Gereformeerde Kerk Wilropark

Gereformeerde Kerk Wilropark Die Facebook bladsy van die Gereformeerde Kerk Wilropark

Sondag 23 November 2025Liturgie oggend:Lofpsalm Ps 148:1,2,5Geloofsbelydenis Ps 133:1,2Verootmoediging Ps 139:1,5,12Vrys...
21/11/2025

Sondag 23 November 2025

Liturgie oggend:

Lofpsalm Ps 148:1,2,5

Geloofsbelydenis Ps 133:1,2

Verootmoediging Ps 139:1,5,12

Vryspraak Ps 40:2,5,8

Antwoord SB 9-4 (21):1,4,5

Teks: 1 Johannes 2:7-11 (83)

Tema: Die liefdestoets.

In 2 Kor 13:5 kry ons die opdrag: “Stel julleself op die proef en ondersoek julleself of julle in die geloof lewe.” Dit is iets wat ons in besonder moet doen in ons voorbereiding vir die nagmaal. In ons teks sonder Johannes een van die gebooie uit waaraan ons onsself moet toets. Ons kan dit die liefdestoets noem.

Die gebod wat as toets geld, is nie 'n nuwe gebod waarmee hier in die brief vorendag gekom word nie. Die gelowiges het dit al gehoor vandat hulle tot geloof gekom het. In die Ou Testament het God die gebod gegee dat ons Hom en ons naaste moet liefhê (Deut 6:5; Lev 19:18). Tog is die gebod ook nuut, in die sin dat Jesus daaraan 'n nuwe beklemtoning, dimensie, lewenskragtigheid gegee het (Joh 13:54). Die toets is eenvoudig of jy jou broer liefhet of nie.

In vers 10 en 11 kry ons die toets eers positief gestel en daarna negatief. Hy wat sy broer liefhet, bly in die lig en daar is niks wat hom laat struikel nie; in hom is geen oorsaak van struikeling nie. Hy is in die lig en daarom struikel hy nie. Deur die liefde wat hy aan sy broer bewys, is hy ook nie 'n oorsaak vir ander om te struikel nie. Jesus het gesê dat as ons mekaar liefhet, sal almal weet dat ons sy dissipels is (Joh 13:35).

Negatief gestel beteken die toets dat hy wat sy broer haat, in die duisternis is. Hy sien sake nie mooi duidelik nie. Sy haat wat by die duisternis hoort, verblind hom.

Uitsending om 09:00 by: http://gkwilro.co.za/

Liturgie aand:

Lofpsalm Ps 36:2,3

Woorddiens Ps 131:1,2,3

Antwoord Ps 2:1,4,6

Ps 45:4,5,6,16

Teks: 1 Samuel 18:3,9 (33/53)

Tema: Verdeeldheid oor die Gesalfde van die Here.

Israel het 'n nasionale held gekry nadat Dawid vir Goliat verslaan het. Dawid se naam was op almal se lippe. Nie lank tevore het hy skape opgepas en sou hy die ete misloop tussen Samuel en sy familie. Samuel moes spesiaal vra dat hy ook na die ete moes kom (1 Sam16:11). Nou het almal van hom geweet.

Ons lees dat Jonatan vir Dawid liefgehad het. Hy het 'n verbond met hom gesluit. Hy het selfs sy mantel vir Dawid gegee en ook sy uitrusting, sy swaard, sy boog en sy gordel. Jonatan was ouer as Dawid. Daarby was hy as seun van die koning, die wettige aanspraakmaker op die troon. Tog bewys hy aan Dawid hierdie eer om 'n verbond met hom te sluit en sy klere en uitrusting vir Dawid te gee. Jonatan doen dit, terwyl hy nie geweet het dat Dawid reeds deur Samuel as koning gesalf is nie.

Saul se verhouding met Dawid is so heeltemal anders. Hy het alle rede gehad om baie dankbaar te wees vir die oorwinning wat die Here deur Dawid gegee het. Die volk waarvan hy koning was, is uit 'n nasionale ramp gered. Tog was sy oog jaloers op Dawid en wantrou hy hom. Hy probeer hom met die spies doodgooi en daarna gee hy sy dogter aan Dawid as vrou, sodat sy vir hom 'n vangstrik kan word. Hy stuur Dawid uit teen die Filistyne in die hoop dat hulle vir Dawid sal doodmaak.

Wat kenmerk jou verhouding met die Gesalfde van die Here? Is dit liefde, oorgawe en lojaliteit?

Uitsending om 18:00 by: http://gkwilro.co.za/

Gereformeerde Kerk Wilropark webtuiste

Sondag 16 November 2025Liturgie oggend:Lofpsalm Ps 146:1,2,3,8Geloofsbelydenis Ps 9:1,7,10Verootmoediging Ps 40:6,8Vrysp...
14/11/2025

Sondag 16 November 2025

Liturgie oggend:

Lofpsalm Ps 146:1,2,3,8

Geloofsbelydenis Ps 9:1,7,10

Verootmoediging Ps 40:6,8

Vryspraak Ps 103:1,2,3

Antwoord Ps 33:9,10,11

Teks: 2 Korintiërs 12:7 (83)

Tema: 'n Doring in die vlees.

Paulus vertel van die doring in sy vlees wat aan hom gegee is. Daardie doring het hom gehinder om sy roeping na te kom.

Die doring is aan hom gegee. God het die doring gegee – God het die beproewing oor sy pad gebring. Die Satan het hierdie beproewing gesien as ‘n geleentheid om Paulus te versoek – om die instrument wat God gebruik het, in sy dienswerk te pla. Daarom noem hy die doring in die vlees ook ‘n engel van die Satan wat hom met die vuis geslaan het.

Met ‘n spesifieke doel het God die doring vir Paulus gegee. Hy moes hom nie verhef nie. As ons lees dat Paulus vertel van die gesigte en openbaringe wat hy gehad het (vers 1-4) en ons hou in gedagte dat dit veral in die Korintiese gemeente was wat lidmate op geesteservarings geroem het, dan word dit duideliker hoe Paulus hom nie moes verhef nie. Hy moes hom nie verhef, soos die hoogmoediges in Korinte, en die waarheid van die Evangelie probeer begrond op sy wonderlike geesteservarings nie.

Hy moes die geloofwaardigheid van die Evangelie nie koppel aan sy eie geesteservarings nie, maar aan die eenvoud van die oog en oor getuies daarvan. En daarvoor het God aan Paulus ‘n doring in die vlees gegee, sodat hy die Evangelie in die eenvoud van die Woord van God gebring het, sodat ons kan glo, op grond van die Woord van God alleen. Paulus en ons moet net op God steun as ons krag.

Uitsending om 09:00 by: http://gkwilro.co.za/

Liturgie aand:

Lofpsalm Ps 18:1,9,15,20

Woorddiens Ps 59:1,2,5,10 ,

Antwoord Ps 89:7,9,10

Ps 46:1,4,6

Teks: 1 Samuel 17:45-47 (33/53)

Tema: Verlossing van 'n reuse vyand.

Waar Israel en die Filistyne slaggereed opgestel was teenoor mekaar, het die vyand Israel probeer intimideer met hulle baasvegter Goliat. Die man was 'n reus wat nie net met sy grootte nie, maar ook met sy wapens en woorde die Israeliete verskrik en bang gemaak het. Vir veertig dae lank het dit so aangegaan. Israel het na die reus gekyk en hulle moed het hulle begewe.

Dawid word gestuur om kos weg te vat vir sy broers wat in die laer van Israel was. Hy sien die Filistyn as iemand wat die slagordes van die lewende God uitdaag (vers 26). Dawid sien dus meer as net dit wat voor oë is, naamlik die reus en sy bedreiging. Hy bring God in berekening en sien dat die vyandskap gemik is teen die lewende God.

En waar Dawid homself aanmeld om teen die reus te gaan veg, is dit met geloof in God wat hom in die verlede al verlos het. Hy getuig dat die Here hom gered het uit die kloue van die leeu en uit die kloue van die beer. Sy hulp kom van die lewende God wat hom gered het. Ook teenoor die reus getuig hy dat hy kom in die Naam van die HERE van die leërskare. Die oorwinning wat God gee, sal wees sodat almal daar (die Filistyne en die Israeliete) sal erken dat God die oorwinning gegee het. Dawid gaan terwyl hy God voor oë hou en God se eer soek.

God het verlos! Hy het sy volk Israel bewaar, sodat Een uit die nageslag van Dawid eeue later gestuur sou word om ons te verlos van ons grootste vyand. En waar die bose nou daarop uit is om ons te intimideer en bang te maak, kan ons deur die geloof vir God in berekening bring en sy eer soek en in sy krag weerstand bied en oorwin.

Uitsending om 18:00 by: http://gkwilro.co.za/

Gereformeerde Kerk Wilropark webtuiste

Sondag 9 November 2025Liturgie oggend:Lofpsalm Ps 145:1,9,10,11Geloofsbelydenis SB 12-3 (72):1,2Verootmoediging Ps 51:3,...
07/11/2025

Sondag 9 November 2025

Liturgie oggend:

Lofpsalm Ps 145:1,9,10,11

Geloofsbelydenis SB 12-3 (72):1,2

Verootmoediging Ps 51:3,5,6

Vryspraak SB 11-3 (16):7,8,9,10

Antwoord Ps 37:15,18,21,23

Teks: Hebreërs 11:4; Lees: Genesis 4:1-11 (83)

Tema: Deur dieselfde geloof spreek hy nou nog, al is hy reeds dood.

Die Hebreërbrief wil die lesers daarvan aanspoor om in die geloof te volhard; om nie terug te sak as gevolg van teenkanting en swaarkry nie. In ons teksvers word ons gewys op die geloof van Abel. Ons ken die geskiedenis van Kain en Abel van kindsbeen af. Altwee die broers bring offers aan die Here. Abel en sy offer word deur die Here aangeneem, maar nie Kain en sy offer nie. Ten spyte daarvan dat die Here daarna met Kain bemoediging maak – tot hom kom deur sy Woord – en hom waarsku dat hy nie moet toelaat dat die sonde hom in sy mag kry nie, slaan Kain die Here se Woord in die wind en vermoor sy broer.

Daar word baie redes aangevoer waarom die Here vir Abel en sy offer aangeneem het en nie vir Kain en sy offer nie. Sommiges maak 'n saak daarvoor uit dat Kain nie van die beste van sy graan gegee het nie, ander dat diere-offers meer aanvaarbaar was vir die Here as graanoffers. Ons teksvers leer ons die groot verskil tussen die offer van Abel en dié van Kain: Abel het geoffer, omdat hy geglo het. Sy offer was gegrond in sy geloof in God, terwyl Kain se offer 'n blote formele handeling was.

Al het dit gelyk asof Abel (tussen die twee broers) aan die kortste end getrek het, spreek hy nou nog, al is hy reeds dood. Hy het die wedloop van die geloof met volharding voltooi; hy het nie agtergebly in die woestyn nie, maar hy het in God se rus ingegaan. Hy is verlos deur Hom Wie se bloed van iets beters getuig as sy bloed (Heb 12:24).

Uitsending om 09:00 by: http://gkwilro.co.za/

Liturgie aand:

Lofpsalm Ps 97:1,6,7

Woorddiens Ps 71:1,5,7,9 ,

Antwoord Ps 119:12,13,14,22

Ps 7:2,6,7,8

Teks: 1 Konings 21:1-29 (5,20) (33/53)

Tema: Gekry deur 'n vyand of 'n vriend.

In die tragiese geskiedenis wat ons in ons teksgedeelte lees, sien ons die invloed wat vriende, of eerder “skynbare” vriende, op jou lewe kan uitoefen.

Agab begeer Nabot se wingerd wat langs sy paleis in Jisreël was. As ons sien hoe hy reageer toe hy dit nie kon kry nie, dan is dit duidelik dat sy hart vassit in die hier en nou. Agab bring God nie in berekening in sy lewe van elke dag nie. Wanneer hy later vir Isebel vertel wat Nabot gesê het van sy aanbod, laat hy Nabot se woorde oor God weg.

As 'n skynbare vriend kry Isebel vir Agab op sy bed en sy probeer hom opbeur deur aan hom te beloof dat sy vir hom die wingerd van Nabot in die hande sal kry. Deur 'n bose plan laat sy vir Nabot vermoor en kry sy sy wingerd. Sy tree skynbaar op as Agab se vriend, as iemand wat sy belange op die hart dra, maar as ons kyk waarop dit vir Agab uitloop dan was sy in werklikheid sy vyand gewees.

As 'n skynbare vyand word Agab in hierdie geskiedenis deur Elia gekry. Hy noem Elia sy vyand. Hy wat Agab is het homself verkoop, hy het hom oorgegee, om te doen wat verkeerd is in God se oë. Hy tree op as 'n vyand van God en daarom sien hy die boodskapper van God as sy vyand. As Agab egter na Elia geluister het, as hy hom hartgrondig tot God bekeer het, sou hy agterkom dat Elia se ontmoetings vir hom goed was.

Hulle wat deur Jesus Christus verlos is, soek God se Wil in die raad wat hulle jou gee en wys jou die pad na Jesus. Hulle is nie skynbare vriende nie. Is jy ook so 'n vriend vir ander?

Uitsending om 18:00 by: http://gkwilro.co.za/

Gereformeerde Kerk Wilropark webtuiste

Sondag 2 November 2025Liturgie oggend:Lofpsalm Ps 118:7,11,12Geloofsbelydenis Ps 46:1,4Verootmoediging Ps 86:3,4,5Vryspr...
31/10/2025

Sondag 2 November 2025

Liturgie oggend:

Lofpsalm Ps 118:7,11,12

Geloofsbelydenis Ps 46:1,4

Verootmoediging Ps 86:3,4,5

Vryspraak SB 5-4 (10):1,2,3,5,6

Antwoord SB 15-7 (43):1,2,4,5

Teks: 2 Timoteus 3:16,17 (83 vertaling)

Tema: Dit wat God ons in sy Woord gegee het.

In soveel opsigte klink dit asof die mense van vandag in 2 Timoteus 3,4 beskryf word. Hulle sal byvoorbeeld eerder liefde vir genot hê as liefde vir God; hulle sal nog die uiterlike skyn van die godsdiens hê, maar die krag van die godsdiens sal hulle nie ken nie (3:4,5). Calvyn het vyfhonderd jaar gelede daarop gewys dat die mense van sy tyd in hierdie gedeelte beskryf word en twee duisend jaar gelede het hierdie woorde ook die mense van Paulus en Timoteus se tyd beskryf.

Timoteus word dan aangespoor om by die gesonde leer te bly. Daar moet 'n duidelike onderskeid wees tussen hom en dié mense van sy tyd. En die hoofsaak wat Timoteus moet doen is dat hy hom deur die heilige Skrif moet laat lei. In ons teksvers lees ons dan wat die Skrif is en ons lees ook wat die Skrif doen.

Wat is die Skrif? Die Skrif is deur God geïnspireer. Hy het dit ingeblaas. Dit kom uit sy mond uit. Dit is God se openbaring aan ons; Sy Woorde aan ons. Dit geld vir die hele Skrif. Ons kan geen deel daarvan uitlaat of ignoreer as sou dit nie van God af kom nie.

Wat doen die Skrif? God die Heilige Gees gebruik die Woord om ons tot geloof in Jesus Christus te bring (vers 15). Sonder die Woord sou jy nie 'n kind van God gewees het nie. En as kind van God moet jy die Skrif vertrou as nuttig. Daarsonder kan jy nie voorberei en toegerus wees vir die goeie werk waardeur jy God moet verheerlik nie.

Uitsending om 09:00 by: http://gkwilro.co.za/

Liturgie aand:

Lofpsalm Ps 48:1,4,5

Woorddiens Ps 27:1,2,4

Antwoord SB 1-1 (24):2,3,6

Ps 149:1,2

Teks: Lukas 18:9-14 (83 vertaling)

Tema: As iemand wie se saak met God reg is.

Maartin Luther het geworstel met die vraag: “Hoe vind ek 'n genadige God?” Die bekende gelykenis van die Fariseër en die tollenaar gee vir ons 'n antwoord op hierdie kardinale lewensvraag. Jesus het dié gelykenis vertel met die oog op mense wat op hulleself vertrou het dat hulle eie saak met God reg is en wat op ander neergesien het.

In die gelykenis ontmoet ons twee mense wat na die tempel gegaan het om te bid. Die Fariseër vertrou op homself en sy eie goeie werke om sy saak met God reg te maak. In die Fariseër se woorde hoor ons wat jou gesindheid is as jy op jouself vertrou om jou saak met God reg te maak. Jy sien dan neer op ander mense – die Fariseër het daarop geroem dat hy nie soos ander mense is nie. Verder vergelyk jy jouself met ander mense en nie met God nie, as maatstaf dat jy regverdig is. In jou vergelyking kyk jy ook net na die uiterlike dinge/optrede en nie na die gesindheid van jou hart nie.

Een van die twee wat gaan bid het – die tollenaar en nie die Fariseër nie – het huis toe gegaan as iemand wie se saak met God reg is. Hy het nie op homself vertrou of op sy eie goeie werke om sy saak met God reg te maak nie. Hy het homself met God vergelyk en toe besef dat hy 'n sondaar in God se oë is. Hy het in sy eie hart ingekyk, sy lewe gesien, en geweet dat hy God niks kan aanbied nie. Hy het God om genade gesmeek; God vertrou om hom te regverdig.

Alleen so vind jy 'n genadige God: As jy God vertrou wat deur sy Seun alles volbring het, sodat jou saak met Hom reg kan wees.

Uitsending om 18:00 by: http://gkwilro.co.za/

Gereformeerde Kerk Wilropark webtuiste

Sondag 26 Oktober 2025Liturgie oggend:  Lofpsalm  Ps 105:1,2,9,10 Geloofsbelydenis Ps 136:1,2,19,20 Verootmoediging Ps 4...
24/10/2025

Sondag 26 Oktober 2025

Liturgie oggend:
Lofpsalm Ps 105:1,2,9,10
Geloofsbelydenis Ps 136:1,2,19,20
Verootmoediging Ps 42:3,4
Vryspraak Ps 34:2,4,8
Antwoord Ps 24:1,2,5

Teks: Daniël 3:17-18 (33/53 vertaling)
Tema: Getrou in die vuur, veilig in God.


Uitsending om 09:00 by: http://gkwilro.co.za/


Liturgie aand:

Lofpsalm Ps 84:1,3,4
Woorddiens Ps 23:1,2,3
Antwoord Ps 103:1,2,3
SB 3-4 (65):1,2,3,4,5

Teks: Filippense 1:21 (33/53 vertaling)
Tema: As die lewe nie Christus is nie, is die sterwe nie wins nie.

Uitsending om 18:00 by: http://gkwilro.co.za/

Gereformeerde Kerk Wilropark webtuiste

Sondag 19 Oktober 2025Liturgie oggend:Lofpsalm Ps 147:1,4,5Geloofsbelydenis Ps 34:4,8Verootmoediging Ps 74:1,2,15,16Vrys...
17/10/2025

Sondag 19 Oktober 2025

Liturgie oggend:

Lofpsalm Ps 147:1,4,5

Geloofsbelydenis Ps 34:4,8

Verootmoediging Ps 74:1,2,15,16

Vryspraak SB 5-2 (7):4,8,9

Antwoord Ps 126:1,2,3

Teks: Jeremia 29:4-7 (33/53 vertaling)

Tema: Soek die vrede van die stad en bid daarvoor.

Voorspellings wat die afgelope tyd gemaak word oor die eindtyd, laat vrae onstaan oor valse leraars. In ons teksgedeelte sien ons dat vals profete glad nie 'n nuwe verskynsel is nie. Destyds het die die wegvoering van die bevolking na Babel in verskillende fases plaasgevind. Terwyl ‘n deel van die volk reeds in Babel was en die grootste deel nog in Juda, was daar die verwagting dat die ballingskap vinnig tot ‘n einde sal kom en die valse profete het dit ook verkondig.

In ons teksgedeelte skryf Jeremia ‘n brief vir die ballinge in Babel en vertel aan hulle dat hulle nie ‘n spoedige terugkeer moet verwag nie. Eers oor sewentig jaar sal Babel gestraf word en sal God sy volk laat terugkeer na hulle land toe. Intussen moet hulle bid vir die vrede van die stad waarheen hulle weggevoer is, want in die vrede daarvan sal ook hulle vrede hê.

Jeremia het geweet dat God sy volk straf met die doel om hulle te seën. God se werk van vandag het 'n bedoeling vir môre. Uit die nag van die ballingskap moet daar nie 'n verrinneweerde en hooplose volk te voorskyn kom nie, maar 'n volk wat geheilig en gelowig na die wil van God vra; wat gegroei het onder die tugtigende hand van die Here. Die opdrag om die vrede van die stad te soek en daarvoor te bid was 'n ondenkbare opdrag vir die Jode. Tog was dit 'n opdrag wat hulle moes gehoorsaam, want Israel moes nie in die ballingskap ondergaan nie. In die behoud van Israel was die behoud van die wêreld opgesluit.

Uitsending om 09:00 by: http://gkwilro.co.za/

Liturgie aand:

Lofpsalm Ps 92:1,6,7

Woorddiens Ps 119:4,5,6

Antwoord Ps 20:2,3,4

Ps 40:3,4,5

Teks: Romeine 12:3-8 (83 vertaling)

Tema: In Jesus Christus is ons een liggaam.

Die spreekwoord sê: “Wanneer jy in Rome is, moet jy maak soos wat die Romeine maak.” Hier in die brief aan die Romeine spoor Paulus die gelowiges in Rome aan om NIE te maak soos wat die Romeine maak nie. “Julle is in Rome, maar moenie doen wat die Romeine doen nie!” Die beginsel wat gestel word in vers 1-2 is dat ons ons liggame as lewende offers aan God moet gee en dat ons moet verander deur die vernuwing van ons denke. In ons teks sien ons hoe lyk 'n lewe as offer aan God in die Kerk; in hoe die Kerk funksioneer. Ons sien ook hoe lyk denke wat vernuwe word wanneer dit kom by ons verhouding met ons medegelowiges. Ons leer hoe ons moet d**k oor die Kerk.

Jy moet weet wie jy is in Christus (vers 3). Jy moenie meer van jouself d**k as wat jy behoort te d**k nie. Jy moet jou daarop toelê om nugter te oordeel. Dit is wanneer ons nie nugter oordeel nie, nie vanuit God se perspektief daarna kyk nie, dat ons verkeerd oor onsself d**k. Dan tree ons ook nie teenoor medegelowiges op soos wat ons moet nie.

Jy moet ook weet waar jy in Christus hoort (vers 4,5). Jy behoort aan Hom en daarom hoort jy in sy liggaam. Die nuwe gemeenskap waarin Hy ons bymekaarbring is sy Kerk en omdat jy daar hoort, moet jy die belange daarvan soek en bevorder.

Jy moet ook weet waarom jy daar is; waarom jy genadegawes ontvang het (vers 6-8). Jy het dit ontvang. Jy het dit dit nie self voortgebring nie. Dit is nie in die eerste plek vir jou nie – dit is vir die ander lede.

Uitsending om 18:00 by: http://gkwilro.co.za/

Gereformeerde Kerk Wilropark webtuiste

Sondag 5 Oktober 2025Liturgie oggend:Lofpsalm Ps 25:1,2,10Geloofsbelydenis Ps 111:1,5Verootmoediging Ps 32:1,3Vryspraak ...
03/10/2025

Sondag 5 Oktober 2025

Liturgie oggend:

Lofpsalm Ps 25:1,2,10

Geloofsbelydenis Ps 111:1,5

Verootmoediging Ps 32:1,3

Vryspraak Ps 33:1,10,11

Antwoord Ps 45:1,2,9,10

Teks: Hosea 1:1-11 (33/53 vertaling)

Tema: God openbaar sy liefde in die hartverskeurende werklikheid van Israel se ontrou.

Die aangrypende teks uit Hosea 1:2, gaan ons saam leer waar die Here sy profeet roep om met ’n ontroue vrou te trou. In die Ou Afrikaanse vertaling word sy 'n h**r genoem. Dit is vir ons 'n baie lelike woord, maar soos ons sal sien in die teks en in die prediking is dit om te wys die baie leliker sondes wat die Here se volk teen Hom doen. ’n Simboliese daad wat die geestelike h**rery van Israel uitbeeld. Deur hierdie skokkende opdrag openbaar God sy rou en regverdige liefde vir ’n volk wat Hom verlaat het. Die kinders wat uit hierdie huwelik gebore word, dra name van oordeel – Jisreël, Lo-Rughama, Lo-Ammi – maar selfs daarin skitter ’n straal van hoop. God beloof om dié wat “nie my volk” was nie, weer sy kinders te noem. In die preek word hierdie liefde van God verder oopgebreek as ’n heenwysing na Christus, die ware Bruidegom, wat sy ontroue bruid – die kerk – liefhet, reinig en herstel deur sy bloed.

Uitsending om 09:00 by: http://gkwilro.co.za/

Liturgie aand:

Lofpsalm Ps 145:1,3,10

Woorddiens Ps 71:1,3,14

Antwoord Ps 1:1,4

Ps 18:1,10,11

Teks: Hosea 2:1-22 (33/53 vertaling)

Tema: God lei sy ontroue bruid die woestyn in, om haar hart te roer en haar trane te verander in ’n poort van hoop

In die tweede diens fokus ons op die wonderlike genade van God soos dit in Hosea 2:14–15 geopenbaar word. Ná haar ontrou en selfgekose pad, neem God self die inisiatief om sy volk terug te bring. Hy lei haar die woestyn in – die plek van stilte, ontneming en verootmoediging – nie om haar te vernietig nie, maar om haar hart te roer. Hierdie pad van verootmoediging is nie ’n doodloopstraat nie. God belowe om haar dáár haar wingerde te gee en selfs die dal van Agor (die plek van oordeel) te maak tot ’n poort van hoop. Dit is die beweging van die Evangelie, van oordeel tot genade, van ontrou tot verbondsgemeenskap.

Uitsending om 18:00 by: http://gkwilro.co.za/

Gereformeerde Kerk Wilropark webtuiste

Sondag 28 September 2025Liturgie oggend:Lofpsalm Ps 146:1,4,8Geloofsbelydenis Ps 105:4,5,6Verootmoediging/Vryspraak Ps 4...
26/09/2025

Sondag 28 September 2025

Liturgie oggend:

Lofpsalm Ps 146:1,4,8

Geloofsbelydenis Ps 105:4,5,6

Verootmoediging/Vryspraak Ps 40:6,8

Na doopbediening SB 16-1 (15):1,2,6,7

Antwoord SB 18-1 (9):4,5,6

Teks: Matteus 27:24-25 (33/53 vertaling)

Tema: Jesus se bloed op ons en ons kinders.

Pilatus het goed geweet dat Jesus onskuldig was op die aanklagte wat die Jode teen Hom ingebring het. Hy kom egter nie so ver om sy verantwoordelikheid as regter na te kom en Jesus vry te laat nie. Met 'n simboliese gebaar – deur sy hande voor die skare te was – verklaar Pilatus dat hy onskuldig is aan die bloed van Jesus. Hy probeer neutraal bly teenoor Jesus se bloed. Eintlik wil hy nie sien dat dit vergiet word nie, maar hy keer ook nie dat dit gebeur nie.

In plaas daarvan dat hierdie simboliese daad om sy hande te was, die skare geskok het tot die besef dat hulle 'n regverdige wil veroordeel, het die hele volk uitgeroep: “Laat sy bloed op ons en op ons kinders kom!” Hulle is nie bang vir die gevolge daarvan om Jesus se bloed te vergiet nie. Sy bloed sal hulle en hulle kinders niks maak nie. Dit sal hulle nie aankla nie. Hulle verwerp Jesus se bloed as iets wat niks werd is nie.

Pilatus wil neutraal bly teenoor Jesus se bloed en die Jode verwerp dit as iets wat niks werd is nie. Beide houdings teenoor die bloed van die Here Jesus het rampspoedige gevolge. Hierteenoor kan en moet ons die Here se bloed gelowig aanvaar as 'n betaling vir al ons sondes; as dit wat nodig was om ons met God te versoen. So kan ons die woorde van die volk – “Laat sy bloed op ons en ons kinders kom” – oorneem, nie omdat ons dit waardeloos ag en verwerp nie, maar omdat ons en ons kinders daarsonder nie kan lewe nie en ook nie 'n toekoms het nie.

Uitsending om 09:00 by: http://gkwilro.co.za/

Liturgie aand:

Lofpsalm Ps 107:1,18,20,21

Woorddiens Ps 4:2,3

Antwoord Ps 20:2,3,4

Ps 68:2,3,13,15

Teks: Galasiërs 6:10 (83 vertaling)

Tema: Laat ons dan goed doen.

In ons teks kry ons die oproep: “Solank ons die geleentheid het, moet ons dus aan almal goed doen, veral aan ons medegelowiges.” Met hierdie oproep bevind ons ons op die gebied van die ampswerk van die diakens. In die bevestigingsformulier vir diakens, lees ons dat die diakens moet toesien dat die gelowiges aan almal goed doen.

Wat is die rede waarom ons opgeroep word om goed te doen? Die rede is omdat God in Christus aan ons genade bewys het. Ons word nie op grond van ons eie goedheid kinders van God nie, maar enkel en alleen op grond van die genade van God; op grond van die verlossingswerk van Jesus Christus. Jesus Christus het ons kom verlos toe ons nog vyande van God was.

Waaruit bestaan die goed doen waartoe die Here ons roep? In Gal 6:1 lees ons dat as iemand in die een of ander sonde val, moet so iemand in ‘n gees van sagmoedigheid reggehelp word. Die goed doen bestaan daarin dat ons mekaar se laste sal dra. Dit bestaan verder daarin dat ons nie op die akker van ons sondige natuur moet saai nie, maar op die akker van die Gees.

Aan wie moet ons goed doen? Nie net aan die medegelowiges nie - wat tog vanselfsprekend moet - maar ook aan almal. Ons medegelowiges moet die voorrang en prioriteit geniet, maar dit hef nie ons verantwoordelikheid op om ook aan die ander goed te doen nie.

Uitsending om 18:00 by: http://gkwilro.co.za/

Gereformeerde Kerk Wilropark webtuiste

Sondag 14 September 2025Liturgie oggend:Lofpsalm Ps 149:1,2Geloofsbelydenis SB 16-1 (15):4,6,7Verootmoediging Ps 79:5,6,...
12/09/2025

Sondag 14 September 2025

Liturgie oggend:

Lofpsalm Ps 149:1,2

Geloofsbelydenis SB 16-1 (15):4,6,7

Verootmoediging Ps 79:5,6,9

Vryspraak Ps 32:3,4,6

Antwoord Ps 23:1,2,3

Teks: Johannes 10:11

Tema: Die Goeie Herder en Sy skape.

Destyds was 'n herder wat skape oppas 'n alledaagse gesig gewees. Jesus gebruik die beeld van 'n herder met sy skape om sy verhouding met hulle wat aan Hom behoort, te beskryf. So 'n herder het sy skape op die naam geken. Hy het hulle geroep en gelei. Hy het voor hulle uitgegaan, vir hulle goeie weiding in die oog gehad en die skape het hulle herder se stem geken, na hom geluister en hom gevolg.

Jesus verklaar van Homself dat Hy die Goeie Herder is. Hy is goed, edel, uniek. Hy is die volmaakte Herder, die model Herder. Hy is waardig om as Herder geprys te word. Hy moet onderskei word van alle ander herders. Hy is die Herder wat sy lewe aflê vir sy skape. Hy doen dit vrywillig, in opdrag van sy Vader, as Oorwinnaar wat ook weer sy lewe sal opneem. Hy lê sy lewe af vir sy skape, terwyl Hy sy skape ken. Toe Hy op die kruishout gesterf het, het Jesus geweet wie sy skape is, vir wie Hy sy lewe aflê.

As jy deur Jesus Christus verlos is, as jy een van sy skape is, dan sal jy die Goeie Herder se stem ken. Jy sal na Hom luister. Jy sal Hom volg. Jy sal glo dat Hy vir jou die goeie in die oog het; dat hoe Hy jou lei en waarheen Hy jou lei die heel beste is. Dat Hy gekom het, sodat jy die lewe in oorvloed kan hê. Omdat jy sy stem ken en na Hom luister, sal jy wegvlug van vreemdes. Die beeld van die Goeie Herder en sy skape sal jou siening van die kerk en jou verwagting daarvan, bepaal.

Uitsending om 09:00 by: http://gkwilro.co.za/

Liturgie aand:

Lofpsalm Ps 92:1,2,7

Woorddiens Ps 1:1,2,3,4

Antwoord SB 2-2 (34):1,3

Ps 128:1,2,3,4

Teks: Psalm 128

Tema: 'n Gelukkige/geseënde mens.

In Psalm 128 word seën beloof (vers 1,4), dit word dan ook beskryf (vers 2,3) en dan word die seën ook begeer (vers 5,6).

Die seën wat beloof word, is om waarlik gelukkig (welgeluksalig) te wees. Hierdie geluk is om vergenoeg te wees, om innerlike vrede te hê, om geestelik vervuld te wees. Dit is om te lewe met die blydskap, sekerheid en vrede dat jy met God versoen is. Die sleutel vir hierdie geluk is om die Here te vrees en in sy weë te wandel. Ons kan die “vrees vir die Here” beskryf as 'n gesonde respek en eerbied vir God wat voortvloei uit kennis van God en wat uitloop in gehoorsaamheid aan God. “Vrees vir die Here” beskryf jou innerlike ingesteldheid en “wandel in sy weë” jou uiterlike dade.

Die seën wat beskryf word, is soos 'n klippie wat in die water val en rimpelings na buite veroorsaak. Dit brei uit na ander rondom die man wat geseën word, na sy huweliksmaat, sy gesin, die kerk en die samelewing.

Hierdie seën word begeer (vers 5,6). Daar word gebid om die seën van die Here uit Sion. Sion was die tempelberg waarheen die volk wat Psalm 128 gesing het, opgegaan het. By Sion ontmoet hulle God saam met sy volk. Daar kon hulle verwag om seën te vind. Die seën is nie individualisties bedoel nie, maar word ook gesoek vir Jerusalem en vir Israel, vir die Kerk en die Koninkryk van God. Is die seën wat hier beskryf word, ook dit wat jy soek? Soek jy dit vir jouself en vir ander?

Uitsending om 18:00 by: http://gkwilro.co.za/

Gereformeerde Kerk Wilropark webtuiste

Sondag 7 September 2025Liturgie oggend:Lofpsalm Ps 104:1,8,9,20Geloofsbelydenis Ps 81:1,9,12Verootmoediging Ps 94:4,5,6,...
05/09/2025

Sondag 7 September 2025

Liturgie oggend:

Lofpsalm Ps 104:1,8,9,20

Geloofsbelydenis Ps 81:1,9,12

Verootmoediging Ps 94:4,5,6,10

Vryspraak Ps 71:4,5,9,14

Antwoord SB 15-7 (43):1,4,5,6

Teks: Markus 7:31-36

Tema: Die dowes laat Hy hoor en die stommes praat.

In die gebied van Dekapolis bring hulle 'n man na Jesus wat doof is en wat swaar praat en hulle smeek die Here om hom die hande op te lê. Jesus neem die man dan opsy, weg van die skare, steek sy vingers in sy ore en spuug en raak die man se tong aan. Daarna kyk Jesus op na die hemel, sug Hy en sê aan hom: Effata, dit is: Gaan oop! En die man se ore het dadelik oopgegaan en die band van sy tong het losgeraak en hy het reg gepraat.

Dit wat Jesus gedoen het, naamlik om sy vingers in die man se ore te steek en te spuug en die man se tong aan te raak, klink vir ons vreemd. Maar ons moet onthou dat die man doof was. Jesus fokus die man se aandag op Homself en Hy wys met sy handelinge dat Hy iets gaan doen aan sy ore en tong. Sy opkyk na die hemel moes die man laat verstaan dat die genesing van God af kom. In dit wat daar gebeur het, vind ons 'n vervulling van die profesie van Jesaja 35:6 waar ons lees dat God die tong van die stomme sal laat jubel. Na die wondergenesing lees ons dat die mense uitermate verslae was en dat hulle gesê het dat Jesus alles goed gedoen het. Hierdie erkenning herinner ons aan hoe die Here alles goed geskep het in die begin (Gen 1).

Dit wat God gedoen het vir die dowe man wat swaar gepraat het, doen Hy ook vir elkeen wat Hy verlos. Hy maak ons ore oop dat ons die Evangelie kan hoor en verstaan en Hy maak ons tonge los dat ons kan vertel van die groot dade wat God gedoen het.

Uitsending om 09:00 by: http://gkwilro.co.za/

Liturgie aand:

Lofpsalm Ps 135:1,2,3

Woorddiens Ps 40:1,3,8

Antwoord Ps 127:1,2,3,4

Ps 107:1,18,20,21

Teks: Psalm 127

Tema: Sonder die HERE is alles tevergeefs.

Ons lees drie maal die woordjie “tevergeefs” in Psalm 127. Die huis wat gebou word, die stad wat beskerm word, en die werk wat gedoen word om in ons daaglikse nood te voorsien, is alles tevergeefs as die Here dit nie doen nie. Dit is as God nie daarin betrokke is nie; as Hy dit nie seën nie. Sonder die Here is dié dinge waarmee ons mense ons besighou, tevergeefs. Dit is 'n gejaag na wind wat geen blywende resultate lewer nie.

Dan lees ons ook van die bemindes van die Here aan wie Hy dit in hulle slaap gee. Hulle werk nie met dieselfde bekommernis as die ongelowiges wat nie 'n hemelse Vader het nie. Hulle werk terwyl hulle hulle Vader in die hemel vertrou om vir hulle te sorg. So vertrou hulle Hom ook om hulle bouwerk te laat staande bly en om hulle te beskerm. Hulle vind hulle sekerheid in die HERE vir Wie hulle in berekening bring in alles wat hulle doen.

Na die drie maal tevergeefs lees ons van die kinders wat ons uit die Hand van die Here ontvang. Hulle is 'n erfdeel van die HERE. Hy gee hulle en hulle behoort aan Hom. Hulle is soos pyle in die hand van 'n held. Die held plaas die pyle in sy boog en skiet dit af. As hy sy teiken tref, bereik hy sy doel daarmee. Die man wat sy pylkoker met sulke pyle gevul het, word gelukkig genoem. Daar is 'n toekoms en 'n toekomsverwagting, iets blywends wat tot stand gebring word.

Deur sy Seun het God ons verlos van ons verslawing aan die verganklikheid en ons laat deel kry aan die ewigheid. Danksy Hom is ons lewens nie tevergeefs nie, maar het ons 'n heerlike roeping en 'n doel. Deur Jesus kan ons God vertrou om te bou, te beskerm en te voorsien in ons lewens.

Uitsending om 18:00 by: http://gkwilro.co.za/

Gereformeerde Kerk Wilropark webtuiste

Address

Corner Of Kiepersol And Haakdoring Street, Wilropark
Roodepoort
1724

Opening Hours

09:00 - 10:00
18:00 - 19:00

Telephone

+27117644230

Alerts

Be the first to know and let us send you an email when Gereformeerde Kerk Wilropark posts news and promotions. Your email address will not be used for any other purpose, and you can unsubscribe at any time.

Contact The Place Of Worship

Send a message to Gereformeerde Kerk Wilropark:

Share