENKING

SONDAG 31 JANUARIE

Tema: En tóg Hoop ons!
Teks: Romeine 5: 3-5:
“Dit is egter nie al nie. Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop; en die hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het.”

Om nog te kan hoop is lewensbelangrik. As ons nie meer hoop vir onsself, vir ons medemens en God se wêreld, waarin ons woon, het nie, kan ons maar netsowel sê: “laat ons eet en drink, want more is ons dood” (Jes 22:13) Dán haal ons uit die stukkie lewe wat aan ons gegun word soveel as wat ons kan, terwyl ons probeer vrolik wees daarby (Prediker 8:15). Maar uiteidelik is dit ‘n futiele, betekenislose oefening in absurditeit. Dít is die scenario waarby Prediker in hierdie verband eindig. Hy weet nie van Hoop in die diepste en rykste kern daarvan nie. Want hy leef vóór Christus se koms. Alles eindig by die poorte van die doderyk, maak nie saak wat jy was of gedoen of hoe jy jou lewe ingerig het nie: “Alles tevergeefs, ja alles tevergees” sê hy.

Dís nogal ‘n donker prentjie om mee gekonfronteer te word. Maar bloot menslik gesien, is dit troosteloos wáár! Die verrassing kom in God se grootste geskenk aan die wêreld: Christus kom en breek die dood in duisende stukkies. Dit kán nie meer in sy teenwoordigheid enige bedreiging inhou nie. Want die dood in ál sy vele lydensgestaltes (siekte, swaarkry, pyn, nood, aanvegtinge, ens.) is oorwín. Jesus, ons Here, het námens ons, die dood se tjank behoorlik afgetrap. Hy staan triomfantlik óp uit die dood. En óns saam met Hom. Nie nét vir nóú nie, maar ook vir die éwigheid dra ons reeds die kentekens van oorwinnaars; van God se uitsoekkinders.

Dít is wat Paulus aan die gemeente in Rome probeer sê. Hy sê sélfs ons lyding nou en hier (byv. agv.Covid 19 wat tans so prominent is) is in die Here se hande. Jesus het opgestaan en deur sy Gees help Hy ons dag vir dag om te cope met die lewe. Hoe tragies ons lewens ookal verloop. Lyding en lockdowns is steeds met ons. En dit sal altyd só wees hierdie kant van die graf....En tóg hoop ons.... Want, sê Paulus, God se lewendmakende Gees het die goddelike Liefde in ons harte uitgestort. Heeltemal, sonder ophou, sonder om terug te hou. En dít maak ons hoopvol. Want ons het ’n vashouplek anderkant onssélf of ons wêreld gevind. Eintlik word ons vasgehou deur God sélf, en Hý gee aan ons lewende Hoop deur sy teenwoordigheid, elke dag van ons lewe.
Kom ons vra Hom pertinent daarvoor: Vir Geloof, Hoop en Liefde.
Ons praat vorentoe weer verder oor hierdie teks.

Die Vrede van God word u vandag toegebid.
Ds Frans.

18/08/2020

DINSDAG 18 AUGUSTUS

GEESTELIKE ONDERSKEIDING

FILIPPENSE 1: 8-11
Want God is my getuie hoe ek met die innige toegeneentheid van Christus Jesus na julle almal verlang. Ek bid juis dat julle liefde nog meer en meer mag toeneem in begrip en fyn aanvoeling om die dinge wat saak maak te kan onderskei. Die doel hiervan is dat julle op die dag van Christus innerlik suiwer en onberispelik sal wees, vervul met die vrug van geregtigheid wat ons deur Jesus Christus tot verheerliking en lof van God ontvang.

OORDENKING
Sommige, selfs baie geleerde en intelligente mense, gaan deur die lewe met die sensitiwiteit van ‘n pakmuil. Ongelukkig word baie, eens gelowige mense, dikwels selfs en júis deur kerklui só seergemaak en verneder dat hulle met die “kerk” niks meer te doen wil hê nie. Hulle het dit dwars met die “dogma” en die “reëls en regulasies” van die “kerk,” wat dikwels op brutale manier toegepas en afgedwing word. Só, sodat as jy die jota of die tittel mis, jy onredbaar op die breë weg verkeer. Daarom neem selfs van die ouer garde deesdae nogal gemaklik afskeid van die (veral tradisionele) Kerk. O nee, verseker hulle jou gou, hulle is nie “ongelowig” nie. Hulle is net op ‘n ander spirituele reis. Een wat nie noodwendig met Kérk, soos wat ons dit nog altyd verstaan het, iets te doen het nie.

Laat ons duidelik wees: Daar móét struktuur aan Jesus se liggaam op aarde (die Kerk) wees. Op hierdie aarde kan dit nie anders nie. Selfs God se goeie skepping is vol van strukture en reëls, materiëel sowel as geestelik. Daarsonder is daar chaos, anargie en lui dit die doodsklok van enige beweging of ontwikkeling. Selfs om jou eie spirituele reis te onderneem het ‘n stewige stuk struktuur en bepaalde dissiplines as onderbou. Daarsonder is jy besig met heeltemal iets anders as ‘n geestelike reis of dissipline. En spirituele onderskeiding en ‘n bepaalde dissipline of ordening wat beoefen word, was nog altyd deel van die liggaam van Christus (die Kerk) op aarde.

Ongelukkig is dit egter só dat die geestelike hárt van die liggaam van Christus soms verstar in onbuigbare, harde reëls en regulasies. Alle spontaneïteit en warmte verword dan tot ‘n koue, leë dogma van oordeel en straf. Dít word dan ook dikwels op kru maniere op mense afgedwing. G’n wonder dat sommige mense dit dan dwars met hierdie sogenaamde “kerk” het nie!

As mens mooi na Jesus se lewe en werk tydens sy aardse verblyf gaan kyk; na die Bybel wat ons iets hiervan wil vertel; na die evangelies en die briewe van die apostels – besef jy dat só ‘n karikatuur van kerkwees nog nooit iets met die egte liggaam van Christus op aarde te doen gehad het nie. Inteendeel. Paulus praat ook, in sy brief aan die gemeente in Filippi, heeltemal ‘n ander taal. Kom ons bed**k dit in die volgende paar dae.

VREDE,
Ds Frans

07/08/2020

VRYDAG 7 AUGUSTUS

GOD’S WIL EN ONS WIL IV

JOHANNES 21:17-19
Jesus vra hom die derde keer: “Simon seun van Johannes, het jy My lief?” Petrus het bedroef geraak omdat Jesus hom die derde keer gevra het: “Het jy My lief?”, en Hy antwoord Hom: “Here, U weet alles, U weet dat ek U liefhet.” Hy sê toe vir hom: “Laat My skape wei. Dit verseker Ek jou: Toe jy jonger was, het jy self jou klere vasgemaak en gegaan waar jy “wil”; maar wanneer jy oud is, sal jy jou hande uitsteek, en iemand anders sal jou vasmaak en jou bring waar jy nie “wil” wees nie.”
Dít het Jesus gesê en daarmee aangedui deur watter soort dood Petrus God sou verheerlik. Daarna sê Hy vir hom: “Volg My!”

OORDENKING
In ons voortgaande gesprek oor God’s Wil en ons wil, het ons Woensdag gesê dat Jesus, om die Wil van God uit te voer, deur Johannes gedoop moes word. Dít sou impliseer dat Hy die skuldlas van die mensdom op Hom neem. Hy word direk daarna deur die Gees van God die woestyn ingelei om versoek te word. Dit was belangrik om Homself as die gehoorsame Seun van God te bewys. Hy is God se geliefde. Daarom kies Hy doelbewus, gewilliglik, ‘n lydenspad. Hy werk saam met die Vader, in resonansie met die Vader se wens om die ganse wêreld, deur die offer van sy Seun op Golgotha, te red. Hierdie was maar die begin van die reis na die kruis en wat daarop sou volg.

Hoe kry ‘n mens dit hoegenaamd reg? Selfs al is jy die Seun van God? Onthou, Jesus was ook maar, nes ons, ‘n mensekind (egter sónder eie sondeskuld). Ál die versoekings en beproewings, die swakhede van ons lyflike bestaan hier op aarde, was ook sý deel. En die oorwinning oor Homsélf, sy eie wil en begeertes, sy kommer en sorg, sy hartseer en moeg, sy vrees en benouenis, sy honger en dors, en wat nog alles meer, moes Hy, soos óns, deur ‘n worsteling tot die dood toe behaal. Sou Hy misluk, sou die wêreld soos ons dit ken, toenemend en onherkenbaar bóós word. Dán triomfeer die dood, die Bose in al sy vele gestaltes, vir ewig...

God wáág dit met sy Seun. Die uitslag van sy bloedstryd met die Satan is nie ‘n vooraf uitgemaakte saak nie. Die lot van die heelal is hier op die spel. Hoe kry God die Vader, Jesus sélf, dit hoegenaamd reg? Daar is maar net één antwoord: Omdat Hy liefhet. Dis ál...
Die Vader “wil” die wêreld red. Daarom “wil” Hy sy Seun se koms na die wêreld toe. Maak nie saak wat die verskriklike gevolge vir God sélf sou wees nie. Want Hy het lief...

Dít is dan hoe ‘n mens dit regkry om Gód se Wil, eerder as jou eie, te volg en uit te voer: As die Vader se Liefde óók in ons woon, sóós in sy Seun. Dít is die katalisator wat die gewensde goddelike transformasie in ons lewens teweegbring. Die liefde ís alles en oorwin alles. Óók maak die Liefde van God, wat nou in ons woon deur die werking van sy Gees, dit vir ons moontlik om onsself en ons eie wil binne die kontoere van sý Wil te plaas.

Dáárom, met die herstel van Petrus, ná sy verloëning van Jesus, tot die “Rots”, die leier van die dissipels en die jong Kerk, word hy drie keer (soveel keer as die aantal kere wat hy Jesus verloën het) gevra of hy die Here liefhet. Tot Petrus se diepe beskaming: “Here, U weet alles, U weet dat ek U liefhet.” Liefde, dit is ál. En Petrus word herstel. Sy “wíl” verander. Hy “wíl” die Here volg. Waarheen die paadjie ookal lei, En uiteindelik sou hy nie wéér terugskrik, as hy weer met die feit dat hy Jesus ken gekonfronteer word, nie. As dit God se Wil is...”Volg My” tot in die dood in!

“Dit verseker Ek jou: Toe jy jonger was, het jy self jou klere vasgemaak en gegaan waar jy wil; maar wanneer jy oud is, sal jy jou hande uitsteek, en iemand anders sal jou vasmaak en jou bring waar jy nie wil wees nie.” Dít het Jesus gesê en daarmee aangedui deur watter soort dood Petrus God sou verheerlik. Daarna sê Hy vir hom: “Volg My!”

En hy hét die marteldood gesterf. Want hy wóú! Omdat die “Liefde” alles oorwin, óok ons eie klein willetjie. En ons met sagte hand, met grasie, intrek in God se sending om die wêreld te red. Dít is sý Wil...

Geniet die naweek

Vrede
Ds Frans.

05/08/2020

WOENSDAG 5 AUGUSTUS

GOD’S WIL EN ONS WIL III

MATTEUS 3:13-4:1
In daardie tyd het Jesus van Galilea af na Johannes toe by die Jordaan gekom om deur hom gedoop te word. Maar Johannes het Hom probeer verhinder deur te sê: “Ek moet eintlik deur U gedoop word, en U kom na my toe?” Jesus het hom geantwoord: “Nogtans moet jy dit nou doen, want op hierdie manier moet ons aan die Wil van God voldoen.”
Daarna het Johannes ingestem. Jesus is toe gedoop en het dadelik daarna uit die water gekom. Meteens het die hemel bokant Hom oopgegaan, en Hy het die Gees van God soos ‘n duif sien neerdaal en op Hom kom. Daar was ook ‘n stem uit die hemel wat gesê het: “Dit is My geliefde Seun. Oor Hom verheug Ek My.”
Toe is Jesus deur die Gees die woestyn in gelei om versoek te word.

OORDENKING
In ons voortgaande gesprek oor God se Wil en ons wil, het ons Maandag gesê dat die uitdaging telkens is om óns wil met Gód s’n te laat sinchroniseer. En nét God kan dit binne-ín ons doen. Só, sodat al gee ons ons eie wil geheel en al aan Hóm oor, dit vir ons goed en reg is. Só dat, selfs al lyk God se wil totaal ánders as óns wil, ons die diepere beweging van die Heilige Gees binne-in ons bemerk, wat maak dat sý Wil toenemend ook óns wil wórd. En dat ons dit ook nooit ánders sou wou hê nie...

Hier, by die doop van Jesus, is die Wil van God pertinent ter sprake. Dié Wil wat dikwels so anders as ons eie daar uitsien. Om God se pad in plaas van ons eie pad te kies, kan nét gebeur as ons daarvan oortuig word dat, selfs al verstaan ons dit nie, God dit altyd met ons goed bedoel. Dat Hy ‘n hoër, beter plan met ons lewens het. Hiervan was Jesus oortuig. Daarom dat Hy Johannes oortuig dat die doop, God se Wil, in hierdie geval moet geskied. Dit word die aanvang van God die Vader se finale lydensreis met sy Seun. Jesus aanvaar nie net sy eie menslikheid nie. Hy aanvaar ook hier die sondeskuld wat saam met menslikheid kom. Hy, sónder sonde, word ter wille van ons een-en-al sonde. Ál die sonde van die ganse mensdom, van begin tot end, sal op sy reis tot by die kruis en in die graf sy deel word.

Hierdie pynlike finalé van sy koms na die wêreld, word ingelei deur sy doop. Dit is die Wil van God, sê Hy vir Johannes. En toé skeur die hemel oop in die koms van die Gees van God in die vorm van ‘n duif. En die uitroep van ontsaglike, oorweldigende blydskap van God sy Vader: “Dit is My geliefde Seun. Oor Hom verheug Ek My.” God se hart jubel omdat sy Seun sy Wil herken en gehoorsaam daarvolgens handel. Hy kies die lydensweg in afhanklike onderwerping aan sy Vader se Wil. Hy doen dit graag en vrywillig. Selfs al sou die volle konsekwensies van hierdie keuse miskien eers later volledig aan Hom bekend word.

U sien, ons hoef nie altyd met erge wroeging God se Wil as teenoorstaande en in konflik met ons eie klein willetjies te ervaar nie. Afhangende van ons verhouding met God, ons eie reis met Hom, kom ons ook soms by ‘n plek waar ons graag, met liefdevolle oorgawe, ons lewens, ons wil, ons álles aan Hom oorgee. In volkome ritme met sý Wil begin leef. Want ons wéét, maak nie saak wát dit van ons vra nie, daar sal wél sin en betekenis in wees; ‘n hoër doel, ‘n goddelike doel. Dít is gelóóf!

Op ons reis met God se wil kom ons soms op vreemde plekke en beland ons in vreemde situasies, dáár waar ons nie in ons wildste drome ged**k het ons sal beland nie. Soms selfs ‘n woestynreis, ‘n donker nag van die siel. Jesus word onmiddellik ná sy doop deur die Gees die woestyn in gelei. Dáár het versoeking en oorwinning op Hom gewag. Hy moes Homself juis teenoor die Satan sélf as die geliefde Seun van God openbaar. Die Boosheid moes wéét met Wie hy hier te doen het!

Só word ons, wat óók nou die geliefde kinders van God geword het, op dieselfde wyse soms versoek en beproef met ons eie woestynweg, ons eie stikdonker nag...by tye. En elke keer as ons, deur die genade van God en die werking van sy Gees werklik daarin slaag om sý Wil te kies, roep die Hemelkoning in uitbundige vreugde uit: “Dít is My geliefde kinders. Oor hulle verheug Ek My!”

VREUGDE EN VREDE,
Ds Frans

03/08/2020

MAANDAG 3 AUGUSTUS

GOD’S WIL EN ONS WIL II

LEES: MATTEUS 3:13-17
TEKS: MATTEUS 3:15
Mt. 3:15 “Nogtans moet jy dit nou doen, want op hierdie manier moet ons aan die WIL van God voldoen.”

OORDENKING
In ons gesprek verlede week oor God se Wil en ons wil, het dit duidelik geword dat Jesus, ons voorbeeld, ‘n baie duidelike standpunt inneem wanneer die Wil van God en ons eie wil teenoor mekaar te staan kom. Die hoër saak waaroor dit gaan, sê Jesus, is om onsself volledig en vrywillig in die binnekring van Gód se Wil te plaas.

Die mens se wil, alhoewel soortgelyk aan God se wil (Gen 2:27 “...as beeld van God het Hy die mens geskep”), is deur die sondeval só aangetas dat dit totaal verwronge en omgebuig na onsself geword het. Dít impliseer dat óns wil en God se Wil dikwels in konflik met mekaar is. Selfs al probeer ons om Gód se Wil in ons lewens te onderskei en gehoorsaam te volg, blý ons “wil” gebroke (1 Kor 13:12 “Nou kyk ons nog deur ‘n dowwe spieël en sien ‘n raaiselagtige beeld, maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is.”).

Ons sien, verstaan gewoon nie alles nie. Ons is mense. Selfs Jesus het ‘n bloedstryd hieroor in Getsémané gehad. Daarom is ons wil onvolledig. Selfs al probeer ons baie hard om in ooreenstemming met God se Wil te leef. Dit is soos om met gekleurde lense na die wêreld te kyk: Dit ís die werklikheid...en tóg ook nie heeltemal nie. God alléén kan ons sy Wil laat sien. Ons noem dit geestelike onderskeiding: Óns wil en Gód se wil. En hoe ons, deur die openbaring van God en sý genade, iets van sý Wil in ons lewens en in ons wêreld kan begin onderskei. En om dán gehoorsaam te volg!

Soms, soos ons in Mt 3:13ev sien, verskil God se logika geheel en al van ons s’n. Johannes die Doper word gekonfronteer met Jesus wat kom om Hom deur Johannes in die Jordaan te laat doop. Johannes voel dit is totaal verkeerdom en probeer Jesus keer: Mat 3:14 “Ek moet eintlik deur U gedoop word, en U kom na my toe?” En dán die beroemde woorde van Jesus wat ons hierbo as teks aangehaal het: Mt. 3:15 “Nogtans moet jy dit nou doen, want op hierdie manier moet ons aan die WIL van God voldoen.”

Jesus het reeds die onderskeidingswerk gedoen. God se Wil is vir Hom duidelik. Jesus, die volmaakte mens, moet óns ménsedoop (bekéringsdoop) op Hóm neem. Sodat Hy ook in ons plek kan sterf. Hierop stem Johannes in. Sélfs al maak dit waarskynlik steeds nie vir hom sin nie. Die uitdaging is om telkens óns wil met Gód s’n te laat sinchroniseer. En nét God kan dit binne-ín ons doen. Só, sodat al gee ons ons eie wil geheel en al aan Hóm oor, dit vir ons goed en reg is. Só dat, selfs al lyk God se wil totaal ánders as óns wil, ons die diepere beweging van die Heilige Gees binne-in ons bemerk, wat maak dat sý Wil toenemend ook óns wil wórd. En dat ons dit ook nooit ánders sou wou hê nie...

Wederom
Ds Frans

30/07/2020

VRYDAG 31 JULIE

GOD’S WIL EN ONS WIL I

LEES: MATTEUS 6:10b; 26:42

Mt. 6:10b “Laat U wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel”
Mt 26:42 “’n Tweede keer het Hy gaan bid en gesê: ‘My Vader, as hierdie lydensbeker nie by my kan verbygaan sonder dat Ek dit drink nie, laat U wil geskied.’”

OORDENKING
Ons ken hierdie woorde baie goed. Die eerste aanhaling uit Matteus 6 kom uit die “Onse Vader” gebed (“Abba to Pater” in Hebreeus en Grieks) en is die derde van die ses (of sewe) bedes. Die tweede aanhaling uit Matteus 26 kom uit Jesus se aangrypende gebede in Getsémané, die nag vóór sy kruisiging.

Wanneer ‘n mens die afrikaanse vertalings lees, sien mens dit nie eintlik dadelik raak nie, maar die griekse weergawes maak dit duidelik dat die woorde van Jesus in beide die gedeeltes, presies en woordeliks ooreenstem wanneer hy sê: “Laat U wil geskied” (Gr. “genéthé tó theléma sou”).

Dít impliseer dat Jesus se woorde nie net praatjies was nie. Hy “walked the talk”: Hy gee Homself aan sy Vader se Wil oor met presies dieselfde gebedswoorde as waarmee Hy óns geleer het om dit te doen. Alhoewel Hy dit sekerlik kón doen, gebruik Hy nie sy eie wíl en stap eenvoudig weg van die lyding wat vir Hom voorlê nie. Sy Vader sou na Hom luister, ás Hy sou vra. Tydens sy gevangeneming sê Hy: Matt 26:53-54 “...Of d**k jy Ek kan nie My Vader om hulp vra nie? Hy sal dadelik vir My meer as twaalf legioene engele beskikbaar stel. Maar hoe sal die Skrif dan vervul word wat sê hoe dié dinge moet gebeur?”

Jesus oorbrug die keuse wat Hy moet maak, om te ly en te sterf – of nié, met die Wil van God, die voorspellings in die Skrif wat op Hom van toepassing is en ‘n totale oorgawe aan God. Daarmee leer hy ons om óók só te maak. Want Hy leer ons nés Hy bid. Daarom staan die “Onse Vader” as Jesus se eie gebed bekend. Die hoër saak waaroor dit gaan, sê Jesus, is nie om nét na ons eie welsyn (soos ons dit nóú, met blinde oë, sien) om te sien nie. Maar om onsself volledig en vrywillig in die binnekring van Gód se Wil te plaas.

En dít, só weet ons, is glad nie so maklik nie...

Wees veilig oor die naweek.
Ons praat DV volgende week verder.

Wederom.,
Ds Frans

Address

Pringlestraat 1
Sasolburg
1947

Opening Hours

09:00 - 10:00

Website

Alerts

Be the first to know and let us send you an email when NHK Sasolburg posts news and promotions. Your email address will not be used for any other purpose, and you can unsubscribe at any time.

Share