22/03/2020
NG Wonderboompoort en Covid-19: Spesiale Nuusbrief
Beste Lidmaat
Dit is belangrik dat u die hele brief sal lees, aangesien uiters belangrike inligting daarin vervat word.
Na aanleiding van die aankondiging van die staatspresident het die kerkraad Dinsdag- en Donderdag-aand bymekaargekom en ernstig en biddend heelwat opsies oorweeg. Alhoewel ons die situasie dophou en van besluit mag verander, het die kerkraad die volgende besluit vir die tyd tot en met paasnaweek:
1. Eredienste
- Die Sondag-oggend se eredienste, sowel as ander dienste wat op die kerkkalender aangedui word, sal nie meer gaan plaasvind nie, om sodoende die virus se verspreiding te voorkom en die meer weerloses in ons gemeenskap te beskerm.
- Elke Sondag se diens sal ‘n vooraf opgeneem word en die Saterdag reeds beskikbaar gestel word op die internet (ook selfone) en op CD’s. Vrywilligers sal die CD’s versprei na waar daar ‘n behoefte is. Al die skakels na die preke sal op ons kerk se webblad wees (www.wonderboompoort.com) as klank en video (youtube).
- Ons moedig lidmate aan om Sondag-oggende 9:00 as huisgesinne bymekaar te kom en deur bogenoemde mediums die erediens te kyk of te luister. Op so ‘n manier beleef ons iets van die gemeenskap van die gelowiges in Wonderboompoort en kan gesinne ook weer huisgodsdiens laat herleef.
2. Ander gemeentelike samekomste
- Die Bybelstudies van Ds Wouter en Ds Naudé word afgestel, aangesien die meerderheid bywoners in die hoë-risiko ouderdom val.
- Ons beveel aan dat kleingroepe eerder afgestel word. Sou julle besluit om bymekaar te kom, wil ons die volgende riglyne gee:
o As ‘n persoon enige simptome van siekte het, moet hy/sy tuis bly
o Ons rig 'n versoek dat lidmate wat ouer as 60 is of ‘n swakker immuniteit het, dit nie bywoon nie.
o Sorg dat daar by die deure ontsmettingsmiddels beskikbaar is vir die bywoners om hande te was voor hulle in die gebou ingaan.
- Vergaderings van kommissies moet ook sover moontlik afgestel word en eerder per selfoon of internet hanteer word.
- Geen funksies is in hierdie tyd beplan nie, so funksies word nie geraak nie.
3. Bediening van leraars en kerkkantoor
- Die kerkkantoor sal steeds die gewone tye oop wees. Die leraars en die kerkkantoor gaan voort met hulle gewone werkstye, beskikbaarheid en bedienings, maar sal aanpassings daarin moet maak sodat die verspreiding van die virus voorkom word.
- Begrafnisse en troues: wanneer van toepassing, sal die predikante toesien dat dit wetlik en verantwoordelik aangepas word.
4. Werkers
Ons versoek lidmate om in hierdie tyd veral ook te let op die welstand van hulle werknemers en om voort te gaan met die betaling van lone, selfs al kan die werkers nie kom werk nie.
5. Bejaardes en ander meer vatbares
Ons voel geroep om as kinders van die Here bejaardes en ander vatbares in ons gemeente en gemeenskap juis in hierdie tyd op praktiese maniere by te staan sodat hulle so min as moontlik aan die virus blootgestel word. Ons moet egter niemand isoleer nie - laat ons juis baie met mekaar praat, al is dit met selfone en whatsapps.
Laat weet daarom asb die kerkkantoor, kerkraad of predikante:
O As ouer en/of vatbare persoon sal ek graag wil hê iemand moet my kontak om my by te staan. (Dit kan bv wees vir die aflewering van preke per CD, hulp met betaling van rekenings of hulp met inkopies sodat sosiale kontak verminder word.)
O Ek stel myself as vrywilliger bereid om ouer of vatbare mense in ons gemeente en gemeenskap by te staan.
6. Finansies
Die aanpassings sou ons gemeente, wat reeds finansiële druk ervaar, se inkomste verder kon laat daal wat die kerk en die koninkryk skade kan berokken. Ons doen ‘n beroep op lidmate dat u die bedrag wat u as erediensdankoffer sou gee, steeds sal bydra deur ‘n koevert by die kerkkantoor af te lewer (by die kerkkantoor 16:00-18:00 elke weeksdag) of die bedrag met ‘n EFT oor te plaas.
Laastens
Ons doen ‘n beroep op lidmate om nie paniekerig te raak nie, maar om in vertroue die Here te bly dien en juis ‘n verskil in die gemeenskap en verwonde gesinne te maak in hierdie tyd. Heelwat van die aksies is voorkomend van aard en help ons om ‘n lewensstyl te kweek vir moontlike tye in die toekoms wanneer siektes ‘n bedreiging bring.
Rom 8:28 - Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is…. 31 Wat is nou ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge? Dít: God is vír ons, wie kan dan teen ons wees?
Met liefde en waardering
Die leraars en kerkraad van NG Wonderboompoort
Your web-browser does not support frames. You will need to click here to be redirected to this site. (You will be automatically redirected in 10 seconds.)