10/09/2026
Donderdag
Teksgedeelte: Genesis 11:1-9
Tema: Van Babel tot die Nuwe Jerusalem
Wanneer ons die verhaal van die toring van Babel lees, klink dit aanvanklik amper asof die mens in sy taak sal slaag, om ‘n toring te bou wat tot in die hemel sal reik.
Maar dan verander die toneel skielik.
Ons aandag word weggevat van die toring en gerig op God. Hierdeur sien ons hoe klein die mag van die mens werklik is. Terwyl die mense onder op die aarde sekerlik met groot trots na hulle bouwerk gekyk het, lees ons in vers 5, “Die Here het afgekom om te kyk na die stad en die toring wat die mense vir hulle gebou het.”
In hierdie woorde is daar ‘n bietjie humor. Die mens dink hy bou iets besonders, wat tot in die hemel reik. Maar vir God is dit so klein dat Hy moet "afdaal" om dit behoorlik te bekyk. Vir die mens is hulle handewerk, die toring indrukwekkend, vir God is dit nietig.
Dan sien ons God tree op teen die mens, nie oor dat God bang is die mens word te magtig, of vrees die mens sal soos Hy word nie. Nee, God tree op oor dat Hy genadig is.
Dit klink snaaks – Hy straf, tog is dit genade. Hy jaag die mens wat teen hom rebelleer uit mekaar, juis om te verseker dat hulle nie dieper in rebellie teen Hom sal verval nie. Daarom verwar Hy hulle tale en sorg dat hulle verstrooi word oor die aarde, vers 9. So stuit die Here die mens in hulle sonde, en verseker God dat sy wil geskied. Daarom, wanneer God die mense in Genesis 11 oor die aarde verstrooi, is dit ‘n oordeel, maar terselfde tyd ook genade.
Dit is belangrik om te besef dat die verhaal nie hier stop nie. Want, sien wanneer God die mense in verskillende tale laat spreek en hulle so oor die wêreld heen verjaag, is Hy alreeds besig om sy groter plan, van ons redding en verlossing, uit te voer.
- Volle preek nou beskikbaar op ons Youtube kanaal. https://www.youtube.com/watch?v=Df8pLsFKfs0&t=46s