N.G. Kerk Plettenbergbaai

N.G. Kerk Plettenbergbaai Die NG Kerk Plettenbergbaai
Vanaf Bloukransrivier tot by Garden of Eden, dien ons die Here.

Die NG Kerk Plettenbergbaai dien die Here Jesus vanaf Bloukransrivier tot Garden of Eden, van diep in die berge tot teenaan die see. Daar is drie eredienste: Wittedrift, Plettenbergbaai en Nature's Valley.

13 September - Koninkrykstyd 16Genesis 50:15-21 Einde van sy lewe ... Josef vertrou steeds God.Psalm 103:(1-7), 8-13 Onv...
07/09/2026

13 September - Koninkrykstyd 16
Genesis 50:15-21 Einde van sy lewe ... Josef vertrou steeds God.
Psalm 103:(1-7), 8-13 Onverganklik is die liefde van die Here.
Matteus 18:21-35 Die “moeilike” (maar reguit) pad van vergifnis.
Romeine 14:1-12 Oordeel maar sag, want verantwoording wag.

Genesis 50:15-21 :
Die boek Genesis vertel vir ons van God wat beloftes maak ... en dit nakom. Dikwels kom die Here sy beloftes na ten spyte van ... ten spyte van mense ongehoorsaamheid; ten spyte van die verloop van tyd; ten spyte van onmoontlike omstandighede. Uit die verhaal van Josef - die selfversekerde en onsensitiewe dromer wat deur die Here ontwikkel is tot ‘n staatsman wat ontelbare mense van hongersnood gered het - is dit weereens duidelik naspeurbaar hoe die Here sy beloftes aangaande sy liefde vir en verbintenis aan die nageslag van Abraham tot volvoering bring. Ten spyte van Josef se broers se jaloesie; ten spyte van die moeilike omstandighede tydens sy slaweskap in Egipte; ten spyte van talle versoekinge; ten spyte selfs van sy oorweldigende suksesse; het die Here deur Josef gedoen wat Hy belowe het om te doen, naamlik om vir sy volk te sorg.

Een van die mooi dinge wat Genesis 50 ons aangaande Josef vertel is dat hy geheel sonder verbittering gesterf het. Die goue draad van God se plan met hom en deur hom het hierin ‘n belangrike rol gespeel. Josef kon aan die einde van sy lewe terugkyk oor al die swaar, al die terugslae, al die vernederings, al die suksesse, al die oorwinnings, en uiteindelik oor daardie lang geskiedenis heen alleen maar raaksien én daarop fokus dat die Here sy beloftes waar maak.

In sy afskeidsboodskap aan sy broers het Josef juis teenoor hulle getuig dat hy weet dat die Here nog steeds met die uitvoering van sy plan met Abraham se nageslag besig is; dat hy weet dat die Here nog steeds sy beloftes sal nakom. Dit was vir my besonders om by een Bybelkommentator te lees: “Joseph lived and died trusting in the promises of God”. Só het hy sy hele lewensreis verstaan: verlede, hede en toekoms gebou op die beloftes en die voorsienigheid van God.

Psalm 103:(1-7), 8-13 :
Bekende woorde, nie waar nie? Een van die redes hoekom hierdie verse vir ons so bekend is, is omdat dit dikwels in die erediens as dankgebed na die gebruik van die Nagmaal gelees word. Daardie is juis ‘n diep gelade oomblik in ons lewens, wanneer ons pas deur die brood en wyn bedien is, pas weer aan die eintlik onverwoordbare reikwydte van God se genade herinner is.

In die deel van Psalm 103 waarop ons hierdie week fokus, sien ons duidelik dat die digter amper nie genoeg oortreffende woorde en begrippe bymekaar kan sit om die ware omvang van die Here se genadige barmhartigheid (barmhartigheid wat uit sy genade spruit) te beskryf nie. Juis omdat ons weet dat ons elkeen straf (verwerping/vernietiging) vir ons sonde verdien, verstom (maak ons stil/sprakeloos) hierdie genade ons. Ons weet so goed dat ons dit nie verdien nie. En tog wil die Here ons so bitter graag van alle straf bevry. In vers 9 tot 12 wil dit lyk asof die digter se asem as’t ware weggewaai word deur die grootheid van die Here se genadewind. Hoe ver is die ooste vanaf die weste? Dit is mos onmeetbaar, die twee kan nooit bymekaar uitkom nie. Só ver wil die Here ons sonde weggooi ... dat dit nooit weer by ons kan uitkom nie, sodat ons nooit weer daarvoor verantwoording hoef te doen nie.

Op ‘n manier wil die digter ons eintlik laat lag ... lag van verstomming, lag van magtelose verbasing. Met die beelde wat hy gebruik wil hy ons iets laat ervaar van die grensloosheid van die Here se genade (... dink net vir ‘n oomblik oor die betekenis van die woord “grensloos” voordat jy verder lees). Jy kan nooit die bodem van die emmer van genade bereik nie. Dit is - met respek gesê - verspot oneindig.

Onthou jy die woorde van die bekende lied, Amazing Grace? “Amazing grace - how sweet the sound - that saved a wretch like me! I once was lost but now am found, was blind, but now I see.” Ons sing ook ‘n weergawe daarvan: “Genade, onbeskryflik groot het U aan my bewys: verlore seun - ’n wegloopkind - weer in die vaderhuis” (Liedboek 510). Psalm 103 vertel ook van dáárdie genade-sonder-grense.

Matteus 18:21-35 :
Toe Petrus aan Jesus gevra het hoeveel keer hy sy broer moet vergewe, het hy waarskynlik gehoop dat Jesus hom met ‘n haalbare getal sal help. Want, het Petrus waarskynlik gedink, Jesus is só ‘n deernisvolle en opofferende persoon dat Hy dalk in terme van vergifnis ook meer as die Joodse rabbi’s sal vra (hulle het geleer dat drie keer se vergewe genoeg is). Daarom het Petrus sommer by voorbaat sewe keer se vergewe aangebied. Petrus het ook maar gesukkel met dít wat ons gewoonlik mee worstel, naamlik dat ons nie omgee om ‘n paar keer (of ‘n tyd lank) te vergewe nie, want ons weet dit is reg en nodig. Maar ons sal darem graag wil weet wanneer ons ons voet vir ‘n slag kan neersit en sê: “Dit is nou genoeg. Die tyd om die minste wees is verby. Nou verhard ek my hart en hou my vergifnis vir myself.” Sal dit nie lekker wees om te kan weet dat daar ‘n punt kom waar selfs die Here tevrede sal wees indien ek iemand nie kan vergewe nie?

Die Here Jesus se antwoord op Petrus se vraag is verpletterend. Nie net vir hom nie, maar ook vir elkeen van ons. Die Here sê: “Vergewe sewentig maal sewe keer.” Daarmee het die Here Jesus beslis ook nie maar net 490 keer se vergewe bedoel nie, maar wel eerder vergifnis sonder grende. Die boodskap is duidelik: ons moet vergeet van tel. As ons nog op die vlak van tel en boekhou en berekeninge is, verstaan ons glad waaroor vergifnis gaan nie. Daarom het Jesus hierdie gelykenis vertel, om die saak vir ons nog duideliker te maak.

Ons kan onsself in albei die tonele in die gelykenis herken. In die troonsaal van die koning was ons ook al, want ons is self deur God so oneindig baie vergewe. Ons het genade ontvang ... genade sonder grense. Ons is totaal vergewe, ons skuld is totaal vrygestel. Maar ons kan onsself waarskynlik ook in die toneel buite die troonsaal herken, waar ons sukkel of sommer net doodgewoon onwillig is om ander mense te vergewe. Dit is ook dáár waar die Here ons vra hoekom sy vergifnis ons dan nie verander het nie, waarom ons die vergifnis wat Hy aan ons betoon het nie teenoor ‘n ander persoon wil of kan uitleef nie.

Romeine 14:1-12 :
Paulus gebruik drie argumente om die omgekrapte gemeente in Rome te begelei om verby hul verskille en irritasies met mekaar te kyk en hul eenheid in Christus te beleef.

Die eerste rede hoekom gelowiges mekaar met verskille en al moet aanvaar en liefhê, is: die Here aanvaar vir óns. In die derde vers van ons skrifgedeelte staan dat die Here elkeen van ons aangeneem het. Wanneer die Here iemand aanneem (inlaat, ontvang, liefhet, vergewe en aanvaar), kan ons nie anders as om dit ook te doen nie. Ons aanvaar mekaar, ons is lief vir mekaar, nie omdat ons dit verdien nie, of omdat ons persoonlikhede soveel met mekaar ooreenstem nie, of omdat ons met alles rakende geloof met mekaar saamstem nie, maar omdat die Here vir ons aanvaar het. Op grond van die feit dat Hy ons in sy liggaam ingesluit het, kan ons nie anders as om mekaar te aanvaar en mekaar lief te hê nie.

Die tweede rede hoekom gelowiges mekaar met verskille en al moet aanvaar en liefhê, is omdat ons vir die Here leef. Vers 7 en 8 verduidelik dit: “Niemand van ons leef tog vir homself nie, en niemand sterf vir homself nie. As ons lewe, leef ons tot eer van die Here; en as ons sterwe, sterf ons tot eer van die Here. Of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here.” Ons leef nie vir onsself nie. Ons glo vir onsself nie. Ons is nie deel van ‘n gemeente en geloofsgemeenskap ter wille van onsself nie. Ons totale geloofsaktiwiteit, van ons stiltetyd en gebede tot met ons deelwees en deelname aan die erediens, is ter wille van die Here. Ons doen dit vir Hom.

Die derde rede hoekom gelowiges mekaar met verskille en al moet aanvaar en liefhê, is omdat God alleen oor ons oordeel. In vers 10 tot 12: “Jy, waarom veroordeel jy dan jou broer? En jy, waarom verag jy jou broer? Ons sal tog almal voor die regterstoel van God moet verskyn, want daar staan geskrywe: ‘So seker as Ek lewe, sê die Here, voor My sal elke knie buig, en elke tong sal bely dat Ek God is.’ Elkeen van ons sal dus oor homself aan God rekenskap moet gee.”

Baie geluk!
07/09/2026

Baie geluk!

Ek wil die Here loof, met alles wat in my is, wil ek sy heilige Naam loof. Ek wil die Here loof en nie een van sy weldad...
06/09/2026

Ek wil die Here loof, met alles wat in my is, wil ek sy heilige Naam loof. Ek wil die Here loof en nie een van sy weldade vergeet nie.
‭‭Psalm 103

Daar is tans omtrent geen selfoonsein op Wittedrift nie. Dit het tot gevolg dat die oggenddiens om 10:00 waarskynlik nie...
06/09/2026

Daar is tans omtrent geen selfoonsein op Wittedrift nie. Dit het tot gevolg dat die oggenddiens om 10:00 waarskynlik nie op hierdie platform beskikbaar sal wees nie.

Al is die diens nou reeds verby, indien jy dink dat jy wel nog die Here Jesus in die diens kan ontmoet, hier is 'n skakel na 'n opname van die diens:

Erediens vir Koninkrykstyd 15

Ek wil graag my ondervindinge en indrukke deel na die pas afgelope nasionale Predikante SAAMkoms te Goudini. Ek deel egt...
03/09/2026

Ek wil graag my ondervindinge en indrukke deel na die pas afgelope nasionale Predikante SAAMkoms te Goudini. Ek deel egter eers hierdie artikel. Dit verwoord groot dele van my belewenis ook.

Die nasionale Predikante SAAMkoms het van 24 tot 28 Augustus 2026 by Goudini in die Wes-Kaap plaasgevind en sowat 700 NG predikante van regoor Suid-Afrika bymekaargebring. Dit was die eerste geleentheid van sy soort in meer as twee dekades. Oor hierdie paar dae kon kollegas van die kerk aanbid, leer...

Wittedrift Plaasbasaar!Vrydag 23 Oktober 17:30.
03/09/2026

Wittedrift Plaasbasaar!
Vrydag 23 Oktober 17:30.

‘n Storie wat ‘n gelowige laat dink oor sy/haar eie gedrag en die boodskap wat dit dra.
31/08/2026

‘n Storie wat ‘n gelowige laat dink oor sy/haar eie gedrag en die boodskap wat dit dra.

*6 September - Koninkrykstyd 15**Psalm 119:33-40* Daar is vreugde in die leef volgens God se wil.*Esegiël 33:7-11* Waars...
31/08/2026

*6 September - Koninkrykstyd 15*
*Psalm 119:33-40* Daar is vreugde in die leef volgens God se wil.
*Esegiël 33:7-11* Waarskuwing tot redding van lewe - bekeer julle!
*Matteus 18:15-20* Gelowiges se roeping om mekaar te vermaan.
*Romeine 13:8-14* Die liefde is die volle uitvoering van die wet.

*Psalm 119:33-40* :
Die groepie verse wat ons hierdie week in Psalm 119 lees verleen ‘n kosbare (maar ook interessante) perspektief op God se wet. En dit is dat ons lees van, luister na en leef met God se wet deur die Here aan ons _geleer_ moet word. Die psalmskrywer begin daarom ons skriflesing met die versoek (gebed) dat God self ons sal leer (1983-vertaling) en onderrig (2020-vertaling). Die Here is ons onderwyser, ons pedagoog. Dit gaan dus oor meer as bloot dat feite oorgedra word: ’n pedagoog help ’n leerder om te ontwikkel. Dit is nogal ‘n mooi perspektief, nie waar nie? Dat dit gelowiges se behoefte is dat die Here self ons sal begelei tot begrip aangaande sy wet (sy wil), dat dit die beste manier is vir ons om in sy wil te groei, is die geloofsaksie wat Psalm 119 vers 33 by ons wil aanbeveel.

Moderne gelowiges is geneig om een van twee foute rondom die verstaan van God se wet te maak. Aan die een kant is daar mense wat die wet verabsoluteer, amper ‘n afgod daarvan maak. Ons denke rondom die wet word so klinies en wetties (in Engels “legalistic”) dat dit op die ou einde die liefdesverhouding met God belemmer. Dit is hoekom Bybeluitleggers waarsku dat ons met die Here van die wet moet saam leef en nie net die wet op ‘n aanbiddingpilaar plaas nie. Onthou tog altyd dat die wet vanaf God kom, maar dat dit nie God self is nie. God is meer as die wet en daarom behoort ons op só ‘n manier met sy wet te reis dat dit ons verhouding met Hom verhelder en nie oorheers nie. Daarom is ons gebed dat die Here ons sal onderrig hoe om Hom in die wet te ontmoet en hoe om sy wil vir ons lewens te onderskei.

Die ander fout wat moderne gelowiges soms begaan is om die wet van God te oor-humaniseer. Met ander woorde: in plaas daarvan om dit as ‘n genadegawe van God aan ons te sien, iets wat met respek en versigtigheid bemeester moet word, maak ons dit ‘n versameling outydse reëls en regulasies wat ons ons slegs hoef aan te steur in soverre as wat dit ons eie perspektief op die lewe pas. Só ‘n siening doen ook nie reg aan die Here van die wet nie, want dit verhoog ons wil grootliks bó sy wil. Die maklikste regstelling vir beide hierdie mistastings is doodgewoon om nie die wet sonder die leiding en die onderrrig van ons Pedagoog aan te pak nie. Ons gebed bly altyd dat dit Here ons sal lei in die verstaan van sy wil, sodat sy wil (en dit is die oorkoepelende uitgangspunt van die volle Psalm 119) ‘n bron van vreugde vir ons sal wees omdat dit in ons lig en lewe skenk.

*Esegiël 33:7-11* :
Dit is vir ons nogal moeilik om dadelik gemaklik te voel met die woorde van ons kort skriflesing uit Esegiël 33. Op die oog af lyk dit of hierdie vyf verse moeilike vrae oor God se oordeel en vergifnis wakker maak.

Die beste manier die teks te benader is om vanaf die tweede woord - vergifnis - oor die eerste woord - oordeel - na te dink. Die profeet Esegiël se baie sterk klem op die God se oordeel word gedryf deur die Here se wens dat mense hulle sal bekeer (“repent”) sodat hulle nie onder die oordeel tot niet hoef te gaan nie.

Neem gerus kennis dat ons skrifgedeelte op ‘n manier die inleiding is vir die verstaan van die gebeure wat later in hoofstuk 33:21-22 vertel word, naamlik die nuus dat Jerusalem finaal voor die Babiloniese leërs geval het. Dit was juis van hierdie haglike situasie wat die Here sy volk wou bewaar en die rede hoekom Esegiël as profeet gestuur is om hulle te waarsku. God wou nie gehad het dat Israel in hul ongehoorsaamheid verhard nie, Hy wou juis aan hulle die weg tot ommekeer verduidelik, sodat Jerusalem nie aan die Babiloniërs oorgegee sou word nie.

Die waarskuwing aangaande die oordeel van die Here was met ander woorde ten diepste gerig op die inkeer van die gelowiges van Israel. Terwyl dit nie deel van ons oorspronklike leesteks is nie, kan jy gerus ook na vers 11 kyk: “Sê vir hulle: So seker as Ek leef, sê die Here my God, Ek wil nie hê die sondaar moet deur sy sonde sterf nie, Ek wil hê hy moet van sy optrede afsien en lewe. Bekeer julle, bekeer julle van julle bose optrede! Waarom wil julle sterf, Israel?” Dit is vir die Here onverstaanbaar hoekom mense in hul ongehoorsaamheid wil volhard. Daarom vra Hy “maar waarom wil julle sterf?” Die Here wil juis hê dat mense moet lewe ... en saam met Hom deur die lewe moet reis. Waarom sal iemand dit nie wil doen nie? Waarom sal iemand nie God se vergifnis, sy aanbod van genade, wil aanvaar nie?

As lesers van Esegiël 33 staan ons vandag nog steeds verbaas om te sien hoe dikwels mense kies om nie die genade van die Here te aanvaar nie. En treur ons saam met die Here oor elke mens wat uiteindelik - deur sy/haar verwerping van die oproep om die vergifnis/genade te ontvang - die oordeel kies.

*Matteus 18:15-20* :
In hierdie verse leer die Here Jesus vir sy dissipels hoe om ruimtes van versoening en genesing vir mekaar te skep. Praat is die sleutel tot herstel. Gelowiges kan nie bekostig om mekaar te “verloor” nie. Gelowiges kan nie bekostig om mekaar uit hul lewens te sluit nie.

Die Here gee aan sy dissipels drie wonderlike beloftes in hierdie verse. Aan gelowiges wat regtig nie kan bekostig om ander gelowiges gewoon uit hul lewens uit te sny nie, gee die Here die versekering dat ( *1* ) Hy aan sy kinders die onderskeidingsvermoë sal gee hoe om die ander persoon of persone terug te wen. Of jy nou die een wat die skade veroorsaak het en of jy die een is by wie die skade veroorsaak is ... die Here sal jou met insig en wysheid begenadig om daardie ander persoon, jou mede-gelowige, met ‘n ruimte tot genesing van julle verhouding te bedien. Hy sal jou help. Hy sal jou lei.

Want *(2* ) in sy teenwoordigheid ontwikkel genesende oomblikke. Dit is die tweede belofte, wat deur die 20ste vers aan ons bevestig word. Jy het hierdie woorde: “... want waar twee of drie in my Naam saam is, daar is Ek by hulle” waarskynlik al baie kere gehoor. Waar twee gelowiges met mekaar oor dit wat skeef geloop het, gesels, is die Here self daar om herstel en genesing te fasiliteer.

Daar is genadiglik altyd hoop in die konflik wat tussen gelowiges kan ontstaan. Die Here verseker ons ( *3* ) dat gebed genesende krag het. Wanneer ons vir mekaar se herstel, of die herstel van ‘n medegelowige wat kwaad of skaam-kwaad is, bid, sal God hoor. God skryf mense nie af nie. Ons moet vir mekaar bid. Ons moet vir mekaar bid as ons weet dat iemand vir ‘n ander kwaad is. Ons moet bid vir elke medegelowige wat verkeerd gedoen het, ook aan ons. Sodat hulle kan genees. Sodat ons weer die Here saam kan dien. Daarom is dit die Here se derde belofte aan ons: indien ons bid vir ‘n ander se herstel, sal God hoor.

*Romeine 13:8-14* :
Ons verse uit Romeine 13 leer ons dat omdat ons die liefde van die Here Jesus ontvang het en dit daagliks “gebruik”, het ons ‘n verantwoordelikheid om liefde ook met die mense rondom ons te deel. Ek “skuld” dit vir Here. En dit is ‘n “skuld” waaraan ek nooit klaar afbetaal nie. Verstaan mooi: die opdrag is nie om die liefde wat ek van Hom ontvang het met Hóm, die Here, te deel nie. Die opdrag van Romeine 13 is om die liefde wat ek van Hom ontvang met die mense wat op my pad kom te deel. Ek, wat sy liefde ontvang het en daagliks danksy vanuit daardie liefde leef, skuld die Gewer van daardie liefde die plig (die verantwoordelikheid) om daardie liefde aan ander uit te deel.

“Die liefde vat die wil van God saam, wat altyd vir alle gelowiges bindend sal wees”, skryf iemand oor Romeine 13 (Missio ’23). Hoor dit mooi duidelik: dit is die heilige, volkome wil van God dat gelowiges liefde sal leef. Doen ek dit nie, is ek ‘n dief ... ‘n liefdesdief.

Ons ken onsself. Ons weet wat in ons harte en gedagtes aangaan. Daar is mense (eintlik sommer baie mense) vir wie ons sonder twyfel baie liefde gee. Dit is ook nie vir ons moeilik om die Here se liefde met hulle te deel nie. Ons deel dit mildelik en gemaklik.

Maar daar is ook mense met wie ons die liefde nie so maklik deel nie. Dikwels dink ons bloot nie daaraan dat die mens wat oorkant my staan, of by wie ek pas verby geloop het, ook iemand is wat ek doelbewus met die liefde van Christus moet liefhê nie. Maar onoplettenheid is nie ‘n verskoning nie. Die opdrag van die Here waarvolgens ek leef laat nie ruimte vir verskonings of vergeetagtigheid nie. Ek mag nie liefde steel nie. Ek mag nie liefde weerhou nie. Ek mag nie net liefhê wie ek wil liefhê nie. Nie in die wêreld waarin ons leef nie. Ons tyd is te min. Dit is waaroor Romeine 13:11-12 waarsku: dat ons tyd besig is om uit te loop. Daar is nie meer ruimte om nagklere te dra nie. As gelowige kind van die Here, wat daagliks alleen maar deur sy liefde oorleef, kan ek nie bekostig om aan die slaap te wees nie. En selfsugtigheid of onoplettenheid of vergeetagtigheid oor die liefde is ‘n teken dat die slaap, die nag, besig is om my weer in te suig.

Daar is ook ‘n derde kategorie mens in my verwysingsraamwerk. Daar is mense van wie dit vir my baie moeilik is om die Here se suurstof met hulle te deel. Daar is mense vir wie ek doelbewus geen liefde het nie. Daar is mense wat ek eenvoudig weier om liefde mee te deel.

Ek kan egter nie kies wanneer ek liefde wil gee en wanneer ek dit wil weerhou nie. Ek kan nie besluit wanneer die liefde net vir sommige mense beskikbaar is nie. Ek skuld die Here om sy liefde aan my ook aan ander te bedien. Die skuld van die liefde word nooit klaar betaal nie; dit skuld die gelowige aan almal wat hy teëkom solank hy lewe.

Address

Kerkstraat In Wittedrift, Marineweg In Plettenbergbaai, Street Georgesrylaan In Nature's Valley
Plettenberg Bay
6600

Alerts

Be the first to know and let us send you an email when N.G. Kerk Plettenbergbaai posts news and promotions. Your email address will not be used for any other purpose, and you can unsubscribe at any time.

Shortcuts

Share