NIKOS Theology College / Teologiese Kollege

NIKOS   Theology College / Teologiese Kollege Ambassadeurs van Christus, verkondigers van die Dispensasionele, Pauliniese, Genade Evangelie Courses available in Afrikaans and English. Study guides:
1.

God's Plan For Man (Finis Jennings DAKE).
2. Paul's Gospel, The Mystery (Musterion) as the gospel of the grace Dispensation. Paul, the Apostel for the Body of Christ.

24/11/2022

Dis hartseer hoeveel mense vas gevang is in donker kerkers van die verlede en deur die spoke daarvan geteister word. So word hulle beroof van soveel wonderlike dinge wat die toekoms vir hulle kon inhou. Die apostel Paulus raad hiervoor was "...ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is" (Fil 3:14), maar ondanks daarvan sukkel baie steeds om die verlede agter hulle te sit en aan te beweeg.

Baie gelowiges kan nie glo dat hoekom mense nie net kan vergeet en aan beweeg nie, maar sonder om dit te weet doen hulle presies dieselfde, in hulle geval met die Bybel. Hoekom sê ek so? Want hulle plaas hulle self vrywillig op 'n plek wat nooit vir hulle bedoel was nie, binne in Israel se geskiedenis en word so deur die spoke van die ou verbond geteister. Ek praat van Israel se wet, werke, onbereikbare hoë standaarde, leë beloftes en vrees vir al die vloeke en straf wat dit vir hulle mag inhou. Meeste is ook vasgevang in die godsdienstige verlede en gewoontes waarmee hulle groot geword het, hulle ou kerk dogma, leerstellings van die ou kervaders, ou godsdienstige gewoontes, ens. Hulle is ook nie instaat om Paulus se raad te volg deur die dinge agter hulle te sit en hulle uit te strek na die wonderlike genade evangelie wat voor hulle is nie. Omdat hulle nie van Bybelse geskiedenis wat niks op hulle van toepassing is los kan breek nie mis hulle die oneindige hemelse seëninge en rykdomme van Christus wat die genade evangelie van vandag se genade dispensasie vir hulle bied.

Kom ek verduidelik. Sekere Bybel waarhede behandel Israel se geskiedenis voor die aanbreek van die genade dispensasie en voor die begin van die liggaam van Christus, ander Bybel waarhede behandel ons as die liggaam van Christus in vandag se genade dispensasie en die res behandel Israel en die nasies se toekoms na die afsluiting van die genade dispensasie deur die wegraping van die kerk as die liggaam van Christus.
Een groep klou vas aan Israel se geskiedenis soos beskryf in die Ou Testament en hulle hanteer dit asof daardie geskiedenis oor hulle gaan en God daardeur met hulle praat. Hulle weet tot vandag nog nie dat daardie ou verbond al meer as 2000 jaar gelede by die kruis tot einde gekom het en die kerk as die liggaam van Christus daardie tyd nog nie bestaan het nie.
'n Ander groep klou weer vas aan die koningkryk evangelie wat Johannes die Doper, Jesus en die 12 apostels van die 12 stamme van Israel aan Israel verkondig het sonder om te weet dat die koninkryk wat oor Israel se Millennium koninkryk handel ook al meer as 2000 jaar gelede met die aanbreek van die genade dispensasie en die begin van die kerk as die liggaam van Christus uitgestel is tot na die genadedispensasie.
Dan kry ons die grootste groep. Ek praat van die wat glo dat alles in die Bybel, van Genesis tot Openbaring oor hulle gaan en op hulle van toepassing is. Hierdie groep vermeng alles in die Bybel soos dit hulle pas en bou hulle kerk leerstellings deur tussen alles in die Bybel te "pick & choose" soos dit hulle pas. Hulle maak geen onderskeid tussen al die verskillende dispensasies wat reeds tot 'n einde gekom het, die een wat vandag op ons almal van toepassing is, en die wat nog toekomstig is nie. Hulle maak ook geen onderskeid tussen Israel en die kerk as die liggaam van Christus nie, ook nie tussen wet en genade, profesie en verborgenheid, hemelse koninkryk en aardse koninkryk en die wederkoms en wegraping nie. Hulle glo ook dat die verskillende evangelies in die Bybel een en dieselfde evangelie is en daarom dat alles op hulle van toepassing is. Om hierdie rede is daar vandag wêreldwyd reeds meer as 140 000 Christelike denominasies en almal gebruik dieselfde Bybel om hulle leerstellings te staaf. Hulle besef nie dat God verskillende dinge vir verskillende mense in verskillende tye gesê het nie en ook nie dat enige leerstelling Skriftuuurlik korrek kan wees (want dit staan in die Bybel), maar as dit dispensasioneel verkeerd ingevoer en aangewend word, heeltemal verkeerd sal wees nie.

Hoe ook al, al bogenoemde groepe het 'n passie om die rooi letters in die Bybel na te volg, heilig te wil lewe, die wet te gehoorsaam en goeie werke te doen, en ons weet hulle bedoeling is goed, maar hulle straf hulle self om hulle eie verlossing deur hulle eie menslike pogings te probeer uitwerk, harder te probeer, harder te werk, beter te lewe, meer te doen, meer te gee, hulself van baie dinge te onthou, hulle eie kruis te dra, ens. Sommige loop selfs van stad tot stad met 'n kruis.... vir WAT? Al ooit gedink dat dit juis die rede was waarom Jesus gekom het? Hy het alles kom doen wat ons nie kon doen nie ... He did it all, He paid it all, it is finish, it is DONE!

Ons leef vandag in die nuwe dispensasie van die genade van God waar God 'n einde aan die ou dinge gemaak het en vir ons 'n nuwe evangelie propvol nuwe seëninge gegee het. Ons kan mos nie ou wyn in nuwe sakke gooi nie. Daarom moet gelowiges vandag geleer word om die ou dinge wat verby is te vergeet en begin om die nuwe dinge, die volmaakte afgehandelde werk van Christus te omarm. Eers dan sal hulle vryheid van sonde, skuldgevoel en veroordeling waarvoor Christus so duur betaal het te ervaar en ook instaat wees om die die vryheid wat die genade evangelie hulle bied te ervaar.

Ons as die liggaam van Christus se leerstellings, opdragte, Christelike wandel, beloftes en eindbestemming word alles uiteengesit in die gedeelte in die Bybel wat handel oor die dispensasie van genade, met ander woorde, die 13 briewe van Paulus. Hoekom Paulus? Omdat die verheerlikte hemelse Christus hom aangestel het as die apostel van die liggaam van Christus en as die apostel van die dispensasie van die genade van God.

Die apostel Paulus het in al 13 sy briewe sy bes gedoen om die volmaakte afgehandelde werk van Christus en die heerlike en wonderlike voordele wat dit vir ons inhou te verduidelik. Steeds verwerp meeste gelowiges hierdie wonderlike boodskap omdat hulle uit onkunde verkies om gevangenes te wees in 'n tronk gebou met bakstene en tralies van die wet, godsdiens en denominasionele kerk leerstellings. Omdat meeste daarmee grootgeword het en dit vandag steeds verkondig klink en blyk dit asof dit die regte manier is om Christus te volg en God tevrede te hou. Sodoende het hulle nog nooit die vryheid ervaar wat hulle, sonder om dit te weet reeds in die voltooide werk van Christus het nie. Die enigste "vryheid" wat hulle ken, is die slawerny waaraan hulle gewoond is...binne die donker yskoue mure van godsdiens.

14/10/2022

DIE WEGRAPING, DIE ANTICHRIS EN DIE 7 JAAR VERDRUKKING

Daniël 9:27 “En hy sal een Week lank met baie ‘n sterk verbond sluit, en gedurende die helfte van die Week sal hy slagoffer en spysoffer laat ophou; en op die vleuel van die gruwels sal daar ‘n verwoester wees, en wel tot aan die einde; en wat vas besluit is, sal oor wat woes is, uitgestort word”.

Die “hy” in ons Skrifgedeelte is dieselfde “hy” wat Jesus in Matthéüs 24:15 die “gruwel van die verwoesting” noem en wat Johannes in Openbaring 13 die “dier” noem, en wat Paulus in 2 Thessalonicense 2:4-8 "die mens van die sonde" en "die ongeregtigheid" noem. Hierdie "hy" is die Eindtydse Antichris wat gedurende die sewe jaar verdrukking 'n skrikbewind sal voer.

HOE WEET ONS DIE VERDRUKKING SAL 7 JAAR DUUR?
Daniël 9:27 leer dat die dier (Antichris) ‘n verbond van 1 "week" met Israel sal sluit, en dat hy in die middel van die week die verbond sal verbreek deur slagoffer en spysoffer te laat ophou. Dit ons Skrifgedeelte is dit dus maklik om te verstaan dat die "week" 'n tydperk voorstel wat opgedeel sal wees in twee helftes. Die vraag is egter, hoe lank is die "week"?

Openbaring 13:1-5 leer dat die dier ‘n beeld van homself in die Allerheiligste van die tempel sal sit en almal sal dwing om hom te aanbid, en volgens vers 5 sal hierdie aanbidding aangaan vir 42 maande (3½ jaar).
Omdat Daniël 9:27 sê dat die breek van die verbond in die MIDDEL van die Week (verdrukking) sal plaasvind en Openbaring 13:5 sê dat die aanbiding van die dier vanaf die middel van die week vir 42 maande (3½ jaar) sal aangaan, is dit maklik om te verstaan dat as die tweede helfte 3½ jaar sal wees, die eerste helfte van die week ook 3½ jaar lank sal wees. Dan is dit mos maklik om te verstaan dat die totale lengte van die week (verdrukking) 84 maande of 7 jaar sal wees.

DIT BRING ONS BY DIE WEGRAPING
Die vraag is, wanneer sal die wegraping plaasvind - voor die verdrukking, in die middel of aan die einde daarvan?
Die apostel Paulus beantwoord hierdie vraag baie duidelik in 2 Thessalonicense 2:1-4. Hy sê dat VOOR die dag van die Here (sewe jaar verdrukking) kan begin, SEKERE DINGE EERS MOET PLAASVIND:

2 Thess 2:2-3 "om nie gou julle verstand te verloor of verskrik te word nie... asof die dag van Christus al daar is.
Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want (1.) eers moet die AFVAL kom en (2.) die MENS VAN SONDE (Antichris) geopenbaar word, die seun van die verderf".

Die Griekse woord vir "afval" is "apostasia" wat in Afrikaans "vertrek" en in Engels "departure".beteken. Daar moet dus eers 'n vertrek plaasvind voor die verdrukking kan begin en die Antichris geopenbaar kan word. Watter "vertrek" is dit? Dit is die vertrek van die liggaam van Christus hemel toe.
Paulus bevestig hierdie feit net 'n paar verse verder as hy in verse 6-8 sê dat die "teëhouer" eers weggeneem moet word voor die "ongeregtigheid" (Antichris) geopenbaar sal word.

Dit bring ons weer by 'n vraag, WIE IS DIE TEËHOUER?
Die teëhouer is elke geesvervulde persoon binne die Liggaam van Christus. Die oomblik wanneer God besluit dis tyd sal Hy sy kerk, die Liggaam van Christus in 'n oomblik, in 'n oogwink van gedaante laat verander (1 Kor 15:51-52; Fil 3:20-21) en van die aardbodem wegvoer om Jesus te ontmoet in die lug (1 Thess 4:16-18). Daardie oomblik sal daar geen geredde persoon meer op aarde wees nie. Die verhoog sal reggeskuif wees vir die Antichris om vir die laaste 7 jaar voort te gaan met sy vernietigingswerk waarvan ons in die profete, die profetiese rede en Openbaring lees.
Die kerk as die Liggaam van Christus sal gedurende hierdie tyd reeds in hulle hemelse tuiste wees, vir ewig en altyd (Fil 3:20-21; 2 Kor 5:1).
As die verdrukking 7 jaar lank is, en die Antichris voor die verdrukking geopenbaar sal word, en die teëhouer weggeneem sal word voor die Antichris geopenbaar sal word, is dit mos logies dat die teëhouer (kerk) VOOR die 7 jaar verdrukking weggeneem sal word.

Dit is baie belangrik om te weet dat die wegraping nie 'n heilige Hennie ding is soos meeste leer nie. Maw, die doel is nie om 'n handjie vol "heilige" mense weg te raap omdat hulle waardig is om die verdrukking te ontsnap nie. Nee, niemand kan agv hulle werke waardig wees nie. Ons kan alleen waardig wees omdat Jesus ons waardig gemaak het. Daarom is die wegraping nie 'n "heilige Hennie" ding nie, maar 'n dispensasionele ding. Dis om die dispensasie van die genade van God af te sluit sodat God sy profetiese program met Israel weer voort kan sit om alle uitstaande profesie in vervulling te bring.

21/09/2022

12 Apostels of 1 apostel - Koninkryk evangelie of genade evangelie?

Jesus het 12 apostels gekies om die koninkryk evangelie aan die 12 stamme van Israel te verkondig. Hierdie 12 apostels sal eendag op 12 trone sit om die 12 stamme van Israel volgens die koninkryk evangelie te oordeel.
Die 1 liggaam van Christus sal nie by hierdie oordeel voor die 12 apostels van die 12 stamme van Israel verskyn om deur hulle koninkryk evangelie geoordeel te word nie. Die redes is:
Eerstens - Ons as die 1 liggaam van Christus is nie deel van die 12 stamme van Israel nie en daarom het ons as die 1 liggaam van Christus ook nie 12 apostels nie.
Tweedens - Die Millennium koninkryk was nooit aan ons as die 1 liggaam van Christus belowe nie, daarom was die koninkryk evangelie ook nooit aan ons as die 1 liggaam van Christus verkondig nie.

God het 'n nuwe dispensasie (genade) met 'n nuwe apostel (Paulus) en 'n nuwe evangelie (genade) begin. Die rede is omdat Israel hulle Koning verwerp en gekruisig het en daarom het God Israel se Millennium koninkryk uitstel tot na die dispensasie van die genade van God. Van hier af het die koninkryk evangelie onnodig en doelloos geword.

Verstaan jy waarom Paulus, die 1 apostel van die 1 nuwe mens en die 1 liggaam van Christus nooit Israel se koninkryk evangelie aan die 1 liggaam van Christus verkondig het nie?
Paulus, die apostel van die 1 liggaam van Christus en van die dispensasie van die genade van God het die evangelie van die genade van God aan almal verkondig. Almal, Jood en heiden wat die genade evangelie geglo het, het 1 nuwe mens en deel van die 1 liggaam van Christus geword. Hulle sal nie eendag volgens die koninkryk evangelie van die 12 apostels van die 12 stamme van Israel wat op 12 trone sit geoordeel word nie. Nee, hulle sal eendag volgens hulle 1 apostel Paulus se genade evangelie geoordeel word:

Romeine 2:16 "in die dag wanneer God die verborge dinge van die mense deur Jesus Christus sal oordeel, volgens my (Paulus se) evangelie."

Die Doop   Deel 4Godsdienstige seremonies en sakramente was van die begin af deur die hande van priesters, profete en ty...
11/09/2022

Die Doop

Deel 4

Godsdienstige seremonies en sakramente was van die begin af deur die hande van priesters, profete en tydens Jesus se aardse bediening, die apostels bedien. Ons leef egter vandag in 'n Heilige Gees dispensasie waar alles wat vroeër uiterlike sigbare vleeslike manifestasies wat deur mense bedien was uitgeskakel is en vervang is met 'n werking van die Heilige Gees. Vandag bedien die Heilige Gees die gelowige met alles wat nodig is vir saligheid.

Geen mens kan enige saligheids werk namens die Heilige Gees bedien nie want geen mens het die vermoë om geloof te bewerk, harte te verander en te versterk, die Gees in 'n mens te laat woon, die mens in die liggaam van Christus te plaas en te verseël en van hom 'n nuwe skepsel te maak nie.

Daarom het ons vandag ook geen priester, pastoor of sogenaamde hedendaagse "profete" of "apostels" nodig om die waterdoop aan ons te bedien nie want selfs dit is vervang deur 'n droë waterlose doop wat deur die Gees bedien word. Enige mens wat 'n ander wil doop moet baie verwaand wees om te glo dat hy die plek van die Gees kan oorneem.

D**k vir 'n oomblik na en wees eerlik met jouself; As jy moet kies, sal jy verkies om deur 'n gewone mens in gewone munisipale kraan water gedoop te word, of sal jy verkies om deur die Heilige Gees in Christus gedoop te word sodat die Gees jou so deel van die liggaam van Christus kan maak?
Die wat steeds menslike hande en kraanwater bo die Gees en Christus verkies moet geestelik blind wees en dit is ook net hier waar baie hulle vandag bevind want vandag is ook daarvoor bekend dat blinde godsdienstiges deur hulle blinde godsdienstige leiers gelei word:

Saligheid in vandag se dispensasie van die genade van God is deur die geloof alleen, nie deur die geloof plus doop nie (Ef 1:13; 2:8-9; 1 Kor 15:1-4).
Geen menslike hande, werke, pogings of water mag bygevoeg word by die reeds volmaakte werk wat Jesus Christus aan die kruis vir ons gedoen het nie, daarom moet die waterdoop wat deur mense bedien word totaal verwerp word.

Die Doop  Deel 3Toe God Israel as nasie tersyde gestel het vir die tydperk van die dispensasie van die genade van God (R...
07/09/2022

Die Doop

Deel 3

Toe God Israel as nasie tersyde gestel het vir die tydperk van die dispensasie van die genade van God (Rom 11) is hulle koninkryk evangelie met die "groot opdrag" wat die doop insluit ook uitgestel tot wanneer Hy weer met hulle gaan handel na die dispensasie van die genade van God.
Dis mos maklik om te verstaan dat as die nasie en die koninkryk wat aan hulle belowe is uitgestel is tot ná die dispensasie van die genade van God, die evangelie en leerstellings wat oor die nasie en hulle koninkryk handel, asook die uitnodiging tot die koninkryk ook uitgestel is. Die evangelie, die leerstellings en die uitnodiging tot die koninkryk kan mos nie van krag wees as die nasie aan wie dit gegee is vandag nie bestaan nie. Israel is vandag in God se oë 'n heidense volk want hulle het Sy Seun verwerp en gekruisig en hulle verwerp Hom vandag nog, daarom het Hy Hom tot die heidene gewend om soos Paulus sê, Israel jaloers te maak. Paulus is die apostel van die heidene en die ontvanger van die evangelie van die genade van God. Hierdie dispensasie en evangelie handel nie oor Israel se aardse koninkryk nie en daarom het Paulus nie Israel se leerstellings en groot opdrag wat die doop insluit ontvang vir ons in vandag se dispensasie van die genade van God nie. Dit word onteenseglik bewys in Paulus se eie woorde:

"Want Christus het my nie gestuur om te doop nie, maar om die evangelie te verkondig (1 Kor 1:17).

Hoe verskil dit wat Paulus gesê het net nie van die groot opdrag wat Jesus in Mattheus 28:19 en Markus 16:16 vir die 12 apostels van Israel gegee het nie! Inteendeel, dit is presies die teenoorgestelde van die groot opdrag wat die 12 apostels van Israel ontvang het. Was Paulus dan ongehoorsaam aan die groot opdrag? Die antwoord is NEE, hy het dit gesê omdat die verheerlikte hemelse Christus aan hom 'n totaal ander evangelie met totaal ander opdragte vir totaal ander mense gegee het en die groot opdrag wat die waterdoop insluit was nie deel van die genade evangelie wat hy ontvang het om aan die heidene in vandag se genade dispensasie te verkondig nie.

Die ou dispensasie VOOR Paulus was bekend daarvoor dat priesters, profete, en gedurende Jesus se aardse bediening, apostels uiterlike sigbare godsdienstige manifestasies met hulle hande verrig het. Met die aanbreek van die dispensasie van die genade van God het God 'n einde gemaak aan al hierdie dinge wat deur mense hande bedien word. Die rede is omdat die dispensasie van die genade van God 'n Heilige Gees dispensasie is waar alles wat deur mense hande verrig was vervang is deur 'n werking van die Heilige Gees. Paulus openbaar 'n nuwe doop wat in die plek van die waterdoop gekom het, 'n droë waterlose doop wat nie deur mense hande bedien word nie, maar deur 'n werking Heilige Gees:

"Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne; en ons is almal van een Gees deurdronge" (1 Kor 12:13).

Tydens hierdie doop word die gelowige nie meer deur 'n mens nie, maar deur die Heilige Gees self, ook nie in water nie maar in Christus gedoop word:

"Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie?" (Rom 6:3)

"want julle almal wat in Christus gedoop is, het julle met Christus beklee." (Gal 3:27)

Hierdie geestelike doop vind plaas die oomblik wanneer die persoon tot geloof in Christus kom. So maak die Gees ons lede van die liggaam van Christus. Geen mens is in staat om 'n ander mens in die liggaam van Christus te plaas nie.

Die Doop Deel 2Israel het Jesus as hulle Koning en Messias verwerp en gekruisig. Aan die kruis het Jesus vir hulle gebid...
06/09/2022

Die Doop

Deel 2

Israel het Jesus as hulle Koning en Messias verwerp en gekruisig. Aan die kruis het Jesus vir hulle gebid: "Vader vergeef hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie". God het Jesus se uitroep beantwoord met 'n optrede waarvan bitter min kennis dra. In plaas van om Sy oordele uit te stort op die hartnekkige ongelowige Israel, stort God Sy genade uit deur aan Israel 'n ekstra genade jaar te gee om tot besinning te kom en weer te kies. Hoe weet ons dit? Ons lees daarvan in Lukas 13:6-9.

"En Hy het hierdie gelykenis uitgespreek: ‘n Man (God) het ‘n vyeboom (geestelike Israel word geken as die vyeboom) gehad wat in sy wingerd geplant was, en hy het gekom en (geestelike) vrugte daaraan gesoek en niks gekry nie.
Toe sê hy vir die tuinier (Jesus): Kyk, drie jaar (tydperk van Jesus se bediening) kom ek om (geestelike) vrugte aan hierdie vyeboom te soek en ek kry niks nie; kap hom uit. Waarvoor maak hy die grond nog onvrugbaar?
Maar hy (tuinier /Jesus) antwoord en sê vir hom: Meneer, laat hom nog hierdie jaar staan totdat ek om hom gespit en mis gegooi het (geestelik bearbei).
As hy dan vrugte dra, goed; maar so nie, dan kan u hom anderjaar uitkap."

Tydens Sy aardse bediening (Vier Evangelies) het Jesus en die 12 apostels Israel wat in 'n geestelike vervalle kondisie was voorberei vir die Millennium koninkryk wat God regdeur die Ou Testament aan Israel belowe het. Maar die koninkryk kon nie aan Israel aangebied word alvorens Jesus vir Sy volk versoening en vergifnis van sonde bewerk het nie. Hebreërs 9:22 leer: "Sonder bloedvergieting vind daar geen vergifnis plaas nie", daarom moes Jesus eers sterf voordat die koninkryk aan Israel aangebied kon word. Nadat Jesus gesterf het, het Petrus die koninkryk aan Israel aangebied met die woorde:

"Kom dan tot inkeer en bekeer julle, sodat julle sondes uitgewis kan word en tye van verkwikking van die aangesig van die Here mag kom,
en Hy Hom mag stuur wat vooraf aan julle verkondig is, naamlik Jesus Christus" (Hand 3:19-20)

Gedurende Israel se genade jaar, dit is tussen Handelinge 2 en Handelinge 7 het die apostels van Israel voortgegaan om die koninkryk evangelie wat hulle voor die kruis aan Israel verkondig het ook na die kruis aan hulle te verkondig. Dit was dieselfde evangelie, met die verskil dat Jesus intussen gekruisig was, opgestaan het en opgevaar het na die hemel. Baie Jode het die evangelie geglo en was diep in hulle harte getref omdat Petrus hulle beskuldig het dat hulle aandadig was aan Jesus se dood. Petrus se oproep aan hulle was:

"En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang" (Hand 2:38).

Soos voor die kruis is almal wat gelowig geword het gedoop. Dit was immers die groot opdrag wat Jesus hulle in Matthéüs 28:19 en Markus 16:15-16 gegee het en wat die 12 apostels van Israel getrou nagevolg het.

In Handelinge hoofstuk 7 het Israel se genade jaar egter tot einde gekom en het hulle die finale kans gekry om Jesus as Koning te aanvaar. Ongelukkig het hulle weer verkeerd gekies toe hulle Stefanus se boodskap, deur wie die Heilige Gees gespreek het verwerp en Stefanus gestenig het. Daar het God die vyeboom uitgekap en Israel as nasie tersyde gestel vir die tydperk van die dispensasie van die genade van God. Jesus was reeds staande aan die regterkant van God, gereed om Sy oordele uit te stort, maar in plaas daarvan stort Hy Sy genade uit oor alle nasies en so begin Hy 'n nuwe bedeling, die dispensasie van die genade van God.

Die verheerlikte hemelse Christus red die siel van Sy aardsvyand, Saulus van Tarsus en openbaar aan hom 'n nuwe evangelie, die evangelie van die genade van God en so word Paulus die apostel van die genade dispensasie en van die liggaam van Christus. Die evangelie van die genade van God wat Hy aan Paulus geopenbaar het verskil totaal van die koninkryk evangelie wat die 12 apostels van Israel verkondig het omdat dit nie meer oor God se plan en voorneme met Israel en hulle beloofde aardse koninkryk gehandel het nie, maar God se plan en voorneme met die oprigting van 'n nuwe skepping, die liggaam van Christus wat bestaan uit alle nasies met 'n hemelse koninkryk as ewige erfenis. Anders as Israel se koninkryk evangelie word mense vandag uit genade gered deur die geloof sonder enige werke of enige menslike pogings. Die evangelie van die genade van God bestaan ook nie uit uiterlike, sigbare manifestasies wat deur mense bedien word soos offergawes, besnydenis, doop, ens nie, maar 'n innerlike onsigbare werking van God. Alle leerstellings wat deel was van Israel se profetiese program het gestop omdat dit nooit aan die heidene gegee was nie, maar eksklusief aan Israel. Vandag het ons as die liggaam van Christus ons eie opdragte en leerstellings waarvan die waterdoop nie deel van is nie. In plek daarvan openbaar die verheerlikte hemelse Christus aan Paulus 'n geestelike waterlose doop wat deur die Heilige Gees self bedien word en waar die gelowige met die Heilige Gees in die liggaam van Christus verseël word:

"Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne; en ons is almal van een Gees deurdronge." (1 Kor 12:13)

Die Doop Deel 1.Die Skriftuurlike betekenis van die doop was nooit soos kerke vandag leer, die gelowige se identifikasie...
31/08/2022

Die Doop

Deel 1.

Die Skriftuurlike betekenis van die doop was nooit soos kerke vandag leer, die gelowige se identifikasie met die dood, begrafnis en opstanding van Jesus nie. Ook nie 'n uiterlike teken van 'n innerlike werk deur God; 'n stap van gehoorsaamheid; om Christus deur die doopwater te volg of om deel van die verbond met Abraham te word nie. Nie een van hierdie "sienings" kom in die Bybel voor nie.

Wat meeste nie weet nie is dat die waterdoop 'n gebruik is wat vanuit die Ou Testament kom. Dit was deel van die Levietiese reinigings wette, 'n baie bekende wet onder die Jode, veral vir die Leviete en die priesters, daarom het die Jode priesters en Leviete na Johannes gestuur om hom te vra of hy die Christus is. Die priesters en Leviete was geleerde mense en het goed geweet waaroor die doop gegaan het en daarom het hulle hom gevra "...Waarom doop u dan as u nie die Christus of Elía of die profeet is nie?" (Joh 1:25)
As die doop 'n nuwe onbekende instelling was sou hulle Johannes verbied het om voort te gaan en hulle sou hom by die Joodse raad en owerpriesters aangekla het omdat hy die volk mislei. Dit het nie gebeur nie.

Nou waaroor gaan die doop dan?

Die waterdoop was deel van die koninkryk evangelie wat Johannes, Jesus en die 12 apostels van Israel aan Israel verkondig het. Die doel van die evangelie was om Israel voor te berei vir die aardse koninkryk (Millennium koninkryk) wat regdeur die OT aan Israel belowe was en wat Jesus in die laaste dae gekom het om vir hulle op te rig.

Israel moes Jesus as hulle Koning aanvaar, dan sou die sewe jaar verdrukking aangebreek het met die Millennium koninkryk wat dit direk sou opvolg. Hulle was net so naby aan hulle beloofde Millennium koninkryk as wat hulle aan hulle beloofde land Kanaän was. Die Koning se boodskap aan hulle was: "Bekeer julle want die koninkryk van die hemele (Millennium koninkryk) het naby gekom" wat beteken dat die tyd vir die oprigting van die Millennium koninkryk aangebreek het.

Profesie verklaar dat Israel as nasie in die Millennium koninkryk 'n koninklike priesterdom sal wees wat God se seën aan alle nasies sal bedien (Gen 12:3; Jes 61:1; ens). Maar die Levitiese wet vereis dat voor die priesterlike amp opgeneem kon word, die priesters eers volgens die wet met water gereinig moes word (Ex 29:1-7; Num 8:7).

Toe Jesus na Israel gekom het was hulle geestelik in 'n vervalle toestand. Hulle was nie gereed vir hulle koninkryk en die amp nie. Hulle moes hulle eers bekeer en volgens die Levitiese wet gereinig word alvorens hulle as 'n heilige priesterdom die nasies kon bedien.
Wanneer hulle hul laat doop het, het hulle hul geloof in Jesus as hulle Koning verklaar. Hulle sou die koninkryk beërwe en die amp bedien terwyl die ongelowiges wat Jesus as Koning verwerp Jode verlore sal gaan. Dis hoekom Jesus gesê het "hy wat glo en hom laat doop, sal gered word; maar hy wat nie glo nie, sal veroordeel word" (Mark 16:16).

Ongelukkig het Israel as nasie Jesus gehaat en Hom as hulle Koning en Messias verwerp:

"Maar sy medeburgers het hom gehaat en ‘n gesantskap agter hom aan gestuur om te sê: Ons wil nie hê dat hierdie man koning oor ons moet wees nie." (Luk 19:40).

Die gevolg van hulle verwerping was dat Israel die bus gemis het. As gevolg van ongeloof hulle hul Millennium koninkryk gemis soos hulle hul beloofde land Kanaän as gevolg van ongeloof gemis het. God nie 'n ander keuse gehad het nie. Hy het Israel tersyde gestel en hulle Millennium koninkryk uitstel. In plaas van die Millennium koninkryk het 'n nuwe onbekende ongeprofeteerde dispensasie, die dispensasie van die genade van God in aanvang geneem waar hulle hul spesiale status verloor het.

Meeste gelowiges weet nie dat omdat Israel se beloofde Millennium koninkryk uitgestel is tot na die dispensasie van die genade van God, die koninkryk evangelie (wat gedien het om Israel vir die koninkryk voor te berei) ook gestop omdat dit na Israel se tersyde stelling en die uitstel van die koninkryk nie meer 'n doel gedien het nie. Sodoende het die waterdoop wat deel van die koninkryk evangelie was ook onnodig en doelloos geword.

23/08/2022

Hoekom het ek dit nie voorheen gehoor nie?

Baie weet nie dat ons vandag in die bedeling van genade leef nie, nog minder weet dat die bedeling van genade sy eie leerstellings en evangelie het en meeste het nog nooit gehoor van die openbaring van die verborgenheid nie en daarom het hulle ook nie 'n benul waaroor dit gaan en wat dit vir hulle beteken nie.

Alhoewel die verborgenheid soos gevind in die 13 briewe van Paulus reeds meer as 2000 jaar gelede geopenbaar is, is dit vandag vir meeste steeds 'n verborgenheid en daarom klou hulle vir lewe en dood vas aan Ieerstellings wat spesifiek aan Israel in die ou dispensasie van die wet gegee was. Die hartseer daarvan is dat mense na 'n leeftyd nog nooit hierdie kosbare en belangrike juweel in die Skrif ontdek het nie en as gevolg daarvan onkundig is met oor 'wie' en 'wat' hulle in Christus is en hoeveel geestelike rykdomme hulle in Christus het. Hulle is in geestelike armoede.

Meeste spandeer hulle hele lewe in die Ou Testamentiese boeke van Matteus, Markus, Lukas en Johannes sonder om te weet weet dat daardie boeke ons leer van redding vir die huis van Dawid, die Jode, alles dinge wat God van ouds af deur Israel se profete geopenbaar het:

“en ‘n horing van heil vir ons opgerig het in die huis van Dawid, sy kneg—
soos Hy gespreek het deur die mond van sy heilige profete van ouds af—” (Luk 1:69-70).

"maar God het op dié manier vervul wat Hy tevore verkondig het deur die mond van al sy profete, dat die Christus sou ly" (Hand 3:18).

Paulus maak dit duidelik dat die evangelie wat hy van die verheerlikte hemelse Christus ontvang het, anders as Matthéüs, Markus, Lukas en Johannes wat geprofeteer was, deur al die eeue heen totdat dit aan hom geopenbaar was 'n verborgenheid (geheim) was:

“en vir almal aan die lig te bring wat die gemeenskap is van die verborgenheid wat van alle eeue af verborge was in God wat alles geskape het deur Jesus Christus,” (Ef 3:9).

“naamlik die verborgenheid wat van die eeue en geslagte af verborge was, maar nou geopenbaar is aan sy heiliges,” (Kol 1:26).

"Maar ons spreek die wysheid van God, wat bestaan in verborgenheid wat bedek was en wat God van ewigheid af voorbeskik het tot ons heerlikheid" (1 Kor 2:7).

Gelowiges heg min waarde aan die belangrike boeke, Romeine tot Filémon wat die verdere en laaste openbaring van Christus aan die kerk as die liggaam van Christus bevat. Dit is omdat hulle vasgevang is in 'n doolhof van kerk leerstellings en oorleweringe van kerkvaders waarmee hulle groot geword het. Hulle is vandag die 'onkundige broeders' waarvan Paulus gepraat het. Hy verwys na hulle as mense "wat altyd leer en nooit tot die kennis van die waarheid kan kom nie" (2 Tim 3:7).

Die rede waarom dié openbaring van die verborgenheid steeds vir meeste bedek is, is omdat onkundige predikers nie daarvan weet nie en daarom ook nie instaat is om dit aan hulle lidmate te leer nie. Nog 'n rede is omdat Satan in vandag se bedeling van genade sy spitvurk opsy gesit het vir 'n wit kleed en homself verander het in die gedaante van 'n engel van die lig met die doel om geestelike misleiding te veroorsaak deur dienaars wat hy aangel het:

“En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in ‘n engel van die lig.
Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie...” (2 Kor 11:14-15).

Vanaf Paulus se tyd was daar 'n geweldige Sataniese aanslag wat juis daarop gemik is om die mensdom te mislei deur die heerlikheid en die oorwinning wat die evangelie van genade van God ons bied vir mense te bedek. Die gevolg is dat hulle ongelowig bly en verlore gaan:

“Maar as ons evangelie dan nog bedek is, is dit bedek in die wat verlore gaan,
naamlik die ongelowiges in wie die god van hierdie wêreld die sinne verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie.” (2 Kor 4:3-4).

Onkunde, misleiding en geestelike blindheid het kerke regoor die wêreld binnegesluip en daarom word Christus steeds aan die liggaam van Christus verkondig ooreenkomstig die Ou Testament, in plaas van ooreenkomstig die openbaring die verborgenheid:

"Aan Hom dan wat magtig is om julle te versterk volgens my evangelie en die prediking van Jesus Christus, ooreenkomstig die openbaring van die verborgenheid wat eeue lank verswyg is,
maar nou geopenbaar is... (Rom 16:25-26)

Die goeie nuus is dat dit nie te laat is nie. Jy hoef nie onkundig te bly nie. Jy kan nou begin om die verborgenheid te begin leer wat openbaar oor wat Jesus se dood, begrafnis en opstanding werklik vir jou beteken en al die veelvoudige geestelike seëninge wat dit vir ons inhou.

Laastens kan jy ook leer hoe om Jesus Christus te verkondig ooreenkomstig die openbaring van die verborgenheid wat eeue lank verswyg was, maar nou geopenbaar is (Rom 16:25-26) sodat jy ook soos Paulus jou opdrag kan uitvoer, en dit is "om aan almal aan die lig te bring wat die gemeenskap is van die verborgenheid wat van alle eeue af verborge was in God wat alles geskape het deur Jesus Christus," (Ef 3:9).

Lees hoe mooi stel Paulus dit:

"waarvan ek (Paulus) ‘n dienaar geword het volgens die bediening (Grieks - dispensasie) van God wat aan my (en jou) gegee is in julle (almal se) belang, om die woord van God te vervul,
naamlik die verborgenheid wat van die eeue en geslagte af verborge was, maar nou geopenbaar is aan sy heiliges (ons),
aan wie God wou bekend maak wat die rykdom van die heerlikheid van hierdie verborgenheid onder die heidene is, dit is Christus onder julle, die hoop van die heerlikheid" (Kol 1:25-27).

Address

Koos De La Reystr 215
Pretoria
0182

Alerts

Be the first to know and let us send you an email when NIKOS Theology College / Teologiese Kollege posts news and promotions. Your email address will not be used for any other purpose, and you can unsubscribe at any time.

Contact The Place Of Worship

Send a message to NIKOS Theology College / Teologiese Kollege:

Share