11/11/2022
📢 Afkondigings vir erediens Sondag 13 November om 09:00. Teks: Joh. 13:12-20. Die styl van Christus. “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, 'n dienskneg is nie groter as sy heer nie, en 'n gesant is ook nie groter as die een wat hom gestuur het nie (Joh. 13:16).”
Daar is ‘n bepaalde styl en voorbeeld wat gegee is met die evangelie, wat gegee is met Christus self en in die optrede van Christus. Dit beteken dat ’n Christen se woord nie met geweld en uit die hoogte tot mense kom nie, maar as ‘n woord wat gespreek word in diepe eenvoud. Hierdie styl behels dat ons in mense se wêreld inkom soos Christus in ons wêreld ingekom het. Soos Hy ingedaal het in ons vlees, so moet ons ‘n keer instap in ander mense se wêreld. Hoe lyk hierdie wêreld waar ons moet ingaan hier in Koringberg? Misdaad, dwelms, drankmisbruik, geweld, verkragtings, mishandeling, wanvoeding, verwaarlosing. Dit is alles ’n realiteit in ons dorpie. Ons moet die evangelie konkreet in hierdie vlees bedien. Ons kan nie net Bybels uitdeel en glo alles sal regkom nie. Ons sal onsself gedurig moet afvra wat dit beteken om kerk van die Here Jesus Christus hier in Koringberg te wees. Soos Christus in ons tyd in konkrete vlees ingegaan het, so gaan die ewige evangelie in die konkrete nood en behoeftes van elke tyd in om juis daarin die Woord van verlossing te wees. Dit benodig ’n bepaalde styl. Meer hieroor Sondag.
🚸Ons kategese sluit Sondag af met sertifikaat uitdeling in die erediens en afsluiting by Dessert Rose.
🎉Verjaarsdae: Hennie Pretorius 14/11.
🙏Ons kan in ons gebede d**k aan oom Apie Albertyn wat nou by die huis aansterk na ’n lang tyd in die hospitaal. Ook aan Louwtjie Bothma (Platvlei) wat in die hospitaal aansterk na ’n operasie en sy en tannie Elmarie se dogter en skoonseun wat in ’n ongeluk was. Ons hou ook die polisie, munisipaliteit, regering, onderwys en “almal wat hooggeplaas is” (1 Tim 2:2), ook in ons gebede, “sodat ons ‘n rustige lewe kan lei...” (1 Tim 2:2). “Verder, broeders, bid vir ons dat die woord van die Here sy snelle loop mag hê .” – 2 Tes. 3:1.
✝️Dit is vir ons ‘n voorreg om Sondag te mag deel in die vreugde van Glyn & Elana Pieterse met die doop van Heleen. Ons innigste seënwense vir die toekoms!
🗓Belangrike datums: 🖋 🚸Kategese afsluiting 13 November, Gemeentevergadering 20 November 🎶Kerssangdiens 27 November. Onthou asseblief dat daar die 27ste November geen oggenddiens is nie. Almal word gevra om asseblief moeite te doen om die gemeentevergadering (net na die erediens) by te woon oor die beroeping van ’n nuwe predikant.
🚪Deurkollekte 13 November: Plaaslike eiendomme
🏡Bybelstudie gaan Woensdag om 09:30 weer voort aan huis van Hester Truter (Hoofstraat 1).
🌾Oes dankoffers: Die oes dankoffers is die laaste insameling vir die jaar. Bydraes kan soos volg gemaak word: Stel asb. vir Lize of jou wykdiaken in kennis as jy ’n bydrae gelewer het sodat hulle kan opvolg.
BKB – NGK004
Afgri – 159304
Overberg – 15031
🎥Daar sal Sondag weer ’n uitsending en opname van erediens wees sowel as ’n Engelse teks van die preek.