03/03/2020
#16 Hoekom is gesag nodig en hoekom is dit goed dat daar gesag is?
As ons kyk na die Tuin van Eden was gesag juis deur die Here daar geplaas om ons te beskerm, sodat ons kan floreer onder Sy gesag. Gesag in sy volmaakde vorm is liefde. Werklike opregte liefde gebruik gesag om te beskerm en te bewaar. Die rede hoekom n ouer vir sy kind n reël gee is omdat hy weet wat is die beste is vir die kind al weet die kind nie self nie. As ons weer onder die gesag van die Here kom sien ons weer die vernuwende genade omdat ons gemaak was om in Sy raamwerk te lewe. Sonde het gesag wel heeltemal verwoes, omdat die mens hom in God se plek wou plaas.
“En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip. En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape.”
GÉNESIS 1:26-27 AFR53
Hier sien ons dat God ons wel gesag gegee het, maar agv sonde misbruik ons dit tot ons eie gewin en nie tot eer van God nie.
“En die Here God het aan die mens bevel gegee en gesê: Van al die bome van die tuin mag jy vry eet, maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe.”
GÉNESIS 2:16-17 AFR53
Ons sien wel verder in die Ou Testament belowe God dat Hy self weer Sy wette (liefde vir Sy gesag) op mense se harte sal skryf. 'Ek sal my Gees in julle gee en Ek sal maak dat julle volgens my voorskrifte leef en my bepalings gehoorsaam en nakom.'
ESEGIËL 36:27.
Toe Jesus opgevaar het na die hemel is Sy Heilige Gees uitgestort op God se kinders. Dit is die vervulling van die belofte van Esegiël 36. Die Heilige Gees maak ons nuut en gee ons weer n gesag vir God en Sy voorskrifte. Daarom kan Paulus sê in 2 Korintiërs 3:3: "Dit is tog duidelik dat julle 'n brief van Christus is, deur ons diens geskrywe, nie met ink nie, maar met die Gees van die lewende God, nie op klip nie, maar op die harte van mense." Ons is nou gehoorsaam aan God se gesag en bly oor Sy gesag omdat ons gered en nuutgemaak is deur die Heilige Gees.