11/06/2024
OORDEEL / VEROORDELING (“JUDGEMENTAL”)
Vir baie van die hedendaagse mens is dit een van die grootste sondes om te oordeel of te veroordeel. As jy 'n argument wil wen verklaar jy bloot dat iemand “judgemental” is.
Dit is reg, die Bybel praat negatief oor oordeel en veroordeling. Die Bybel praat egter oor baie dinge en ons moet alles met mekaar in verband bring anders weerspreek die Bybel Homself en dit is bloot net nie moontlik nie.
Jesus hét gesê dat ons nie moet oordeel nie anders sal ons geoordeel word. Sy bedoeling was dat ons nie moet besluit is oor wie die ewige verdoemenis in die hel verdien en wie nie. As ons mooi daaroor nad**k is dit eintlik net so verkeerd om te sê dat iemand hemel toe gaan wat nie regtig in ons HERE Jesus Christus geglo nie.
Die hele nuwe Testament is vol daarvan dat ons, in liefde, verantwoordelikheid vir mekaar moet aanvaar. Ons moet die sondes van mense raaksien en hulle dan met liefde teregwys. Jesus het selfs aan ons gewys en die voorbeeld gestel dat ons ook soms mense ernstig moet aanspreek oor hulle sondes.
As ons Bybel lees, lees ons soms belangrike dinge net halfpad. Die man met die balk in sy eie oog wat die splinter in iemand ander se oog raakgesien het, moes die balk uit sy eie oog verwyder en dan móés hy die splintre in die ander se oog verwyder.
Lukas 6:41-42
[41] En waarom sien jy die splinter in die oog van jou broeder, maar die balk wat in jou eie oog is, merk jy nie op nie? [42] Of hoe kan jy vir jou broeder sê: Broeder, laat my toe om die splinter wat in jou oog is, uit te haal, terwyl jy self die balk wat in jou oog is, nie sien nie? Geveinsde, haal eers die balk uit jou oog uit, en dan sal jy goed sien om die splinter wat in jou broeder se oog is, uit te haal.
Een van die belangrikste kenmerke van ware gelowiges is om jou sonde voor God te bely. As ek my broer sien sonde doen sonder werklik berou kan ons redeneer dat ek ook skuldig word aan daardie sonde omdat ek nie genoeg liefde in my hart het om my broer op sy sonde te wys nie. Deur hom ongesteurd te laat voortgaan met sy sonde word ek ook vir daardie sonde verantwoordelik.
Ons móét oordeel oor die sonde, maar ons met baie, baie versigtig wees om nie die mens te veroordeel nie. Elke mens verdien om eendag voor Jesus se regterstoel veroordeel te word, tog het ons HERE Jesus Christus syne lief en vergeef hulle. As Jesus, wat nie 'n balk of splinter in sy oog het nie, kan vergewe en sondaars hemel toe neem, wie is ek om mense nie hulle oortredinge te vergewe nie.
Aan die ander kant as God so 'n haat en wrewel teen die sonde, slegte en bose het dat Hy ook die hel geskep het, durf ek nie ontsteld te wees, sou dit blyk dat my broer daarheen op pas is nie?