10/01/2020
Die belangrikheid van waarheid
Wanneer jy die belangrikheid en vryheid van waarheid verstaan, sal jy nooit weer op ʼn ander plek kan en wil leef nie.
Die wêreld het na ʼn plek toe beweeg waar dit nie meer aanvaarbaar is om in die waarheid te leef en dit as ʼn maatstaf te gebruik of dit selfs net te praat nie. Die benadering waar jy nie durf om iets te doen of sê wat ʼn ander persoon dalk sal aanstoot gee, het die maatstaf van vandag se lewenswandel geword.
Al hierdie menslike, wêreldse uitkyke het deel geword van sogenaamde wêreld vrede, waar jy alles moet doen om die vrede te bewaar en nie dalk iets te sê wat jou medemens nie van gaan hou nie. Daar word nie vir jou vertel wat jy alles van jouself moet prysgee om dit moontlik te maak nie en hoeveel van jou eie menswees daardeur in die slag bly nie, al word jou siel verkoop in die proses. Dit het die norm geword dat ‘n ander persoon net goed oor hom of haarself moet voel. Wat het van die waarheid geword?
Daar is verskillende maniere en fasette waardeur jy in waarheid moet lewe. Ek wil eerstens praat oor die gevolg van verdraaide waarhede en ook weerhouding van die waarheid wanneer dit by enige van God se dinge of God se Koninkryk kom. Wat mense nie besef nie is dat dit wat jy in die wêreld lewe onvermydelik oorspoel in jou geestelike lewe en word dáár ook die standaard van hoe jy God en God se dinge benader en hanteer.
Efésiërs 6:14: “Staan dan vas, julle lendene met die waarheid omgord, met die borswapen van die geregtigheid aan,”
Alles het ʼn begin of ‘n fondasie in jou lewe en by die mens is kindwees jou fondasie, maar nou het die kinders die persone geword wat die norm bepaal en wat dan vir hulle ouers sê net wat hulle wil. Uit hulle sogenaamde wysheid wat hulle in die paar jaar wat hulle op die aarde is bymekaar gemaak het, wil die kinders die reëls neerlê oor hoe dinge moet gebeur in huishoudings, skole en selfs in die kerk. Die hartseer is dat die ouers dit toelaat en sou iemand anders soos onderwysers of predikers hulle kinders wil teregwys, is die ouers gou daar om die persoon te stop. Dit het ʼn wêreld van eie regte geword, waar teregwysing nie meer ʼn plek het nie.
As jy in I Samuel 2 lees oor Eli se seuns en oor hoe hulle nie na Eli wou luister nie, besef jy dat Eli nie sy seuns in die weë van die Here grootgemaak het nie, alhoewel daar kans was vir hom om dit te doen. Eli het toegelaat dat sy seuns die reëls maak soos dit hulle gepas het. As Eli se seuns respek vir hom gehad het, sou hulle nie sy teregwysings ignoreer het nie. Hier is ʼn goeie voorbeeld om vir mense te wys dat as jy nie die reëls maak en dit afdwing nie, jou kinders nooit vir jou sal luister nie. Die persoon wat die reël maak, luister gewoonlik nooit vir die party wat daaraan onderdanig moet wees nie. So maak jy die reëls in jou huis of doen die kinders dit? God het gevolglik ingegryp, wat Eli, sowel as sy seuns hul lewens gekos het. Eli het nagelaat om sy seuns in die waarheid op te voed en gevolglik beheer verloor oor hulle en daarom was hyself net so skuldig soos sy seuns.
Jeremia 32:30-33: “Want die kinders van Israel en die kinders van Juda het van hulle jeug af net gedoen wat verkeerd is in my oë; want die kinders van Israel het My deur die werk van hulle hande net geterg, spreek die Here.
31 Want ’n oorsaak vir my toorn en my grimmigheid was hierdie stad vir My van die dag af dat hulle dit gebou het tot vandag toe, sodat Ek dit van my aangesig moet verwyder,
32 weens al die boosheid van die kinders van Israel en van die kinders van Juda wat hulle gedoen het om My te terg hulle, hulle konings, hulle vorste, hulle priesters en hulle profete en die manne van Juda en die inwoners van Jerusalem,
33 dat hulle My die rug toegekeer het en nie die aangesig nie, alhoewel Ek hulle geleer het, vroeg en laat, sonder dat hulle geluister het om tugtiging aan te neem.”
God is baie duidelik daaroor dat ons ons kinders Godvresend moet grootmaak anders kan God dalk self ingryp. Die probleem is, hoe maak mense hul kinders Godvresend groot as hulle self nie eers Godvresend is nie. Mense kyk na voorbeelde om ʼn maatstaf te kry waarvolgens hulle moet lewe, en die samelewing se maatstaf is veronderstel om die kerk te wees. Ons het so gewoond geraak om die verskoning te gebruik “maar almal doen dit, selfs die geestelike leiers”, in plaas daarvan om jou maatstaf by God en in God se Woord te kry en in waarheid en opregtheid te lewe.
Wat algemeen in die kerk gebeur, waar die maatstaf van ʼn morele Christelike lewe voorgestel en gehandhaaf moet word, is dat daar nou ʼn “liewe Jesus” mentaliteit ingeneem is. Kerkleiers het te bang geword dat hulle dalk hulle lidmate sal affronteer wat moontlik kan veroorsaak dat hulle na ʼn ander kerk toe gaan. ʼn Kerk wat ʼn boodskap sal gee wat hulle ore streel deur vir hulle te sê wat hulle wil hoor en nie die waarheid nie.
2 Timótheüs 4:3-4: “want daar sal 'n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle 'n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede,
4 en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels.”
Predikers staar hul vas teen die moontlikheid dat die kerk se inkomste sal verminder, sou hul lidmaatskap afneem, en gevolglik bring dit hul bestaan in die gedrang. Geld het belangriker geword as die vrees vir God, omdat daar na ʼn wêreldse gevolg gekyk word en nie die Goddelike gevolg wat gaan plaasvind as jy nie volgens God se standaarde lewe nie.
In die meeste kerke is die volle waarheid nie meer te vinde nie en word dit nie gepreek nie. Wanneer mense nie meer Godvresend is nie (God is ons algehele oppersag), hoekom sal hulle dan iets vrees of selfs luister na wat enige iemand anders te sê het. Die hartseer is dat hulle nie besef dat hulle die gevolg daarvan gaan voel nie.
Die kerk sal dadelik vir jou sê dat God liefde is, wat wel ʼn gedeeltelike waarheid is, maar juis omdat Hy lief is vir jou, wil Hy jou red, maar die koste verbonde aan jou redding word nie oor gepraat nie, want niemand wil dit hoor nie!
Die waarheid is dat God liefde is.
1 Johannes 4:16: “En ons het die liefde wat God tot ons het, leer ken en geglo. God is liefde; en hy wat in die liefde bly, bly in God, en God in hom.”
Die waarheid is ook dat God ʼn verterende vuur is.
Hebreërs 12:29: “Want onse God is ’n verterende vuur.”
Die waarheid is ook dat God Gees is.
Johannes 4:24: “God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.”
Hier in Johannes 4 vers 24 word dit duidelik gemaak dat ons God in gees en waarheid moet aanbid. Die Here het op ʼn dag vir my gesê dat as jy nie die geheelbeeld van wie Hy is aanbid nie is jy eintlik besig met afgodery.
ʼn Voorbeeld in wêreldse terme wat hierdie konsep makliker verstaanbaar maak is die volgende: ʼn Vrou word lief vir ʼn man omdat hy haar voor die huwelik op die hande dra het en omdat hy altyd ʼn bedagsame persoon is wat haar eerste stel. Nou trou sy met hom en na die huwelik begin hy haar skielik slaan en mishandel. Waar het die fout ingekom?
Sy het lief geword vir ʼn faset van hom en nie die volheid van wie hy is nie. Sou sy die volle waarheid geken het, sou sy hom so aanvaar het en vir hom lief geword het, en wel met hom getrou het?
Baie mense sê dat hulle lief is vir God en dan ken hulle Hom nie eers nie. Hulle het lief geword vir die voorstelling van hoe die kerk Hom aan hulle bekend gestel het, en het nooit die moeite gedoen om Hom persoonlik te leer ken nie, want dit is mos baie moeite om ‘n verhouding te bou met hierdie persoon waarvoor jy dan sogenaamd lief is.
Word jy lief vir iemand omdat ander sê dit is ʼn wonderlike persoon, of doen jy eers die moeite om die persoon self te leer ken vir wie die persoon werklik is? Trek die persoon se sukses jou aan of die persoon se karakter? Gaan dit oor die uiterlike of die innerlike?
Nadat die kerk jou dan voorgestel het aan “liewe Jesus”, laat God nou sekere geestelike toetse in jou lewe toe wat oorvloei in die natuurlike en omdat die kerk jou nie voorberei het op God se heiligmakingsproses nie, kry jy nou kamtig “seer” in die kerk en wil niks met die Here te doen hê nie. Wat eintlik ontbloot word, is die valsheid in mense se harte oor die rede hoekom hulle die Here wil volg.
Jy verstaan nie dat hierdie prosesse tot jou voordeel en werklike redding is nie omdat jy nie werklik God se hart vir jouself leer ken het nie. God is nie ten volle aan jou bekend gestel nie en jy wou nie self die moeite doen om Hom te leer ken vir wie Hy is nie. Het jy Hom net gesoek vir wat Hy vir jou kan doen?
Die twee onderstaande skrifte is voorbeelde van wat God sal doen om jou te red vir die ewigheid. Die Here kan jou hele wêreld omver gooi om jou redding te bewerkstellig of jy nou daarvan hou en daarteen baklei of nie.
Sagaría 3:2: “Toe sê die Here aan die Satan: Mag die Here jou bestraf, o Satan! Ja, mag die Here, wat Jerusalem verkies het, jou bestraf! Is hierdie een nie ’n brandhout wat uit die vuur geruk is nie?”
Amos 4:11: “Ek het julle omgekeer soos God S***m en Gomorra omgekeer het, sodat julle soos ’n stuk brandhout was wat uit die vuur geruk is — nogtans het julle jul tot My nie bekeer nie, spreek die HERE.”
Dit is so maklik om iemand of ʼn instansie soos die kerk te blameer of die skuld te gee as daar iets gebeur in jou lewe waarvan jy nie hou nie. Die hoof oorsaak daarvan is omdat ons nie geleer het om verantwoordelikheid te vat vir ons eie lewe en van wat ons verkeerd doen nie.
In so baie gevalle het ons aardse ouers ons nie geleer dat daar ʼn gevolg is, sou jy iets verkeerds doen nie. Jy kon mos doen en sê wat jy wil, sonder gevolg, inteendeel is jou aksies as geregmatig aan jou bekend gestel. Jy het mos die reg om ʼn ongeslypte diamant te bly, hoe durf iemand aan jou probeer slyp?
Die groot probleem is, omdat jy nie die slyp proses van aardse ouers ken nie, is jy ook nie bereid om God se prosesse te aanvaar nie en veroorsaak dit dat jy rebelleer, sou God durf om iets negatiefs, volgens jou verwysingsraamwerk, in jou lewe toe te laat.
Waarheid begin by die self. Jy moet eerstens in die spieël kan kyk en die waarheid oor jouself besef. Dít wat jy in jouself sien, sou jy bereid wees om dit in iemand anders te aanvaar? Sou jy ʼn dogter of seun gehad het, sou jy dat sy of hy met iemand soos jy getrou het? Voor jy antwoord, onthou, jy ken al jou eie versteekte agendas. Jy moet eerlik met jouself wees. Sien jouself vir wie jy werklik is en laat toe dat jy met die waarheid daarvan gekonfronteer word en kyk of jy werklik van daardie prentjie hou?
Daar wag ʼn verrassing op so baie mense wat d**k hulle gaan wegkom met alles wat hulle doen in hulle lewe. Jou ouers het dalk al hierdie verkeerde houdings en jou onwilligheid om te verander toegelaat, maar ek kan jou verseker dat die Here dit nie gaan toelaat nie. Onthou alles het ʼn prys en jou onwilligheid in die saak ook! Die vraag is, teen watter prys gaan die verandering kom? Soos ek in die eerste boek geskryf het oor hoe die Here my moes kom haal het. Die stelling wat ek weereens wil maak is “kom na die Here toe voor Hy jou kom haal, want jy gaan nie daarvan hou nie”.
Jy kan jouself baie dinge wysmaak, maar wanneer die waarheid van God kom, gaan niks van jou verskonings werk nie.
Baie mense d**k omdat hulle besig is met die dinge van die Here dat dit genoeg is om hulle die ewigheid te laat sien. Die waarheid is, sonder ‘n verhouding met God is alles verniet, en hier is die skrif wat dit bevestig.
Matthéüs 7:21-23: “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is.
22 Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie?
23 En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!”
My beroep op julle is, vergeet al julle verskonings oor hoekom dinge julle manier moet gebeur en begin ʼn verhouding met God bou waarin jy Hom vra om die waarheid oor alles aan jou te verduidelik en jou te help dat jy nie in ʼn persepsie van wat waarheid is sal leef nie, maar in die volle waarheid van God.
Moet nie tevrede wees met iemand anders se voorstelling van wie God is nie. Gaan self na God toe en vra Hom om Homself ten volle aan jou bekend te stel, dat jy in ʼn werklike opregte verhouding met Hom kan staan, wat gebaseer is op die volle waarheid. Laat Hom ook toe om die waarheid oor jouself vir jou te wys. Begin jou verhouding met God op die fondasie van die waarheid en jy sal verbaas wees oor die vryheid in God se waarheid.