15/09/2026
Hartlike goeie môre!
Ek sit graag en hou mense dop, en dit lyk in baie gevalle of mense baie swaar dra aan die lewe. En ja, die lewe het baie uitdagings. Ons as kinders van die Here het wel ‘n groot voordeel in die sin dat ons die Heilige Gees in ons het, gevul met Sy krag en vrede.
Die Woord verklaar:
“Want die koninkryk van God is nie spys en drank nie, maar geregtigheid en vrede en blydskap in die Heilige Gees.”
Romeine 14:17 AFR53.
Ons dink soms dat God se seën hoofsaaklik gemeet word aan dit wat ons het, geld, besittings, gesondheid, sukses en gemak. Maar Paulus sê: God se Koninkryk gaan oor iets baie dieper.
Die Koninkryk van God word sigbaar in ons lewe deur geregtigheid, vrede en blydskap in die Heilige Gees.
GEREGTIGHEID: Ek staan reg voor God, nie omdat ek volmaak is nie, maar omdat Christus my geregtigheid geword het. Ek leef daarom anders, want ek behoort aan Hom.
VREDE: Dit beteken nie dat daar geen storms is nie. Dit beteken dat daar vrede binne-in my kan wees terwyl die storm rondom my woed. Jesus is steeds Here, selfs wanneer my omstandighede onseker is. My geloof en vertroue in Hom word openbaar wanneer die storms van die lewe kom, en jou “huis” bly staan, omdat jou huis gebou is op die rots.
BLYDSKAP: Christelike blydskap is nie bloot ’n emosie wat afhanklik is van goeie nuus nie. Dit is ’n werk van die Heilige Gees in ons. Ek kan deur ’n moeilike tyd gaan en steeds diep binne weet dat God is met my. God het my nie verlaat nie. My lewe is in Sy hand. Hy sal alles in my lewe neem en dit uitwerk tot Sy eer.
Ons jaag so maklik dinge na wat ons gelukkig moet maak. Maar ’n mens kan baie besit en geen vrede hê nie; of min besit en tog gevul wees met die vrede en blydskap van God. Jy kan in beide gevalle vrede hê wanneer jou hart en fokus reg gerig is.
Die Koninkryk gaan nie eerstens oor wat in jou hand is nie, maar oor Wie in jou hart regeer.
Wanneer die Heilige Gees jou lewe vul, begin die Koninkryk van God deur jou sigbaar word: jou woorde verander, jou houding verander, jou reaksies verander, jou verhoudings verander.
Vra jouself vandag:
Is daar geregtigheid in my wandel? Is daar vrede in my hart? Is daar blydskap in my gees?
Moenie vandag net méér van God se seëninge soek nie. Soek méér van God Self.
Die grootste bewys van die Koninkryk is nie wat ek besit, of nie besit nie, maar dat Christus in my regeer.
Mag Sy geregtigheid deur jou skyn soos ‘n sterk lig, mag die Heilige Gees se vrede jou lewe toevou, en mag die Heilige Gees se vreugde jou erfenis wees!
Groete, seënwense en liefde Wernich