03/07/2026
Gedagte vir die dag.
Teksvers: Eségiël 34:15 & 16 “Ek self sal my skape oppas, en Ek self sal hulle laat lê en rus, spreek die Here HERE. Die wat verlore is, sal Ek soek, en wat weggedryf is, sal Ek terugbring, en wat gewond is, sal Ek verbind, en die siekes sal Ek versterk; maar die vettes en die sterkes sal Ek verdelg: Ek sal hulle oppas soos dit reg is.”
Ons leef in ’n tyd waarin skaapherders nie volop is nie. Sommige boere verkies om van skaaphonde gebruik te maak. Dié honde bring die skape manhaftig terug na die kudde wanneer een afdwaal of die pad byster raak. In die Bybelse tyd was skaapherders en beeswagters nie gesiene mense in die samelewing nie. Nogtans het God verkies om Dawid agter die skape weg te neem en te roep en het hom selfs tot koning verhoog. God self verklaar in ons teks van oordenking dat Hy Sy skape, Sy kinders, Sy volgelinge, sal oppas, lei en versorg. Ja, Hy belowe om die afgedwaaldes terug te bring en die siekes gesond te maak.
Daar is ware voedsel vir elkeen wat honger en dors na die teenwoordigheid, die leiding en die voedsel van die Woord. Jesus is die Lewe en ook die Water van die lewe vir elke gelowige. In ons teksvers belowe ons grote Herder dat sulke heilige voedsel deur Homself gegee word. Ek het in ’n interessante artikel gelees dat ’n skaapboer skryf dat skape nie lopende water wil drink nie – hulle drink slegs wanneer ’n poel of dam rustige water beskikbaar is.
Elke kind van God ervaar ’n dag van geestelike dors. ’n Dag wanneer die voel asof jou hart, ja, jou binneste dors na die Here, na Sy waters. Wanneer ernstige siekte of die dood ’n gesin besoek, dan roep diegene wat langs die bed staan na die Here vir hulp, leiding en rustigheid in die gemoed. Die siel wat in ’n lewende verhouding met God staan vind in die moeilikste tye en omstandighede ’n onverklaarbare rus in sy hart – ongeag wat gebeur.
Ek herinner my aan jare gelede toe een van ons predikante by die lewelose liggaam van sy laatlam dogtertjie gestaan het nadat ’n onverskillige motorbestuurder haar raakgery het terwyl sy binne die wit lyne van die skolier-oorgang van die skool, die pad saam met ander graad 1 en 2 leerlinge oorgesteek het. Hierdie predikant en sy vrou het geen kwade woord uitgespreek teenoor die bestuurder van die motor nie. Jare daarna het hulle getuig dat ’n bonatuurlike rus in hul stukkende, gebreekte harte kom lê het. Genade van God gee nie alleen aan ons ondersteuning nie, maar ook vertroosting in smarte.
Mag die Here ons vandag elkeen op die grasvelde van die Woord laat wei en ons daarin laat neerlê en rus. Die Woord is die kind van God se voeding. Ek het by ’n aftreeoord ’n dame gesien wat erg aan Alzheimer’s se siekte ly, maar sy sit bedags op haar stoep met die Woord en sy lees die Woord. Selfs in haar verswakte verstandelike vermoë, het die Woord haar gevoed en, alhoewel sy só baie dinge vergeet het, kon sy steeds die Bybel lees. Ek het etlike kere gesprekke met haar gevoer en slegs wanneer sy oor die Woord praat het sy ten volle sin gepraat. Sy is ’n week gelede oorlede en talle inwoners het getuig hoedat haar verswakte brein die Woord ingeneem het.
O, as die Herder van die hemel met ons is en lei, is ons veilig.
Seëninge.
(Geskryf deur Yvonne Slabber)