03/09/2017
Die toer- Storie geskryf deur Chester Cleophas
Neem kennis dat hierdie storie slegs ‘n opsomming is van dit wat alles gebeur het, baie goed is uitgelaat en meeste is opgevang op kamera. Indien jy nog meer wil weet, vra enige lid wat op die toer was, hulle sal jou natuurlik kan vertel.
Die rit het begin in Hopefield en daarna is daar gery na Malmesbury en toe na Stellenbosch, ek is toe opgetel en so het my toer ook amptelik begin… Die bus is gepak met matrasse, slaapsakke en klere de lot. Dis uiteindelik die dag van die toer, glimlagte word gesien vanaf die agterste sitplekke van die bus tot voor by die bestuurder. Almal is in hul noppies, want die toer waarna almal so uitgesien het, is uiteindelik hier.
Dis lekker om weer almal se gesigte te sien om weer saam met die familie as een groep pret te he en meer van mekaar te leer. Vir my is dit immers een van die hoof doele van die toer- om die span met wie jy werk, beter te leer ken. Dan natuurlik ook die kos…
Die kos was afgeskop met ‘n lieflike hoenderpastei. Dit was vars, dit was lekker en toe nie meer. Die arme hoenderpastei het nie lank gehou voordat dit uiteindelik deur almal verorber was en ‘n nuwe tuiste in elkeen se maag gevind het nie. Die gesuis van stories kon gehoor word oral in die bus, deur kinders wat nou op vakansie was en volwassenes wat vir mekaar vertel van watter storie hul vir hul base moes vertel om ‘n paar dae af te kry by die werk.
Ons het toe ons eerste “pit-stop” gemaak op Caledon en almal het afgeklim en bietjie hul bene gestrek en gedoen wat hulle moes doen. Die bus is toe weer opgevuur en ons het ons rit verder voortgesit. Stadig maar seker het mense uitegeput geraak en hier en daar was ‘n uiltjie geknip (Die fotos sal duidelik wys wie wanneer geslaap het, so niemand kan beswaar aanteken nie). Ons het toe weer ‘n pit-stop gemaak voor ons Oudtshoorn toe geskuif het. Die manne was bietjie lus vir biltong en ons kry toe lekker vars biltong om bietjie die soutvlakke in die liggaam op te stoot. Die wind het verskriklik gewaai maar dit het nie die gees wat daar was enigsins negatief beinvloed nie.
Ek myself het toe self ‘n uiltjie geknip en toe ek my oë oopmaak het ons in Oudtshoorn arriveer. Ons het toe ‘n roetemars gehad na die St. Simon’s Anglikaanse Kerk. Daar was ons met ope arms ontvang deur die Jeug en die Kerkraad asook die Predikant. Dit was weer toe tyd vir eet en ons is toe bedien met ‘n lekker Kerrie. Mense se borde was skoongeeet.
Daarna het ou Jason ‘n paar gevleuelde woorde gespreek asook die Predikant van St. Simon’s. Ons is rerig goed ontvang en almal het sommer onmiddellik tuis gelyk en gevoel. Brother Louis het ons toe vermaak met sy kitaar en lede het gejuig terwyl hy lofsange gespeel het met sy kitaar. Vriendskappe is gebou met die mense van Oudtshoorn... Mens kon natuurlik net nie anders as om aan hulle lippe te hang nie, daardie aksent was net baie uniek.
Ons het toe die Saterdag ons toer voortgesit na die CP Nel museum in Oudtshoorn waar ons bietjie kon leer oor die geskiedkundige agtergrond van die beeldskone dorp asook meer kennis kon opdoen oor eeue-oue tradisies van ons land, meer spesifiek die geskiedenis van die volstruis. Die Khoi en die San is twee voorbeelde van geskiedkundige gebeurtenisse waarvan ons kon leer, of waarmee ons onsself mee kon verenselwig. Met dit wat ons op skool geleer het of tans leer. Dit was ook interessant om te sien hoe Standard Bank destyds hul sake gedoen het en hoe die wereld besig is om te verander. Verandering is defnitief aan die orde van die dag en dit kan somtyds vir die beswil van die mensdom wees. Dit tref toe my net weer dat mens nooit te oud sal wees om te leer nie toe ek al die volwassenes sien staar na die memorabilia van destyds. Paar mense soos Staff Sersant Maarman kon selfs bietjie vertel van wat hulle destyds gedoen het.
Na die museum het ons geskuif na die High Gate volstruisplaas, so ongeveer 10 km buite Stellenbosch. Hierdie was defnitief vir my persoonlik die hoogtepunt van die toer. Ons toergids vir die dag, Adam, het ons hier sommer gou welkom laat voel. Tydens die toer deur die plaas kon mens sien hoe almal aan sy lippe gehang het. Hierdie is ‘n man wat duidelik geweet het waarvan hy praat, want hy het nie eenkeer vasghehaak of getwyfel deur die hele toer nie. Hy het duidelik sy storie geken! En soos ons mense maar is, het hulle sommer onmiddellik sy aksent opgetel en die manier hoe hy inligting aan ons weergegee het. Alles die was natuurlik vasgevang op kamera deur ons “photographer”. Hier was duidelik herinneringe gemaak wat ‘n leeftyd met almal sal bly.
Adam het toe klaar sy gedeelte gedoen en ons het toe weer ons rit voortgesit na George, Pacaltsdorp. Hier het ons eers die Mall in George besoek en paar van die mense het verversings gaan kry vir die lang nag wat nog voorgelê het. Iemand het toe weer hier besluit dat dit ‘n goeie idee sal wees as ons ons name op die bus moet skryf met tandepasta en skoen politoer. Die bus is toe gekleur met almal se name op die kante en ons het toe geskuif na Pacaltsdorp.
Op Pacaltsdorp is ons toe met ope arms ontvang deur die lede van die St. Albans Brigade asook hul Predikant. Ons is toe weer bedien met ‘n lekker Kerrie en natuurlik was daar nogsteeds stories vertel van wat tot op daardie punt al gebeur het op die toer, Adam en sy volstruise was natuurlik aan die orde van die dag onder die stories. Die aand het lede lekker saam gekuier en ‘n sterker band is tussen almal gevorm. Lede van die toergroep het tot laat die aand nog gesels en stories vertel, met die wete dat hulle die volgende oggend 4uur moes opstaan. Die aand het toe stadig maar seker tot ‘n einde gekom nadat mense se wiele een vir een uitgeval het.
Sondagoggend net na vier het almal opgespring om die nuwe dag te begin. Almal was mooi netjies geklee in of hul Brigade uniform of hul sweetpakke/T-hemde. Die bus is weer sonder moeite gepak en ons het toe geskuif na Sedgefield, waar ons weereens ‘n roetemars gehou het tot by die kerk. Dit was defnitief ‘n belewenis om te sien hoe ‘n ander Regiment se Brigade dinge doen en eintlik genotvol om te sien dat ons eintlik maar baie soortgelyk dinge doen. Die diens was geseend en die verwelkoming wat ons in die kerk ontvang het, was ook goed. So hier en daar was daar ‘n uiltjie geknip in die Kerk, maar dit het nietemin gou verbygegaan. Na die Kerkdiens het ons weer ‘n roetemars gehad terug veld toe waar ons na dit weer in die bus geklim het sterk op pad na Rheenendal waar ons met ‘n lekker middagete bedien was (lede se lippe het weer geblink). Ons het ook bietjie ons talente in die strate van Rheenendal gewys en sommer ‘n groot skade gelok. Die middag het ons aan die Sangmiddag deelgeneem en die Junior- en Senior Band het 2 items respektiewelik gelewer. Hier was daar weereens ‘n video-opname gemaak deur ons “photographers”.
Ons het toe geskuif na Hornlee waar ons deur St. James kerk ontvang is en vir die oorgeblewe 2 dae was dit ons tuiste. Die aand is ons bedien met ‘n lekker warm hamburger met chips en die aand het almal weer lekker saam gekuier. Die aand was gou verby toe moegheid ingeskop het en mense een vir een hul ogies toegemaak het.
Maandag het ons weer dou voor dag wakker geword en ons nuwe toergids, Aiden, het vroeg sommer almal se aandag gehad met sy toertjies met die drum major staff asook sy bugle-vernuf. Hy het natuurlik die jonger spanne aan sy lippe laat hang met sy duisende stories van toe hy in die Brigade kom aansluit het en hoe hy huidiglik 30 jaar in die Brigade is. Ons het toe eers gereis na die Waterfront waar ons bietjie rondgestap het en die mooi uitsig oor die see geniet het. Daarna het ons toe gereis na The Heads, waar ons kamstige toergids veronderstel was om ons bietjie touwys te maak en ons die toppunt van The Heads moes wys. Ons het toe die toergids agtervolg maar stadig maar seker kon ons sien dat in plaas van ‘n hoër punt, ons eintlik op pad was na die laagste punt moontlik. Mense het nietemin hulle nogsteeds geniet en dit was nogsteeds herinneringe wat gemaak was. Ons het toe daarna Leisure Isle toe geskuif waar ons lekker op die strand verkeer het en bietjie touch rugby gespeel het. Die agtermiddag was ons bietjie bederf met ‘n lekker Original Spur Burger, mense het weer hul vingers afgelek vanwee die lekkerte van die burgers. Ons is toe weer terug na Hornlee, waar ons almal reggemaak het vir oudergewoonte tradisie van die Brigade, ‘n Konsert. Almal was opgewonde oor wat op die program was, die seremoniemeester was natuurlik in top vorm en het vining almal bymekaar gekry om die kosert aan die gang te kry. Daar was weereens beeldmateriaal geneem en dit sal natuurlik jaar na jaar oorgespeel word en almal sal weer lekker saamgelag.
Die laaste dag van die toer het toe aangebreek en almal is toe weer vroeg oggend wakker en kry toe hul goed bymekaar. Die bus is weer vining gepak en ons skuif toe na Mosselbaai waar ons bietjie op die boot van Bartholomeu Dias geklim het, waar ons weereens geskiedkundige inligting ontvang het. Ons het ook die skilpies museum besoek en lede hul hulself gate uit geniet. Die toer is toe afgesluit met ‘n besoek aan ons Predikant, waar ons bedien was met lekker koue koeldrank. Die toer het toe tot ‘n einde gekom.