03/09/2026
Leesrooster: 03 September 2026
Goeiemore
Ons groet mekaar vanoggend met die woorde van Lied 308:1
“Neem my lewe, laat dit Heer,
U gewy wees meer en meer.”
Hierdie week het ons gelees dat Jesus dit duidelik maak dat sy navolgers nie wraaksugtig of vergeldend mag optree nie. En Hy versterk sy punt met voorbeelde waar ons as sy navolgers, situasies van potensiële weersin of vergelding, kan neutraliseer.
Matt 5:40
“As iemand jou hof toe wil vat om jou onderklere te eis, gee hom ook jou boklere.”
Hier beskryf Jesus die konteks van ‘n regsgeding waar jou skuldeiser die reg gehad het om jou onderkleed op te eis as ‘n soort betaling van jou skuld.
Volgens Joodse wet kon niemand egter jou bokleed van jou neem nie, want dit was jou beskerming teen die koue. Jesus sê egter dat jy sommer jou bokleed ook moet saamgee om jou skuld op te klaar – want waaroor dit eintlik gaan is dat ‘n navolger van Jesus met ‘n oop en vrygewige hand moet leef wat nie krampagtig klou aan besittings nie.
Kom ons lees van nog ‘n voorbeeld in vers 41:
“As iemand jou dwing om sy goed een kilometer ver te dra, dra dit vir hom twee kilometer.”
Destyds moes die Romeinse soldate hul swaar bagasie oor baie lang afstande dra. Wanneer hulle deur dorpsgebiede beweeg het, het hulle die reg gehad om enige Jood wat hulle teëkom te dwing om die swaar vrag namens hulle te dra. Die Romeinse wet het bepaal dat die persoon die sak een kilometer ver moet dra. Daar was selfs stokke langs die paaie wat daardie afstand afgemerk het.
Mens kan jou indink met hoeveel wrewel en weersin die Jode hierdie ongelukkige lot uitgevoer het.
Maar tog sê Jesus dat sy navolgers met ‘n vrygewige gesindheid moet leef, en dat hulle selfs ‘n Romein vir ‘n vérdere afstand moes help, as wat bloot volgens die wet verwag was om te doen.
Mens wil instinktief op hierdie verse reageer deur te vra: maar wat dan van mý regte?
Jesus se woorde in die Bergpreek bring ons egter weer diep onder die indruk dat my besittings, my geld EN my tyd, nie aan my behoort nie.
Wat ek is en wat ek het, is God s’n, dit is leengoed.
Dit is wel baie belangrik om te besef:
Die spreekwoordelike opgee van jou bokleed, die loop van die ekstra kilometer is nie ‘n teken van wil-loosheid of swakheid of fatalisme nie.
Inteendeel, die vrywillige prysgee van jou besittings en jou tyd – dit is ‘n teken van krag.
Jy wys daarin dat jy anders is as die wêreld, dat jy iets het om te gee wat die wêreld nie het nie, naamlik die Goddelike gesindheid van liefde en diens.
Die spreekwoordelike opgee van jou bokleed en die loop van die ekstra kilometer, is nie handdoek ingooi nie. Dit is ‘n gewillige, vrywillige, berekende selfverloëning ter wille van ander.
Kom ons sluit af met die ‘n paar woorde uit Lied 308:
“Neem my lewe, laat dit Heer,
U gewy wees meer en meer…
Neem my hande, maak hul sterk –
Diensbaar in u goeie werk…
Neem my goud en silwer, Heer –
Niks noem ek my eie meer…
Maak my hart vir U tot troon
Deur u Gees wat in my woon.
Rig my wil, gevoel en daad
Altyd na u wyse raad.”
Amen