14/06/2020
Liewe vriende, die teks van hierdie oordenking van ds. Deon Loots het die week baie vir my beteken. Baie liefde en seën!🙏🏻✝️
"En ons verheug ons ook in die hoop om deel te hê aan die heerlikheid van God. 3 Dit is egter nie al nie. Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, 4 en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop; 5 en dié hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het." (Rom. 5:2-5).
My kind, die woord wat hier met "verheug" vertaal word, kan ook beteken dat jy goed voel daaroor, trots is daarop om deel te hê aan My heerlikheid. Net so dan ook, om deel te kan hê aan swaarkry. Dit is net moontlik vir hulle wat werklik glo dat Ek betrokke is by hulle totale lewe. Die wat weet dat NIKS, maar NIKS in jou lewe sommer maar net met toeval gebeur nie. Dit beteken nie dat Ek alles in detail vir jou lewe beplan het en dat dit net eenvoudig afspeel volgens 'n voorafgeskrewe draaiboek nie. Dit beteken net dat Ek in alles by jou betrokke is, dat NIKS kan keer dat jy My steeds ervaar en beter leer ken nie.
Om trots te wees daarop of om daarop te roem, sê baie meer as om net verheug te wees. Dit sluit ook 'n element van dankbaarheid in, 'n besef dat jy eintlik bevoorreg word. Dat jy kan goed voel daaroor dat iets met jou gebeur, omdat jy spesiaal is in my oë.
Een van die belangrikste faktore om doelgerig te kan lewe, is hoop. Sonder hoop is dit baie moeilik om voort te gaan, om nog te beplan en te droom. Daar is dan die gevoel dat daar niks is om voor te leef nie. Hoop gee aan jou baie redes om te leef. Hoop hou vas aan die gedagte dat daar wel 'n sin en doel met alles is; dat God wel op pad met jou en die wêreld is; dat God wel mense se lewens kan en wil nuut maak. Hierdie hoop hou meer in as net 'n verwagting vir die toekoms. Dit word versterk deur die feit dat God alreeds sy liefde in ons harte uitgestort het toe Hy die Heilige Gees gestuur het om in ons te kom woon.
Dis belangrik om te sien dat hierdie hoop nie maar net 'n hoop is met geen werklike basis of grond nie; nie maar net 'n opgemaakte verwagting wat net sowel 'n illusie kan wees nie. Nee, dis 'n hoop wat nou reeds bevestig word deur werklike ervarings van die liefde van God wat jouself baie diep raak, jou hart verander, jou leer om strydbyle te begrawe, om op te hou aankla en beskuldig, om op te hou om vyande te soek en aan te val. Dit is 'n liefde wat jou lewe werklik diep aanraak en verander. Dit laat jou die hele werklikheid nuut sien, deur die oë van iemand wat weet dat God op pad is met die wêreld en dat Hy die hele kosmos met Homself versoen het. Daarom is daar hoop vir elke mens, ongeag wat sy of haar posisie op die oomblik is.
Niks kan hierdie hoop verander of verminder nie, want niks kan dit wat God gedoen het weer ongedaan maak nie. Hierdie hoop word hoe langer hoe meer bevestig, soos wat die liefde van God 'n al groter houvas op jou lewe kry. Soos wat die liefde jou alhoemeer verander en vernuwe en jou laat sien dat God sy liefde aan almal rondom jou wil wys.
Dit is juis deur swaarkry wat jy ook die egtheid van God se liefde op 'n baie dieper vlak ervaar. Dit is waar en hoe jy Hom leer ken as Iemand wat teenwoordig is, wat omgee en wat inderdaad betrokke is. Die egtheid van geloof is nie wat nodig is sodat jy gered kan word nie. Dit is die gevolg van die feit dat Ek jou gered het, regverdig verklaar het en My liefde in jou hart uitgestort het. Dit is slegs My liefde wat harte kan versag en verander, wat dan weer egtheid van geloof tot gevolg het. Geloof wat alleen maar gegrond en gevestig is in die liefde van God self. Dis nie so moeilik om te weet wat dit inhou nie. Jy weet immers dat die liefde nooit afkraak, verneder, verdag maak, veroordeel, blameer of seermaak nie. Liefde ontmoet mense waar hulle is, luister na hulle pyn en is dan bereid om 'n pad saam met hulle seer te loop. Dit bring 'n teenwoordigheid teweeg wat weer 'n ruimte skep vir genesing en herstel. In 'n atmosfeer van egte liefde en aanvaarding, kan altyd iets nuuts gebore word en genesing plaasvind.