16/02/2025
Vanoggend sit ek en blaai deur die nuus en my oog vang weer die storie van die openlik gay imaam wat oor die naweek doodgeskiet is. Muhsin Hendricks, is sy naam. Soos ek die syorie verstaan, is hy doelbewus doodgeskiet vir geen ander rede as dat hy sy waarheid geleef het nie.
Opsigself is dit alreeds vir my ‘n skok en ‘n diep seer wat ek nooit regtig sal kan verstaan nie. Maar, ek maak toe die fout om die kommentare te lees. Kommentare van mede-Suid-Afrikaners én gelowiges. Ek lees haat, oordeel en mense wat lekker kry en juig oor die tragedie. Al wat ek d**k is: “Here wees ons genadig”. Dan vang my oog die een kommentaar…
“God has done it again!”
En ek kan nie help om te d**k: “what the actual f**k?” (Ja, dit is letterlik wat in my gedagtes opgekom het).
Hoe kan ons in 2025 nogsteeds so eng d**k en met (letterlike) moord wegkom? Hoe kan ons sien hoe ‘n medemens - ons naaste - koudbloedig vermoor word en dan skryf ons dit toe aan God? Watter God is dit wat mense laat doodmaak? Wie is die God wat jy aanbid?
Nie my God nie. Daarvan is ek oortuig.
Mense vra my baie hoekom ek so sterk standpunt inneem as dit net “moeilikheid” veroorsaak. Hierdie is hoekom.
So, ek hoop julle sit vanoggend heerlik vroom in julle tempels en geniet die gewydheid en die saligheid. Vanoggend sit ek in my binnekamer en ek huil - hard en lelik en rou.
Aan al my LGBTIQ+ vriende en geloofsfamilie - ek is jammer dat gelowiges (watter geloof ookal) so uiters liefdeloos kan wees. Mag julle liefde en behoort vind, by God, maar ook in gemeenskappe waar julle veilig is. En mag God dié wat nog nie verstaan nie vergewe. (Want, die Here weet ek sukkel vandag!)
“Wie sy naaste verag, doen sonde; wie medelye het met die mens in nood, met hom gaan dit goed.”
SPREUKE 14:21 AFR83