10/06/2021
NHKA Gemeente Wonderboompoort se orrelis word 80! Met 63 jaar diens!!
Magaretha (Rita) Elizabeth Basson is gebore op 10 Junie 1941 in die ou Pretoria Moedersbond, op die h/v Steve Biko en Belvederestrate, as die oudste kind van Carel LJK Basson en Jettie (gebore Henriëtta Carolina Steyn). Sy is op 17 Augustus 1941 in Lichtenburg gedoop en lê geloofsbelydenis af in Wonderboompoort. Haar pa was jarelank skriba. Sy is op skool in Laerskool Mayville en Hoërskool Wonderboom, en het twee jonger sussies en 'n kleinboet Carel. Met sy doop op 8 Februarie 1959 in haar matriekjaar bespeel sy die traporreltjie van die ou kerkie van Wonderboompoort, waar die kerkmuseum tans is. Sy het vroeg begin met klavierles maar was nooit mal daaroor nie, en later vind sy haar liefde vir orrel, en het sy uitgehelp by die gemeente al in 1958 - sedert die doopdag is sy voltyds orrelis tot vandag toe, met bitter min kere van afwesigheid!
Later het die gemeente 'n klein Wurlitzer orreltjie gehad en sedert 1967 in die nuwe kerkgebou 'n groot pyporrel. Sy het lesse gehad by mnr Willem Mathlener, eers in Krugersdorp, en later in die Dirk van der Hoffgebou by die musiekkonservatorium, en nog steeds neem sy weekliks orrelles by mev Margaret van der Vegt. Rita is 'n dankbare, gesonde, onafhanklike, op-en-wakker mens wat baie lief is vir lees, plante en diere. Maar sy sê self "die orrel is haar hele lewe"! Seën op die genadejare vorentoe!