21/11/2025
Sondag 23 November 2025
Liturgie oggend:
Lofpsalm Ps 148:1,2,5
Geloofsbelydenis Ps 133:1,2
Verootmoediging Ps 139:1,5,12
Vryspraak Ps 40:2,5,8
Antwoord SB 9-4 (21):1,4,5
Teks: 1 Johannes 2:7-11 (83)
Tema: Die liefdestoets.
In 2 Kor 13:5 kry ons die opdrag: “Stel julleself op die proef en ondersoek julleself of julle in die geloof lewe.” Dit is iets wat ons in besonder moet doen in ons voorbereiding vir die nagmaal. In ons teks sonder Johannes een van die gebooie uit waaraan ons onsself moet toets. Ons kan dit die liefdestoets noem.
Die gebod wat as toets geld, is nie 'n nuwe gebod waarmee hier in die brief vorendag gekom word nie. Die gelowiges het dit al gehoor vandat hulle tot geloof gekom het. In die Ou Testament het God die gebod gegee dat ons Hom en ons naaste moet liefhê (Deut 6:5; Lev 19:18). Tog is die gebod ook nuut, in die sin dat Jesus daaraan 'n nuwe beklemtoning, dimensie, lewenskragtigheid gegee het (Joh 13:54). Die toets is eenvoudig of jy jou broer liefhet of nie.
In vers 10 en 11 kry ons die toets eers positief gestel en daarna negatief. Hy wat sy broer liefhet, bly in die lig en daar is niks wat hom laat struikel nie; in hom is geen oorsaak van struikeling nie. Hy is in die lig en daarom struikel hy nie. Deur die liefde wat hy aan sy broer bewys, is hy ook nie 'n oorsaak vir ander om te struikel nie. Jesus het gesê dat as ons mekaar liefhet, sal almal weet dat ons sy dissipels is (Joh 13:35).
Negatief gestel beteken die toets dat hy wat sy broer haat, in die duisternis is. Hy sien sake nie mooi duidelik nie. Sy haat wat by die duisternis hoort, verblind hom.
Uitsending om 09:00 by: http://gkwilro.co.za/
Liturgie aand:
Lofpsalm Ps 36:2,3
Woorddiens Ps 131:1,2,3
Antwoord Ps 2:1,4,6
Ps 45:4,5,6,16
Teks: 1 Samuel 18:3,9 (33/53)
Tema: Verdeeldheid oor die Gesalfde van die Here.
Israel het 'n nasionale held gekry nadat Dawid vir Goliat verslaan het. Dawid se naam was op almal se lippe. Nie lank tevore het hy skape opgepas en sou hy die ete misloop tussen Samuel en sy familie. Samuel moes spesiaal vra dat hy ook na die ete moes kom (1 Sam16:11). Nou het almal van hom geweet.
Ons lees dat Jonatan vir Dawid liefgehad het. Hy het 'n verbond met hom gesluit. Hy het selfs sy mantel vir Dawid gegee en ook sy uitrusting, sy swaard, sy boog en sy gordel. Jonatan was ouer as Dawid. Daarby was hy as seun van die koning, die wettige aanspraakmaker op die troon. Tog bewys hy aan Dawid hierdie eer om 'n verbond met hom te sluit en sy klere en uitrusting vir Dawid te gee. Jonatan doen dit, terwyl hy nie geweet het dat Dawid reeds deur Samuel as koning gesalf is nie.
Saul se verhouding met Dawid is so heeltemal anders. Hy het alle rede gehad om baie dankbaar te wees vir die oorwinning wat die Here deur Dawid gegee het. Die volk waarvan hy koning was, is uit 'n nasionale ramp gered. Tog was sy oog jaloers op Dawid en wantrou hy hom. Hy probeer hom met die spies doodgooi en daarna gee hy sy dogter aan Dawid as vrou, sodat sy vir hom 'n vangstrik kan word. Hy stuur Dawid uit teen die Filistyne in die hoop dat hulle vir Dawid sal doodmaak.
Wat kenmerk jou verhouding met die Gesalfde van die Here? Is dit liefde, oorgawe en lojaliteit?
Uitsending om 18:00 by: http://gkwilro.co.za/
Gereformeerde Kerk Wilropark webtuiste